Logo

’n Nuwe aanbieder vir Ontbytsake!

Nuus
15 September 2018
Leer ken die nuwe Ontbytsake-aanbieder van nader.
Ontbytsake_Leon Gropp

Die bekroonde kitaarspeler Leon Gropp sluit by die Ontbytsake-span as aanbieder aan.

Die span sluit die ekonoom Dawie Roodt, mede-aanbieder Eloise Cupido en die voormalige Kokkedoor-deelnemer, Renette Vosloo, in.

Dié tydskrif-styl televisieprogram, wat Suid-Afrika en naburige Namibië deurkruis om klein-en mediumbesighede die geleentheid vir televisieblootstelling te gee, kuier al vir jare in ons sitkamers. Die klein- en mediumsake-ondernemings kry televisieblootstelling terwyl die kyker terselfdertyd aan die land en sy sakemense voorgestel word. Dié wenkombinasie verskaf uitstekende, ingeligte en vermaaklike kykplesier.

Meer oor Leon Gropp

Leon is al van jongs af versot op musiek en het, vir so lank as wat hy kan onthou, in kore en ander sanggroepe gesing. Hy het egter eers in matriek vir die eerste keer met die kitaar kennis gemaak en was dadelik verlief. Die Pretorianer het die professionele wêreld van musiek amptelik betree as deel van ’n mansgroep, Hi-5, wat die land platgetoer het en selfs ’n optrede saam met Nataniël gehad in die Royal Albert Hall in London. In 2007 het hy deel geword van die kitaarduo, CH2, wat oor die afgelope tien jaar ’n hele rits toekennings gewen het, waaronder Vonk-, SAMA- en Ghoema-toekennings vir Beste Instrumentele Album, en ook by die grootste feeste in die land opgetree het.  Hy het ’n Woordtroffee vir sy konsep-album ROOIDAG (NP van Wyk Louw getoonset en gesing) ingepalm gedurende 2018, maar het egter onlangs besluit dat dit tyd is om sy solo-sangloopbaan ’n kans te gee en sy eerste solo-enkelsnit, en musiekivdeo vir BAKENLIG vrygestel.  Dit het nie net vir die luisteraars ‘n nuwe kant van hom gewys nie,  maar ook vir dié talentvolle musikant ’n stewige plek, as sanger gevestig in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf.

Wanneer hy nie op die verhoog is nie, is hy ook betrokke by ’n program wat personeel binne groot besighede help om verandering te hanteer. Saam met veranderingsbestuurkenner, Jaco Boëttger, reis hy die land en wêreld vol om mense in die werkplek te inspireer. Verder is hy ook ’n pa en man, wat dit geniet om tyd saam met sy gesin deur te bring.

As jy hom uitvra oor sy gunstelingmusiek, verklap hy: “Ek is maar ’n sucker vir goeie harmonie. So enige musiek waarop ’n mens lekker kan harmoniseer, is vir my mooi. Daar is ’n magdom plaaslike musikante wat my daagliks beïnvloed en inspireer, soos Joshua na die Reën, Elvis Blue, Coenie de Villiers, Loki Rothman en die lys gaan aan.” Internasionaal is dit kunstenaars soos Sting, Coldplay, U2 en vele ander wat ook ’n groot invloed gehad het op sy musiekstyl. 

Ontbysake saai Saterdagoggende vanaf 07:30 – 09:00 op DStv-kanaal 144 uit. Hou ons platforms dop en gesels saam op FacebookTwitter en Instagram met die hutsmerk #Ontbytsake.