Logo
VeranderDinge
web uni tv guide

VeranderDinge

144LeefstylPG13

Nuwe aanbieder vir VeranderDinge

Nuus
26 September 2017
Amore Bekker neem eersdaags die leisels oor by Ruda Landman.
VeranderDinge

Ruda Landman, wat die afgelope twee jaar Sondagaande aanbieder van VeranderDinge was, oorhandig binnekort die leisels aan Amore Bekker van Tjailatyd-faam op RSG.

VeranderDinge, met Eloise Cupido as die mede-aanbieder, was die afgelope twee jaar en drie seisoene propvol onderhoude en wenke wat kykers inspireer om positief na verandering te kyk. Dit word geborg deur BrightRock, verskaffer van pasgemaakte lewensdekking wat verander soos jou lewe verander.

“Ek het my tyd op VeranderDinge, en my terugkeer na Sondagaand televisie, baie geniet,” sê Ruda. “Die program het nog altyd ’n vars benadering tot die leefstyl-televisiegenre gehad, en dit was ook ’n groot voorreg om dieper in van ons gaste se groot veranderingsoomblikke te delf. Die tyd het aangebreek om by ander projekte betrokke te raak,” vertel sy verder.

Amore is veral bekend as aanbieder van die gewilde middagprogram Tjailatyd op RSG, waar sy oor die afgelope 13 jaar in luisteraars se harte gekruip het. Dit sal haar eerste verskyning as TV-aanbieder in meer as 20 jaar wees.

“Ek is baie opgewonde om met VeranderDinge voor die kameras in te skuif, omdat ek sedert die eerste seisoen ’n groot aanhanger was. Alles waarvan kykers tot dusver gehou het gaan steeds daar wees, maar ons het ’n paar veranderinge aangebring om dit vars te hou. Verandering is immers die tema van die program!”

Seisoen 4 skop op Sondag, 8 Oktober af met Amore wat met Ruda oor die groot veranderingsoomblikke in haar loopbaan en lewe, en toekomsplanne gesels. En as deel van haar Ruda Talks Change-onderhoude op BrightRock se Change Exchange, gesels Ruda met Amore oor die draaipunte in haar lewe.

“Ek het groot skoene om vol te staan! Dit was heerlik om met Ruda te gesels, en veral gepas om dit vir die eerste episode te doen,” sê Amore.

Ruda het ook in ’n korter onderhoud in Afrikaans met Amore oor die komende seisoen van VeranderDinge gesels. Kyk die video hier. 


VeranderDinge saai vanaf 8 Oktober, elke Sondag om 18:00 uit op kykNET, DStv-kanaal 144 uit.