Logo

kykNET vergroot sy totale aanbod en trek ’n nuwe baadjie aan

Nuus
30 Maart 2017
Ons staan op uit ons geliefde blou stoel en verklaar: kykNET is vol lewe, mense vol lewe en musiek vol lewe.
kykNET vergoot aanbod

kykNET is bekend vir die beste gehalte vermaak – ons vertel unieke stories met universiële boodskappe wat alle Afrikaans-liefhebbers inspireer, inlig, byeenbring en verplaas na ’n wonderwêreld vol ryk ervarings. Hierdie jaar slaan die drie kykNET-kanale ’n opwindende vars rigting in.

Ons staan op uit ons geliefde blou stoel en verklaar:

  • kykNET is vol lewe, mense vol lewe en musiek vol lewe.
  • kykNET is positief en toekomsgerig.
  • Dis tyd vir kuier, liefde, lag, insig, gesels, kook, mooimaak en ontspan.

Die pad tot hier

Sedert 2009 is kykNET veel meer as net ’n TV-kanaal. Met ’n Afrikaanse teikenmark in gedagte, het ons wortel geskiet in die ekosisteem van Afrikaans se grootse verskeidenheid bedrywe. Dit sluit in die uitvoerende en skeppende kunste, musiek (van klassiek tot kontemporêr, alternatief tot hoofstroom), die televisie- en filmbedryf, maar toenemend ook as belangrike rolspeler op sosiale media en ander digitale platforms.

kykNET se onderneming was en bly gehalte-inhoud. Die nuwe visuele voorkoms verteenwoordig ’n hervestiging van lojaliteit teenoor ons kykers – inspirerende kwaliteit in ruil vir jou kosbare tyd.

kykNET was nog altyd aan die voorpunt van ’n blitsig veranderde mediawêreld. Die landskap en platforms waarop kykNET se inhoud verbruik word, het verander en daarom is dit noodsaaklik vir ons handelsmerk om hierdie nuwe moontlikhede en geleenthede optimaal te benut.

Die marknavorsing van die afgelope twee jaar wys duidelik dat ons kykers in ’n toekomsgerigte en toekomsgedrewe handelsmerk belangstel. Ons posisioneer kykNET daarom binne ’n dinamiese globale gemeenskap en media-omgewing waar goeie stories en ryk ervarings al is wat tel. Noudat kykNET-inhoud ook wêreldwyd deur ShowMax se video-op-aanvraagdiens beskikbaar is, het dié handelsmerk werklik ’n internasionale speler geword.

kykNET het ontwikkel in ’n veelsydige mediavervaardiger met een sentrale doelstelling: Om die stories van ons gemeenskappe so kragtig en lewensgetrou as moontlik te vertel – nie net aan plaaslike gehore nie, maar aan die wye wêreld deur ShowMax, rolprente en verskeie digitale platforms. Ons nuwe kenteken en posisionering weerspieël hierdie opwindende evolusie.

Die nuwe baadjie

Die span het onmiddellik saam met ons agentskappe en vennote begin werk aan ’n splinternuwe strategie, posisionering en grafiese identiteit vir kykNET en sy drie kanale: kykNET Premium, kykNET&kie en kykNET NOU!

kykNET Premium HD (DStv-kanaal 144) – Vol lewe

kykNET Premium is ’n topgehalte-televisiekanaal wat kykers boei met inspirerende stories en skitterende vermaak in elke genre. Die plaaslik vervaardigde inhoud skep ’n grenslose wêreld vol lewe waarheen kykers kan ontvlug om vermaak en verryk te word. Hierdie kykNET-vlagskipkanaal is beskikbaar op die DStv Premium- en Extra-pakkette wat kykers ook die geleentheid bied om ons programme op ander platforms, soos Catch Up, DStv Now en BoxOffice, te geniet.

kykNET&kie HD (DStv-kanaal 145) – Mense vol lewe

kykNET&kie is ’n verskeidenheidskanaal wat beskikbaar is op die DStv Familie-, Compact-, Extra- en Premium-pakkette. Dit bied aan meer kykers die geleentheid om oorspronklike kykNET-inhoud vir die eerste keer te geniet. Met die fokus op kykgenot vir die hele gesin bied dit aan ’n groter mark die geleentheid om kykNET teen ’n meer bekostigbare prys te ontdek. Terselfdertyd kry gereelde kykNET-kykers die kans om weer programme te sien wat hulle dalk vroeër misgeloop het.

kykNET NOU! SD (DStv-kanaal 146) – Musiek vol lewe

kykNET NOU! is die plek vir lekker tunes en goeie vibes. Dis beskikbaar op die DStv Family-, Compact-, Extra- en Premium-pakkette én op DStv NOW. Dié kanaal bied die beste Afrikaanse musiek- en vermaakprogramme vir alle musiekliefhebbers.

Belangrike aantekeninge

  • kykNET beeldsend 100% plaaslik-vervaardigde inhoud.
  • kykNET vervaardig weekliks meer as 86 ure se oorspronklike nuwe inhoud waarvan minstens 12 uur regstreekse uitsendings is.
  • Meer as 1 000 mense is voltyds by die vervaardiging van inhoud betrokke. kykNET vervaardig gemiddeld 75 programme en 15 vollengte rolprente per jaar.

Kyk die video hier onder: