Logo

Mooimaak 2: Hier is die deelnemers

Nuus
01 Augustus 2018
Ontmoet die elf deelnemers.
Mooimaak 2

Clare Wiese-Wentzel se baanbrekerreeks Mooimaak neem eersdaags weer elf vroue op ’n inspirerende mooimaakreis.

Net soos met die eerste seisoen word deelnemers se lewens getransformeer met die beste en nuutste nie-chirurgiese kosmetiese behandelings, estetiese tandheelkunde, grimeerwenke, vars haarstyle en nuwe uitrustings.

Die tweede reeks sluit ook die nuutste tendense in gesondheid, gewigsverlies, sielkunde en meditasie in. En, boonop is Mooimaak se deelnemers dié keer van regoor Suid-Afrika – van Durbanville tot Alberton. Kykers kan veral uitsien na ’n meer intieme blik en meer dramatiese transformasies.

Mooimaak se nuwe seisoen beloof om weer opwindend, insiggewend en, soos altyd, inspirerend te wees,” vertel Clare. “Ons ontmoet  vir die eerste keer deelnemers in hulle eie wonings, waar ek ook met hulle naaste familielede gesels.”  

Volgens haar gaan die transformasies wat ervaar word, ver verby die uiterlike.

“Daar was ’n paar deelnemers wat met baie moed, openlik met ons oor persoonlike hartseer en trauma gepraat het.”

Hier is 2018 se deelnemers:



Coreen Cronje (67) van Durbanville
Coreen is vanjaar Mooimaak se oudste deelnemer. Sy het met haar unieke styl altyd gesorg vir kleurvolle uitrustings. Clare en haar span help haar om weer haar ou self terug te kry na meer as 15 jaar in ’n huwelik van mishandeling.



San-Marie Aucamp (26) van Hermanus
Mooimaak se jongste deelnemer het weekliks al die pad van Onrus gery vir haar afsprake in die Kaap, haar klein dogtertjie en ouers styf teenaan as haar gelukbringers en steunpillare. Haar transformasie het baie meer as net die fisiese behels – sy het werklik  geblom en aan die einde van die proses is sy ’n vrou met baie selfvertroue, wie nie terugstaan vir enige iemand nie. Clare het dié enkelma gehelp om haar menswaardigheid en selfvertroue terug te kry na jare se boelie op skool.



Liana van den Berg (55) van Pretoria-Noord
Liana se sterk geloof en die bystand van haar toegewyde man het haar deur hierdie proses gedra. Ongelukkig het sy deur die jare haar sprankel verloor en as gevolg van ’n lae selfbeeld teruggetrokke geraak. Die Mooimaak-span gee vir haar raad en ondersteuning om weer daardie selfvertroue terug te kry. Sy het deur die proses aansienlik gewig verloor, ophou rook en ’n ongelooflike transformasie ondergaan.



Bridget Petersen (49) van Dennemere 
Bridget is ’n baie gedissiplineerde deelnemer en het voorgeneem om die Mooimaak-proses ten volle te vertrou. Een van haar hoogtepunte was die rok wat Errol Arendz vir haar ontwerp het vir haar 50ste verjaarsdag. Iemand wat aan die begin van die proses vir ons vertel dat sy net op die bank wil sit en skyfies eet, is nou gesondheidsbewus en in ’n vaste oefenroetine.



Claudine Fallen de Jager (27) van Alberton
Claudine is een van Mooimaak se jonger deelnemers wie met baie moeilike lewensomstandighede grootgeword het. Ten spyte van haar geskiedenis wat die wangebruik van pille en selfmoordneigings insluit, het sy vir die Skin Renewal dokters ten volle vertrou om haar deur die proses te lei. Sy is vasberade om vir haar dogtertjies wys hulle ma kan ook weer met selfvertroue deur die lewe gaan.



Marisa Janse van Vuuren (49) van Parklands
Marisa se tande was die een ding wat haar die meeste oor haarself gepla het. Dr JJ Serfontein het haar drome laat waar word met ’n indrukwekkende verbetering. Clare het haar voorgestel aan ‘Transcendental Meditation’ (TM) en Marisa leer hoe meditasie jou lewensgehalte drasties kan verbeter. Mooimaak is Marisa se eerste stap in die soeke na ’n nuwe liefde.



Annelise Swanepoel (60) van Centurion 
Annelise van Gauteng se humorsin en unieke persoonlikheid gaan die kykers dadelik aangryp. Sy is een van Mooimaak se ouer deelnemers, maar staan nie terug vir enige iemand of iets nie. Sy sal graag weer ’n man in haar lewe wil verwelkom, maar voel ook dat sy ’n onafhanklike vrou is. Clare het van die begin af gevoel dat Annelise oor die ondertoon en beenstruktuur beskik om pragtig te lyk, en haar transformasie laat nie in die steek nie.



Elmarie van Zyl (55) van Vredendal
Elmarie van Vredendal het haar voorkoms laat gaan na die tragiese dood van haar seun. Clare en haar span help vir Elmarie om weer mooi te voel en maak haar ook touwys oor hoe ’n mens se dieet jou psigiese gesondheid kan beïnvloed en verbeter. In Elmarie se episode is daar ook informasie vir die kyker oor hoe ’n gesonde dieet ’n wye mediese impak kan hê, soos hoe die uitsny van suiwel en suiker inflammasie kan verminder, of selfs voorkom.



Karin Smith (59) van Springs
Die sportiewe Karen van Springs het ná ’n fietsongeluk haar voorkoms laat gaan. Met haar groot gesin wat bankvas agter haar staan, het sy die Mooimaak-maraton aangepak. Sy gaan ook vir ’n slaapstudie by Skin Renewal om seker te maak ons help met haar transformasie op alle vlakke.



Aneline van Reenen (39) van Kuilsrivier  
’n Hoogtepunt vir Aneline was toe sy by Elbeth Gillis se studio kon trourokke aanpas. Sy het geen foto’s van haar troudag jare gelede nie, so die Mooimaak-span gaan by hierdie groot dag, wanneer haar transformasie onthul word, “troufoto’s” neem met haar en haar man.



Sonnette Nothnagel (47) van Strand
Sonnette lyk en voel baie goed. Haar dogter (gebore uit Sonnette se verkragting jare gelede), het haar aangemoedig om in die program oor haar ondervinding te praat en om uiteindelik iets vir haarself te doen. Deur die proses het sy besef hoe haar storie ander kan help en sy gaan na afloop van die program ’n beraderskursus deur Life Line doen om sodoende ander vrouens ook te kan help.

Mooimaak keer terug na DStv-kanaal 144 op 9 Augustus 2018 om 20:00. Moenie die opwindende nuwe seisoen misloop nie. Gesels saam op FacebookTwitter en Instagram deur die hutsmerk #Mooimaak te gebruik.