Logo

Kokkedoortjie: Blitsvinnig en gesond

Nuus
03 Mei 2017
Die Kokkedoortjies het dié week snoepie-hamburgers met ’n sportiewe kinkel voorgesit.
Kokkedoortjie Blitsvinnig

FOTO: Christi se gesonde volstruis-hamburger

Hierdie week se uitdaging in die Kokkedoortjie-stoor was om ’n gesonde snoepie-hamburger, wat jy met een hand kan vashou, te maak.

“Meeste van hulle het die opdrag goed verstaan en goed uitgevoer,” sê beoordelaar Nic van Wyk. Hy dink die grootste uitdaging vir die Kokkedoortjies was “om nie te veel te probeer doen nie”; om die hamburger so “mooi en kompak” as moontlik te hou.

Christi het “iets anders” opgedis: volstruisvleis. “Ek is nie mal oor volstruisvleis nie, so ek was bekommerd gewees daaroor, maar hy het dit baie goed gaargemaak,” sê Nic. Hy meen Christi se hamburger was eenvoudig, maar dit het al die “regte” smake en kombinasies bevat. “Daar was ook goeie tekstuur gewees,” sê hy.

Die Kokkedoortjies moes boonop iets gesond in hul hamburger wegsteek en dié burger na ’n sportster vernoem.

Beoordelaar Mari-Louis Guy vertel Christi het goed gevaar omdat hy werklik aan die uitdaging gedink het. Hy het sy gesonde volstruis-hamburger aan die blitsvinnige Wayde van Niekerk opgedra en boonop sy vleispattie in ’n “Jucy Lucy” omskep deur dit met spinasieroom en fetakaas te vul. Die beetskyfies waarmee hy dit bedien het, was nóg ’n interessante kinkel.

Die uitdagings raak week na week tawwer in die Kokkedoortjie-stoor, en volgens Nic gaan dit nou duideliker word watter Kokkedoortjies werklik ’n slag het in die kombuis.

Hy sê Jarique se hamburger het nie “aantreklik” gelyk om te eet nie. Hy meen dis die fyner detail wat nou vir die beoordelaars begin tel.

Mari-Louis sê: “Ek dink Jarique was half verlig om vandag te gaan. Ek dink hy het begin besef die moeilikheidsgraad is taamlik hoog.”

Sy sê dié jong deelnemer het gesukkel om die fantasie-element by te bring en moet verder aan sy tegniek werk. “Hy is nog baie kind.”

Kokkedoortjie is Woensdae om 20:00 op die kassie. Herhalings word Donderdae om 15:00, Vrydae om 11:00, Saterdae om 14:00, Maandae om 16:00 en Woensdae om 13:30 uitgesaai. Gesels saam op Facebook en Twitter (gebruik die hutsmerk #Kokkedoortjie) en hou ons Instagram-blad dop!