Logo

Nog ’n porsie Ouboet en Wors op pad!

Nuus
06 September 2018
Lees meer.
Ouboet en Wors 2018

kykNETters kan uitsien na nog ’n seisoen van die gewilde komediereeks Ouboet en Wors wanneer dit in Oktober weer op die lug is.

Ouboet van Tonder en Wors Visagie is soos, wel, pap en wors of snoek en patats. Pure komedie met sy wortels stewig in Suid-Afrikaanse grond geplant. In die nuwe seisoen, wat op 8 Oktober begin, is daar ’n nuwe gesig wat vir die plesier gaan sorg – Eldon van der Merwe is te sien as Elvis Prinsloo.

“Ek is die nuwe vakleerling by Fix-it wiff Ouboet,” sê Eldon. “Elvis is baie handig as dit kom by die regmaak van elektroniese toestelle soos ’n Xbox of ’n dekodeerder en is dus die perfekte handlanger vir Ouboet wat meer kennis het van hardeware. Saam kan hulle nou enige ding fix.

“Die karakter is baie spelerig en dit laat my toe om sy verbeelding en sy idee van ’n grootmens-wêreld in te kleur. Sy onskuld laat my toe om hom opwindend en nuuskierig te hou, en dit is vir my die lekkerste uitdaging.”

Hugh Masebenza is weer te sien as Fogile. “Fogile hou van wat Fogile hou,” sê Hugh oor sy karakter. “Hulle sê soort soek soort, en Fogile se soort is hyself. Elke huis het sy kruis, en Fogile is die kruis. Maar met al sy dinge hou ek van hom. Hy is pret om te speel omdat hy so anders as ekself is.”

Die res van die rolverdeling is terug in hulle rolle: Frank Opperman is Ouboet van Tonder, Willie Esterhuizen is Wors Visagie, Lizz Meiring is Molly Visagie, Sally Campher is Yollie van Tonder, Liane Heyl is Boeboe, Kaz McFadden is Hendrikkie van Tonder en Wynand van Vollenstee is Gielie Goosen.

Kykers ontmoet reeds in die eerste episode Ouboet se nuwe ‘appy’, maar Gielie is bekommerd oor hoe dit sy salaris gaan beïnvloed. Intussen is Hendrikkie groen van jaloesie, omdat iemand dan die seun gaan wees wat sy pa nog altyd wou gehad het. Boeboe se Dakota is nog so onhebbelik soos altyd, en Yollie is op ’n missie omdat haar seun ongelukkig is. Met ander woorde: Die gewone pret en plesier in die lewe van Ouboet en Wors.

Moenie ’n oomblik misloop nie. Skakel in vanaf 8 Oktober 2018, om 20:00 op DStv-kanaal 144 vir Ouboet en Wors. Gesels saam op FacebookTwitter en Instagram met die hutsmerk #OuboetenWors.