Logo

’n Regte mense-mense storie

Nuus
26 Januarie 2018
Verfilming vir die nuwe kykNET-komedie, Mense Mense, het sopas in Johannesburg begin. Dié nuwe sitkom gaan oor ’n groep vriende wat hulle lewens deel deur saam te werk, kuier en woon – alles sommer in een gebou.
Mense-Mense

Mense Mense bring bekende gesigte voor én agter die kamera bymekaar, en word vir kykNET deur Nouvanaand Films (Hartstog, Hotel I & II en Wonderlus) vervaardig.

Bobby van Jaarsveld, bekend as sanger en aanbieder, staan sy karakter Rossouw se skoene vol, en sluit by dié laslapfamilie aan as sy karakter se huwelik op die rotse loop. Rossouw klop by sy ou universiteitsvriende Julian (Solomon Cupido) en Liesl (Crystal-Donna Roberts) aan om ’n nuwe lewe in die groot stad te begin.

Met haar speelse en ontydige gekonkel, verseker Mientjie (Sandra Prinsloo), die gebou eienaar, dat Rossouw in haar mikrobrouery op die grondvloer van die woonstelblok begin werk. Sy neem ook haar susterskind, Salomé (Lea Vivier), onder haar vlerk wanneer sy haar werk as rep van ’n plaaslike distilleerdery verloor. Julian en Sebastian (Reynardt Slabbert) bestuur hul app, Mense, saam in die kelder van die gebou, en Liesl droom van ’n wit rok terwyl sy vraestelle merk en vir haar lesse voorberei.

Mense Mense lê die wipplankrit van vriendskap, verhoudings en volwassenheid bloot, maar bowenal die onwrikbare liefde tussen vreemdelinge wat familie geword het.

Die geliefde akteur en regisseur, Pierre van Pletzen is aan die stuur agter die kamera’s van Mense Mense, en word ondersteun deur bekroonde teater regisseur Nico Scheepers wat na die spelleiding omsien.

Die skrywersspan, onder leiding van Elanie Rupping, het in samewerking met Van Jaarsveld, wat die oorsponklike konsep aan kykNET voorgelê het, die nuwe sitkom ontwikkel. Wikus du Toit (Proesstraat, Parlement Parlement) was verantwoordelik vir die teksregdigering.

Hier is die volledige rolverdeling:
Liesl Klein – Crystal-Donna Roberts (Krotoa, The Endless River)
Julian De Wee – Solomon Cupido (Pad na jou Hart, Ballade vir ‘n Enkeling, Die Kasteel)
Rossouw Breytenbach – Bobby Van Jaarsveld (In jou Skoene, Liefling)
Salomé Muller – Lea Vivier (Binnelanders, Wonderlus)
Sebastian Ackerman – Reynard Slabbert (Bravo!, Liefling, Getroud met Rugby)
Mientjie Van Den Berg – Sandra Prinsloo (Paw Paw vir my Darling, Oscar en die Pienk Tannie, Die Seemeeu)

Mense Mense word vanaf Maandag 9 April op kykNET (DStv-kanaal 144) om 20:30 uitgesaai. 

TYDGLEUFVERANDERING: Nou elke Maandag om 20:00.