Logo

Kokkedoortjie: Hamburgers by die huis

Nuus
03 Mei 2017
Kokkedoortjie-beoordelaars Mari-Louis Guy en Nic van Wyk gee raad oor hoe om heerlike hamburgers tuis saam met jou kinders te maak.
Kokkedoortjie Hamburgers

Die Kokkedoortjies het in vandeesweek se episode gesonde snoepie-hamburgers voorberei, wat jy met een hand kan vashou en eet.

Mari-Louis meen die beoordelaars het die meeste klem gelê op die vleisgedeelte van die hamburger, omdat daar ’n fyn lyn is tussen ’n frikkadel en ’n vleispattie. “Jy wil dit geurig hê, gaar hê, maar nie te styf en stewig nie,” sê sy.

Dié Kokkedoortjie-beoordelaar sê dis maklik om jou kinders by die huis te leer hoe om ’n goeie hamburger te maak, en dit hoef boonop nie ’n duur storie te wees nie. “Vat varkworsies en druk hulle uit – daai vleisies is klaar klewerig. Varkworsies is ook ekonomies.”

Haar raad is om die varkworsie-hamburger met ’n tipe Waldorf-slaai (gewoonlik gemaak van vars appels, seldery, druiwe, neute en mayonnaise) te bedien. “Dis klaar ’n lekker ding vir ’n kind om te eet.”

Snoepie-hamburgers moet ’n kraakvars element hê, sê Mari-Louis, en beveel krakerige kool met ’n vinaigrette (eerder as die gewone koolslaai met mayonnaise) aan. Voeg ook bosbessies (cranberries) by.

Nic se hamburger-wenke is om te begin by die begin: goeie vleis. Om tekstuur te behou, is sy raad om nie die vleis te fyn te maal nie. Voeg boonop genoeg sout en peper by en “bou jou burger van elemente wat jy weet altyd goed werk”, soos uie (rou of gebraai), krakerige blaarslaai en goeie kaas.

Hy meen ’n mens kan gerus eksperimenteer met die sous op jou hamburger, maar jy moet weet wanneer om die brieke aan te draai. “Een sous is genoeg,” sê hy. “As die smake te veel raak, verloor jy die essensie van ’n burger.”

Kokkedoortjie is Woensdae om 20:00 op die kassie. Herhalings word Donderdae om 15:00, Vrydae om 11:00, Saterdae om 14:00, Maandae om 16:00 en Woensdae om 13:30 uitgesaai. Gesels saam op Facebook en Twitter (gebruik die hutsmerk #Kokkedoortjie) en hou ons Instagram-blad dop!