Logo

Maak gereed vir die kykNET Buite-ekspo Limpopo!

Nuus
18 April 2018
Die kykNET Buite-ekspo Limpopo vind vanjaar plaas by die Sondela Nature Reserve & Spa in die Bela-Bela-area.
Buite Expo

Maak solank reg vir die grootste kykNET Buite-ekspo Limpopo-ervaring nóg!

Die gewilde kykNET Buite-ekspo Limpopo, nou in sy agste jaar, vind plaas vanaf 28 – 30 September 2018 by die Sondela Nature Reserve & Spa, in Bela-Bela. Die oord is ook gelys as een van die top-100 oorde in Suid-Afrika. Dié geleentheid bied enige buitelewe-entoesias ’n kans om vir ’n naweek saam met familie en vriende uit te span en blootgestel te word aan die nuutste buitelewe-aanbiedings op die mark. Die kykNET Buite-ekspo, bestaan nie net uit buitelewe-uitstallers wat hul produkte op ’n baie unieke manier in die bosveld kom uitstal nie, maar bied ook baie opwindende aktiwiteite om die hele gesin besig te hou.

Volgens organiseerder en eienaar van die buite-ekspo konsep Marius Opperman was hy oorweldig met die opkoms by verlede jaar se Limpopo-geleentheid. “Ons het besef die behoefte in die noorde is nóg groter en was genoodsaak om te kyk na ander terreine. Ons het begin kyk na ’n groter terrein met nog meer geleenthede en ook toeganklikheid vanaf nasionale paaie. Ons is baie opgewonde oor die moontlikhede wat Sondela vir ons bied en die eienaars en bestuur se bereidwilligheid om die terrein vir nuwe geleenthede aan te pas.”

Sondela is net buite Bela-Bela en ongeveer 70km vanaf die noorde van Pretoria, reg langs die N1 (Bela-Bela-afrit) geleë. Die oord bied akkomodasie vir kampeerders, sowel as chalets. Aktiwiteite vir die adrenalienverslaafdes hierdie jaar sal weer bestaan uit gratis ritte saam met die baie gewilde André de Villiers van Safari 4x4-Roetes in sy VW Amarok en veldrenritte saam met Hennie van Niekerk wat baie goed presteer het by die afgelope Dakar-byeenkoms. Daar sal ook 4x4-fasiliteite wees waar uitstallers die publiek kan neem vir toetsritte.

Kom kuier saam by die kykNET Buite-ekspo 2018. 

Die kykNET Buite-ekspo Limpopo lok ongeveer 18 000 mense elke jaar vir ’n naweek van buitelug-avontuur en vermaak vir die hele familie. Hierdie jaar is daar ook weer ’n volwaardige tropiese slush-eiland en ’n baie unieke wyntuin waar onder meer oesters, kase en olywe bedien sal word met puik Suid-Afrikaanse wyne. kykNET sal natuurlik ook teenwoordig wees met die sepies waar hulle met mekaar gaan afreken by die Jimmy’s Steakhouse Sauces en Weber sepie-vuurgeveg om die koning van braaiers te troon. Die kinders word ook vermaak met ’n kindervermaak-area wat hierdie jaar regtig iets spesiaal gaan wees met ’n baie groot speelpark, asook items op die verhoog. Ouers kan dus hulself voluit geniet. Daar is ook volop gekeurde kosverskaffers met ’n groot kroeg én biertuin-fasiliteite.

Splinternuwe dinge die jaar sal insluit: perdritte, veldfiets-ritte in die bosveld, MTB-fietsry geleenthede (Sondela het puik bestaande fasiliteite hiervoor), en ’n besoek aan die Sondela Wildlife Centre. Die splinternuwe kykNET-arena bied ook verskeie wamwater swembaddens wat deur al die besoekers gebruik kan word, asook ’n verbeterde snuffel- en kunsmark area.

Kliek hier vir meer inligting of kontak Marius Opperman vir enige navrae by 082 570 5758 of [email protected]. Algemene inligting sal beskikbaar wees by www.ekspo.co.za