Logo

Net so 'Tussen Ons'...

Nuus
02 Mei 2018
Een van die dae kan kykers regskuif vir ’n heerlike kuier saam met Zelda la Grange, Kay Karriem, Tracey Lange, Ingrid Jones en Success Lekabe.
Tussen Ons

Vyf vroue, vyf opinies, een onderwerp en ’n gehoor – ’n geselsprogram met ’n verskil wat vanaf Julie 2018 op kykNET&kie te sien is!

Net so...tussen ons – Tussen Ons is die splinternuwe, weeklikse geselsprogram op kykNET&kie waarin Zelda la Grange, Kay Karriem, Tracey Lange, Ingrid Jones en Success Lekabe die wêreld se probleme gaan oplos.

Dis ’n weeklikse saamkuier, saampraat, saamlag wegbreek-uur waar vyf formidabele vroue ’n bietjie gaan gesels oor die dinge in die wêreld wat vir jou belangrik is. 

Verskeie kwessies gaan aangeraak word, waarby veral vroue gaan aanklank vind.

Tussen Ons is elke Donderdagaand om 20:00, vanaf Julie 2018 op kykNET&kie.  

 

’n Bietjie meer oor die paneellede:

Zelda la Grange


 

Ons ken Zelda as Madiba se regterhand. Sy was vir 19 jaar aan sy sy.

Zelda is in 1970 in Pretoria gebore. Na haar sekondêre opleiding, voltooi sy ’n drie-jaar nasionale diploma. Sy begin haar loopbaan in 1992 by die Departement van Staatsbesteding, en in 1994 doen sy aansoek vir kantoorwerk – by die eerste demokraties-verkose president.

In 1999 het president Mandela vir Zelda gekies om aan te bly in sy diens, ná sy aftrede. Zelda was, saam met prof Jakes Gerwel, die enigste ander stigterslid van die post-presindensiële kantoor van meneer Nelson Mandela, vanwaar die Nelson Mandela-fonds gestig is.

Zelda het president Mandela in verskeie kapasiteite gedien oor die 19 jaar, insluitend dié van uitvoerende persoonlike assistent, woordvoerder, bestuurder van aandeelhouerverhoudinge, aide-de-camp en bestuurder van sy private kantoor, tot en met sy dood op 5 Desember 2013.

Sy is deur verskeie organisasies vereer vir haar toewyding en diens aan Madiba. Sy dien tans as die beskermvrou vir die First for Women-fonds, nie-uitvoerende direkteur van die nie-winsgewende organisasie, Healing Hands, en dien jaarliks as die koördineerder van Bikers for Mandela Dag.

Tussendeur inspireer sy steeds met haar motiveringspraatjies. Haar memoir, Good Morning, Mr Mandela is in 2014 gepubliseer en was ’n topverkoper in Suid-Afrika en Brasilië. Die boek is alreeds in tien tale vertaal en word tans verwerk vir die silwerskerm deur anti-apartheid-helde, Joe Slovo en Ruth First se dogter, Shawn Slovo.

Kay Karriem

Zydia Cheryldeen, oftewel Kay Karriem, is die redakteur van die gewilde en geliefde Kuier-tydskrif, wat gemik is op Afrikaanssprekende vroue. Die tydskrif poog om vroue praktiese en realistiese raad te gee oor alledaagse dinge soos finansies, loopbane, verhoudings, ouerskap en gesondheid. Kuier publiseer ook bekostigbare mode-, skoonheids-, dekor- en kos-items.

Die vyf dinge waarsonder Kay nie kan klaarkom in die winter nie, is mielie-en-boontjiesop, Vicks, kaneel, Corenza C en die KuierCombo.

Tracey Lange

Tracey Lange is gebore en getoë in die pragtige Somerset-Wes. Sy beskryf haarself as spontaan, lief vir mense en iemand wat kan dink op haar voete.

Sy was onlangs te sien as aanbieder van M-Net se Dancing with the Stars, en is ook ’n geliefde aanbieder op die kykNET-leefstylprogram, Bravo!, waar sy met die land se bekendes op die rooitapyt en agter die skerms kuier. Tracey is nou ook deel van die KFM-span, en luisteraars kan weeksdae van 9:00 tot 12:00 saam met haar kuier.

In haar vrye tyd werk sy as vrywillige as produksiebestuurder en aanbieder vir NAC TV, ’n gemeenskapskanaal in die Wes-Kaap wat poog om ’n positiewe boodskap na die gemeenskap te bring.

Ingrid Jones



Ingrid Jones beskryf haarself as iemand wat redigeer vir ’n lewe, sjampanje drink wanneer sy kan, whiskey drink om te ontspan, graag nie-fiksie lees en verpes mense wat nie groet nie. Sy sê verder dat dit geen toeval is dat sy in Drama-straat woon nie.

Ingrid is in Bonnievale gebore in 1962 en het sedertdien al die uithoeke van die land besoek en liefgekry.

Sy is die stigter en besturende direkteur van Mikateko Media, wat bekend is vir sommige van Suid-Afrika se briljantste publikasies, en ook redakteur van Mango Juice – die bekende Suid-Afrikaanse lugredery, Mango, se tydskrif. 

Ingrid ondersteun graag sake wat haar na aan die hart lê, soos die bevegting van geweld teen vroue en kinders, en uiterse armoede. Sy sê haar superpower is haar BS-verklikker en dat haar taalonderwysers die grootste invloed op haar lewe gehad het, omdat dié haar die selfvertroue gegee het om haar stem dik te maak.

Verder droom Ingrid oor ’n wêreld waar dinge soos Vrouedag of Vrouemaand nie nodig sal wees vir vroue om raakgesien te word nie. Sy sê jong vroue wat verandering aanmoedig, maak haar trots om ’n Suid-Afrikaanse vrou te wees.

Success Lekabe

Success Lekabe is sedert 2012 reeds ’n bekende stem op die radiogolwe. Sy is al beskryf as die vrou met die fluweelstem, en was ook al beskryf as die vrou met die goue, stroopsoet stem op die lug. Sy is boonop ses tale magtig – Setswana (wat haar moedertaal is), Engels, Afrikaans, Sesotho, Zoeloe en ’n bietjie Xhosa.

Sy is in Potchefstroom gebore en getoë, het daarna ’n draai in Bloemfontein en op OFM gemaak, en bevind haar tans in die Kaap, agter die mikrofoon van Bok Radio. Success klink self verbaas oor die pad wat die lewe sover met haar gestap het, en vertel skertsend dat sy eintlik net wou netbal speel. Sy het op ’n stadium selfs vir die Proteas uitgedraf as verdediger. Na skool het sy menslike bewegingskunde en sielkunde by Puk studeer met ’n netbalbeurs.

Sy beweer dat haar ma waarskynlik na Roxette se “Dressed for Success” geluister het, toe haar naam gekies is. Haar volle name is eintlik Success Katlego Aletta Tia Lekabe, en ’n skoolvriend het haar daarop gewys dat haar voorletters SKAT spel.

Success sê sy glo dat daar baie krag in ’n mens se naam lê, en dat daar al verskeie seëninge oor haar uitgespreek is met die noem van haar naam.