Logo

Mari-Louis oor kinders en die kombuis

Nuus
18 April 2018
Só gaan dit in ons Koekedoortjie-beoordelaar Mari-Louis Guy se eie kombuis!
Mari-Louis gesin

FOTO: Mari-Louis Guy en haar pragtige gesin

Mari-Louis Guy beoordeel weekliks kinders se gebak in die gewilde koswerklikheidsreeks, Koekedoortjie. Ons hoor haar goed sê soos: “Oor die algemeen sou ek gehou het van meer vlavulsel” of “die binnekant is darem maar pragtig!” Maar hoe gaan dit tuis in haar eie kombuis wanneer die kameras ophou rol?

Buiten vir die tien Koekedoortjies is Mari-Louis ook ma vir Max (13), Ethan (8) en Sophia (6).

Ons vra haar hoe vaardig haar kinders in die kombuis is op ’n skaal van 1 tot 10, en sy antwoord eerlik: “Minus? Ag dis moeilik om te sê, want hulle is heel oulik met bak, veral Sophia is vir haar ouderdom baie geïnteresseerd. My twee seuns, veral saam, is verspot en gek en maak my paniekerig wanneer hulle soos ridders die kombuis betree. Vol bravado, en met die selfvertroue van Gordon Ramsay, voel hulle nie of hulle iets by my kan leer nie.”

Sy beskryf haar dogter, Sophia, as “alomteenwoordig” in die kombuis en as sy nie keer nie sal Ethan die helfte van die koekbeslag eet voor sy dit bak.

Hul oudste Max het egter geen belangstelling in kos nie. “Ons moet hom herinner om te eet. Hy het wel begin broodbak en het ’n natuurlik aanvoeling vir gisgebak. Hy wil nou graag bagels begin bak om ekstra Euro’s te verdien.” Vir dié doel het hul Wilandi en Wessels se bagel-resepte nader getrek.

Hier is Mari-Louis se jongspan.
Gallery

Tog is van haar lekkerste gesinsherinneringe wanneer haar man Chris ook by is. Dan word daar sommer gedans so tussendeur die werskaf. “Daar is niks mooier as my kinders wat lekker giggel en pret het saam met ons nie. Ons lewe in ’n wonderlike bubble op die oomblik - ná jare se wegwerk is Chris nou elke dag by ons, amper soos ’n wonderwerk.” Dis vir die einste rede dat Mari-Louis besluit het om sak en pak Montenegro (in Suidoos-Europa) toe te trek waar haar man superseiljagte bou.

Waar sy in Suid-Afrika mooi produkte gemaak het vir stilering, bak sy nou meestal goed vir skool. “Ons is by die Internasionale skool en veral die Engelse en Amerikaanse onderwysers het versoeke vir grondboontjieterte, Bakewell en skons. Niks mooi nie, maar wat hulle huis toe laat verlang.” Dan onthou Mari-Louis ook daai keer wat sy ingespring het en ’n klomp melkterte gebak het vir die Wiskundeklas se Pi-dag – wat hulle as Suid-Afrikaners toe sommer gewen het ook! 

Tog kan Mari-Louis nie ’n spesifieke ouderdom aan bak koppel nie. “Ek voel soms of ek geen antwoorde het as dit by ouerskap kom nie, want wat die een dag werk is ’n klaaglike mislukking die volgende.” Sy vertel dat sy sulke verskillende kinders het en dat sy soms haar hare uit haar kop uit kan trek. “My dogtertjie was beslis gouer gereed vir die kombuis en ek dink so rondom vier kan ’n mens darem begin reëls van die kombuis verduidelik."

“​Ek is streng in die kombuis, daar is gevaarlike toerusting en skoonmaak is deel van die gebak.”


Oor intreevlak-disse vir kinders onder tien is sy dit eens: “Ek dink altyd dat dit die beste is om kinders iets te leer wat hulle gunsteling is. Kinders is immers die grootste narsiste wat daar is – so vir Ethan was dit sjokoladekoek, Max plaatkoekies en vir Sophia vanielje-kolwyntjies, wat sy kon versier vir ure. Alles-in-een-mengbak-koeke werk baie goed, daar is reeds so baie om te leer, van panne uitvoer tot afmeet.”

Kyk net hoe doenig is Mari-Louis se kinders in die kombuis:

Volgens Mari-Louis tel maatkoppies vir die jonges en ’n skaal vir die ouer kinders onder kombuisgereedskap vir ’n beginner-bakker. Sy beveel ook ’n vadoek, voorskoot en puik voornemens aan. “Twee kleure maatkoppies is altyd maklik om te wys die droeë bestanddele kom in hierdies en dan die klam bestanddele in die ander tipe (net te veel van ’n gemors as hulle die twee in dieselfde afmeet).” Sy meen ook die grootste en beste gereedskap is ’n ouer wat by is siende dat ’n oond “maar ’n gevaarlike zone is”.

Met die tasbare energie wat weekliks deur ons sitkamers vloei, kan ons ook nie help om ook na ons maatkoppies te gryp nie! 

Leer ken die beoordelaars met dié blitsvrae.

Koekedoortjie saai Woensdae om 20:00 op kanaal 144 uit. Moenie die volgende aflewering misloop nie. Gesels saam op FacebookTwitter en Instagram met die hutsmerk #Koekedoortjie.