Logo

Meester-towenaar Dynamo eersdaags in SA

Nuus
17 April 2018
Hier is wanneer Dynamo Suid-Afrika sal besoek vir ’n reeks vertonings.
Dynamo

Foto: Getty Images

Ses jaar gelede was hy nog ’n onbekende towenaar wat in ’n arm woonbuurt in Engeland gewoon het. Vandag is Dynamo wêreldbekend met sy eie TV-program, ’n topverkoper boek en derduisende aanhangers.

In Mei kan Suid-Afrikaners sy goëlery, towery en oëverblindery van nader beskou wanneer hy die land vir ’n reeks vertonings besoek.

Dynamo se toertjies is legendaries. Hy het al op die water van die Teemsrivier, en aan die kant van ’n gebou in Los Angeles geloop. hy het voor die Christusbeeld in Rio de Janeiro gesweef en het die uitslag van die sokkerwêreldbeker korrek voorspel. Nou kan Suid-Afrikaners dié merkwaardige meester-towenaar beleef wanneer hy sy Seeing is Believing Live SA Tour vir die eerste keer na Suid-Afrika bring.

Dynamo, wie se geboortenaam Steve Frayne is, is bekend vir sy TV-reeks Magician Impossible waarin hy tien lande, onder meer Suid-Afrika, besoek en mense met sy toertjies verstom het. Hy het in net ’n paar jaar ’n internasionaal-bekende towenaar geword. Sy TV-program is in 180 lande gewys en het in totaal 400 miljoen kykers gehad. Hy is die eerste towenaar wat in die bekende O2-stadion in Londen opgetree het, en is ’n ontvanger van die Member of the Inner Magic Circle with Gold Star, ’n erkenning wat aan slegs 300 towenaars wêreldwyd toegeken is.

“Ná vier reekse van Magician Impossible was ek reg vir ’n nuwe uitdaging. Ek was ook lank reeds lus om my program na die verhoog te neem,” sê Dynamo. “Die verhoogproduksie bied vir gehore ’n ervaring soos nooit tevore nie. Ek kan nie wag om Suid-Afrikaanse gehore met my toertjies te verstom nie.”

Seeing is Believing was aanvanklik beplan as ’n reeks van tien optredes, maar het eindelik ’n jaarlange wêreldtoer van 127 optredes en 600 000 kaartjies wat verkoop is geword. In Engeland alleen is 400 000 kaartjies verkoop, en die toer na Australië het uitverkoop met meer as 100 000 kaartjies wat verkoop is.

Dynamo het ’n rits bekendes wat aanhangers van sy oëverblindery is. Brad Pitt, die model Kate Moss en die Britse kunstenaar Damien Hirst het van sy konserte bygewoon, en die sokkerspeler Cristiano Ronaldo en die musiekvervaardiger Jay-Z het beide vir Dynamo vir privaatfunksies gehuur.

“Almal het iets magies, iets magic, in hulle lewens nodig,” sê Dynamo. “Dit bring hoop en ’n sin van ongeloof wat ons soms in ons alledaagse lewens verloor.”

Dynamo se Suid-Afrikaanse toer skop by die Sun Arena by Time Square, Menlyn Maine in Pretoria op Vrydag 11 Mei om 20:00 af. Daar is nog konserte op Saturdag 12 Mei om 15:00 en 20:00, as ook ’n konsert op Sondag 13 Mei om 15:00.

Daar is ook drie vertonings in Kaapstad: Vrydag 18 Mei om 20:00 en Saterdag 19 Mei om 15:00 en 20:00. Die vertonings is by die Grand Arena by GrandWest.

Kaartjies vir al die vertonings is by Computicket beskikbaar. Skakel 0861 915 8000, of kliek hier. Jy kan ook na jou naaste Computicket-tak toe gaan om jou kaartjies te bespreek. Besoek die Showtime-webblad, of Dynamo se webblad vir meer inligting oor die vertonings.

Dynamo se Seeing is Believing Live SA Tour word na Suid-Afrika gebring deur Showtime Management met ondersteuning van Phil McIntyre, CAA en Inner Circle Films, en in samewerking met die mediavennote 94.7, KFM en kykNET.