Logo

Nóg ’n internasionale toekenning vir Krotoa

Nuus
09 Oktober 2017
Krotoa wys dalk nie meer op die grootskerm nie, maar het reeds sy 9de internasionale toekenning opgeraap!
Krotoa-Awardwinning

Die rolprent Krotoa het op 1 Oktober die toekenning vir “Best Narrative Feature” by die Montreal International Black Film Festival in Kanada ontvang. Carpinteros, deur José Maria Cabral, Kalushi – The Story of Solomon Mahlangu, deur Mandla Dube, en Dabka, deur Bryan Buckley, is ook vir dié toekenning benoem.

“Ons kan nie méér geëerd voel dat dié belangrike verhaal oor ’n ongelooflike vrou in ons geskiedenis hierdie toekenning ontvang het nie,” het die regisseur, Roberta Durrant, gesê.

Krotoa is verder die openingsfliek van die Toronto South Africa International Film Festival, wat op 14 en 15 Oktober in Toronto, Kanada, gehou word. Skrywer Kaye Ann Williams en aktrise Crystal-Donna Roberts (Krotoa) gaan via ’n Skype-oproep vanuit Suid-Afrika vrae oor die rolprent beantwoord.

Boonop gaan Shoreline Entertainment (VSA) die film dwarsoor die wêreld versprei.

Krotoa gaan vanaf 1 Desember op DVD in Suid-Afrika beskikbaar wees.

Krotoa is vervaardig deur Penguin Films, in samewerking met kykNET, Die Nasionale Rolprent- en Videostigting (NFVF) en die Departement van Handel en Nywerheid (DTI).