Logo

Minki maak geskiedenis!

Nuus
26 Januarie 2018
Wat lê voor vir Minki Joubert? Ons het gaan uitvind.
Minki Groet

Foto deur Claudia de Nobrega

deur Jan-Hendrik Botha

In die afgelope twee jaar het Minki Joubert ’n huishoudelike naam geword wat nou, aan die einde van seisoen tien van Boer Soek ’n Vrou, sinoniem is met die woord liefde. Dié geliefde aanbieder, wat Suid-Afrika tydens seisoen nege en tien deurkruis het en twintig boere se soeke na liefde gevolg het, het van die staanspoor af volksbesit geraak en diep in ons kykers se harte geklim.

Aan die einde van episode sewentien het kykers Minki bedank vir haar aanbieding van ’n wonderlike seisoen. Sommige kykers het gesê dat sy natuurlik en outentiek teenoor die deelnemers was, en ander het haar aangewys as beste aanbieder sedert die begin van die reeks.

LEES OOK: MINKI DEEL GOEIE NUUS

Nou, met haar en haar man se derde pienkvoet op pad, het Minki besluit om meer tyd by die huis te spandeer. Ons het by haar en haar twee dogters, Katerien en Elise, gaan kuier om meer uit te vind:

  1. Wat is sover die lekkerste deel van jou swangerskap?
    Die feit dat die dogtertjies ook baie opgewonde is oor baba nommer drie. Hulle soen die heeltyd my maag. Hulle is baie bewus van die baba wat kom, en belowe om baie mooi te help en die beste twee ouer sussies te wees.
     
  2. En die slegste deel?
    Daar is regtig nie ’n slegte deel nie. Dit is net so ’n groot voorreg en seën om swanger te kan wees. Ek geniet elke oomblik.
     
  3. Weet julle al wat die geslag is?
    Ons weet wat die geslag is, maar ons hou dit ’n geheim.
     
  4. Waarna sien jy meer uit, en waaroor is jy minder opgewonde?
    Ek sien baie uit om te sien hoe die babatjie gaan lyk, en soos wie. Ek dink dié baba gaan [sy of haar] eie mens wees, en ek kan nie wag om dit te sien nie. Ek is minder opgewonde oor die min slaap wat voorlê, maar dit is alles deel van die groot lekkerte om ’n mamma te kan word vir ’n derde keer.
     
  5. Natuurlik is dit soms moeilik om ’n loopbaan en ouerskap perfek te balanseer. Wat dink jy?
    Dit is baie moeilik om dit perfek te balanseer, maar ek dink tog mens kan. Die kinders en my man bly my prioriteit. Solank dit jou prioriteit bly, en jou werk net ’n bysaak, kan jy dit balanseer. My gesin is vir my baie belangrik. Om te werk ook, maar op die einde van die dag kom my gesin en kinders eerste.
     
  6. Wat is die waardevolste ding wat jy by jou ouers geleer het?
    Dat familie baie belangrik is, om altyd nederig te bly en om altyd sonskerm te dra.
     
  7. Wat is jou grootste droom vir jou kinders?
    Om hulle in staat te stel om goed gebalanseerde jong mense te wees wat streetwise, tog Godsvresend is. Ek wil hulle toerus met vlerke sodat hulle eendag sal kan vlieg, en altyd sal kan terugkom huistoe.
     
  8. Enige vreemde ‘cravings’?
    Ek is baie lus vir soetgoed.
     
  9. Sien Katerien en Elise uit na baba nommer drie?
    Hulle is verskriklik opgewonde, en ek dink albei van hulle gaan in hulle eie hoedanigheid vir my soveel hulp en bystand bied. Ek is regtig baie, baie opgewonde om te sien hoe hulle ook dit gaan hanteer en hoe hulle die nuwe babatjie gaan geniet.
     
  10. Hoe bly jy fiks en gesond tydens jou swangerskap?
    Om eerlik te wees, is ek bietjie lui met hierdie swangerskap, veral met die hitte. Ek probeer maar nie ooreet nie, en gebalanseerd eet, hoewel ek myself met ’n soetdingetjie of ’n roomysie hier en daar bederf. Ek probeer ook baie water drink sodat ek nie te veel kilos aansit nie.

Minki kyk terug op twee besondere jare vol kinkels en opwinding – kyk die video hier onder:

Ons groet vir Minki

By die reünie van Boer Soek ’n Vrou seisoen tien het Minki aangekondig dat sy nie meer die aanbieder van dié gewilde reeks sal wees nie. “Vandag is vir my ’n bittersoet einde, want so lekker as wat die plaaspaaie is, het ek besluit om meer tyd by die huis te spandeer saam met my gesin,” het sy gesê. “Baie dankie vir ’n ongelooflike twee jaar met herinneringe wat ek vir altyd na aan my hart sal dra.”

Ons het saam met haar teruggeblik op die reis tot hier:

  1. Som jou twee Boer Soek ’n Vrou-seisoene op in drie woorde.
    Uitdagend. Leerskool. Opwindend.
     
  2. Wat is vir jou ’n hoogtepunt uit elke seisoen?
    Dis regtig moeilik om een hoogtepunt uit te wys, want daar is so baie en ek dink as ek elke keer hierdie vraag gevra word, verwys ek na die goed wat agter die skerms gebeur. En ons skryf nie die sukses van ’n seisoen toe aan of daar liefde gevind is of nie. Dit gaan oor die hele reis wat die boere meemaak – en natuurlik ons ook. Dis al die ervarings, en bloed en sweet wat ons as span meemaak om die produksie op die been te kry vir almal om dit op die TV saam met ons te deel.
     
  3. Watter boer sal jou altyd bybly en hoekom?
    Dis moeilik om ’n uitsondering te maak. Vir my is Hennie en Jacobu natuurlik ’n baie spesiale couple, net weens die omstandighede en hoe hulle ontmoet het; dat sy oorspronklik nie vir hom geskryf het nie, maar ook dat dinge so mooi vir hulle uitgewerk het.

    BLAAI DEUR: HENNIE EN JACOBU SEËL HUL BOERELIEFDE 
     
  4. Op watter plaas het jy jou hart verloor en hoekom?
    Hierdie jaar was dit definitief Loeriesfontein – Boer Jacques se plaas en omgewing. My oupa het daar grootgeword. My grootjies is begrawe op Loeriesfontein, so die wêreld en sy mense is regtig vir my baie, baie spesiaal. Dis sout-van-die-aarde-mense en dit sal altyd vir my baie spesiaal wees.
     
  5. Wat lê voor vir Minki?
    Ek is opgewonde om te sien wat 2018 vir my inhou, wat God vir my beplan het vir my loopbaan en waar hy my wil gebruik; en ook, waar hy wil hê ek moet met hierdie loopbaan gaan. Natuurlik is die babatjie nou dadelik op die horison. Daarom sien ek uit om [hom of haar] te geniet en dat die baba net veilig in hierdie wêreld inkom. Sodra die baba hier is, sal ek fokus op werk. Ek is opgewonde om te sien wat vir my voorlê. Ek het geen twyfel dat wat ook al dit sal wees, dit ongelooflik sal wees, en dat dit sal wees waar die Here my wil gebruik.

    BLAAI DEUR: WAT N SEISOEN

Alle enkellopende boere en plaasbestuurders, manlik of vroulik, word uitgenooi om in te skryf vir seisoen elf van Boer Soek 'n Vrou – kliek hier

Dankie aan al ons kykers vir die saamkyk en ondersteuning! Volg ons op FacebookTwitter en Instagram, en gesels saam by #GroterBeterBoer en #BoerSoeknVrou.