Logo

Nadia Beukes is swanger

Nuus
25 Februarie 2018
Bekende aanbieder en akteur Nadia Beukes en haar man, David de Villiers, verwag hul eerste kleinding.
Nadia-Beukes-en-David-de-Villiers

Fotograaf: Hanri Human

Die paartjie, wat 10 September 2016 getrou het, het onlangs dié goeie nuus aan kykNET bevestig nadat hulle dit ontvang het.

Volgens Nadia, het haar beste vriendin haar een Desemberoggend uit die suide van Frankryk gekontak en gesê sy het gedroom Nadia is swanger. Nadia sê dat, hoewel sy nie dadelik daarop gereageer het nie, dit haar tog laat wonder het.

“Ek en David het einde 2017 begin gesels oor ouerskap en gedink ons sal kyk wat gebeur in 2018, maar nooit gedink ons sal so vinnig swanger raak nie.”

’n Week later, een dag voor Kersfees, het sy ’n swangerskaptoets by die huis gedoen en die goeie nuus was bevestig. “Ek het die uitslae bewaar en besluit om dit toe te draai as ’n Kersgeskenk wat ek vir David op Kersdag gegee het toe ons alleen was vroeg die oggend. Hy was omtrent verbaas en verskriklik bly.

“Vandaar, voor ons vir nog mense vertel het, wou ons eers als bevestig met bloedtoetse. Uiteindelik, so paar dae later toe als op papier bevestig was, kon ons die nuus met ons ouers, naaste familie en vriende begin deel.”

Nadia sê dat sy van die begin af geweet het David is ’n familieman, en dat hy baie graag ’n gesin van sy eie wou hê. “Sy reaksie toe hy hoor ons gaan amptelik met ons eie gesin begin was gevul met vreugde en dankbaarheid, én opgewondenheid,” vertel sy. “Hy wou sommer dadelik begin doeke en babaklere aanskaf, en vir die hele wêreld die goeie nuus vertel.”

Sy vertel ook dat David hope ondersteuning en liefde bied. “Hy probeer vir my gesonde kos maak, maar is ook bereid om minder gesonde kos te maak wanneer ek lus is daarvoor.

“Hy het ook dadelik lid geword van [allerhande] ‘baby-apps’ en stel my gereeld in kennis van waar ons, volgens die apps, trek in die swangerskap, hoe kleintjie ontwikkel, die simptome wat ek moontlik gaan ervaar en wat ek kan doen om beter te voel as ek moeg of naar raak.


Hare en Grimering: Gerlia Muller (MakeMeUp) met Strands of Love-haarverlengings. Klere: Zelmarie Du Preez (Preez Design)

Nadia bieg, en sê dat sy ook ten einde aangesluit het. Sy vertel dat sy hierdie apps vir alle nuwe ouers aanbeveel wat op soek is na raad, interessante inligting en video‘s oor die ontwikkeling van jou baba, sowel as bemoediging van ander swanger vrouens wat hul stories deel. “Ek gebruik die Baby Centre-app, en die What to expect-app,” wys sy uit.

Tot dusver is die mees onlangste sonar, waartydens Nadia en David uiteindelik ’n “hele klein mensie” kon sien, vir haar ’n hoogtepunt.

“As ek nie naar of moeg is of heeltyd badkamer toe wil gaan nie, wonder ek of die peanut nog okay is, maar toe ons als op daardie scan sien, was ek van vooraf net herinner aan God se groot genade en die wonderwerk wat besig is om te gebeur.”

Oor babaname vertel Nadia dat sy en David gaande is oor die idee van familiename, en dus vir hul kind, dogter of seun, ’n naam wil gee met ’n ”nalatenskap en betekenis waarop hy of sy kan trots wees”. ”Ons het ’n baie mooi opsie vir ’n dogtertjie en ook ’n goeie een vir ’n seuntjie,” sê sy. “Maar watter een van toepassing gaan wees, sal ons maar nog moet wag en kyk – ons behoort later die jaar meer sekerheid te hê.”

Ouerskap is ’n opwindende toevoeging tot dié geliefde paartjie se lewens. “Eerder as om ons lewens nou tot stilstand te roep, gaan ons poog om ’n ritme te vind waarin ons mekaar en ons kind altyd ’n prioriteit sal maak, maar veral ook mekaar ondersteun om ons individuele passies uit te leef en aanhoudend ons drome na te streef.”

Volgens Nadia bid sy en David vir ’n gesonde, gelukkige baba. Sy sê ook dat sy en David hoop om vir kleinding ’n lewe te bied waarin hy of sy “die beste weergawe van hulself” kan wees.

“My grootste droom vir hierdie kind is dat hy of sy voluit sal lewe.”

Die kykNET-span is baie opgewonde oor Nadia en David se pad voorentoe, en wens aan dié paartjie alle geluk en voorspoed toe.