Logo

Koekedoor Episode 13: ’n Wenner word gekroon

Nuus
05 Junie 2015
Mareli en Martjie het 33 tawwe uitdagings agter die blad, en hul Koekedoor-reis het sy finale bestemming bereik.
Ep13 Mareli Wen

Mareli en Martjie het 33 tawwe uitdagings agter die blad, en hul Koekedoor-reis het sy finale bestemming bereik.

Martjie is nou wel die “Chanel-model”, sê Mareli, maar hulle het ook baie in gemeen. Dit voel of hulle saam Viëtnam-oorlog toe is, skerts sy. Hulle het groot vriende geword, sê Martjie.



Een groot gebak-uitdaging lê voor, en Mareli se swaer het die volgende raad aan haar: “As jy hom nie kan optel nie, gooi hom neer.” Haar broer sê sy is die land se bobaas-bakker, omdat sy iets sommerso uit haar kop uit kan optower.

Martjie se man, Christo, meen haar oog vir detail gaan háár help om die knoop deur te haak. Sy is “nie tervrede met iets gewoon nie,” sê hy.

In haar reis tot dusver was daar “tye van histerie en tye van kalmte,” sê Martjie. Oor haar gebruiklike swetswoorde op die program, sê sy: “Mareli noem dit die onkruid in my taaltuin”.

Die finale uidaging is om ’n fabelagtige troukoek te bak, en Martjie en Mareli slaan elk ’n ander rigting in. Die beoordelaars doop Mareli “die passie” en Martjie “die presisie”.

Martjie fokus op die jongste tendense. Sy bak ’n laagkoek met die geure van suurlemoen, vanielje en framboos en sjokolade en karamel. Dit word afgerond met ’n goue draad, wat haar aan die liefde en ’n gevoel van vervuldheid herinner, en miniatuur-makrolletjies.



Sy het al baie troukoeke gebak, sê Mareli, en hou van die “drama” van só ’n koek. “Man, ek dink daai koek gaan net soveel persoonlikheid hê soos ek.” Sy het immers ’n week lank drama op Stellenbosch studeer.

Sy bak ’n “ombre”-koek, wat met ’n laag donkersjokolade begin, en bo met vanielje eindig. Sy maak ook marsepein-pere – iets wat sy op Youtube gesien het.



Wanneer die beoordelaars proe, is hulle dit eens: Dit gaan moeilik wees om te kies.

Hulle dink Martjie se makrolletjies is goed uitgevoer en sy het slim kleurkombinasies gebruik, maar voel sy kon die buitekant gladder afgewerk het. Hulle is baie beïndruk met die elemente van Mareli se koek, maar meen daar is “konstruksieprobleme”.

“Ons het julle leer liefkry,” sê Tannie Elizabeth vir Martjie en Mareli, wanneer dié twee vir oulaas voor die beoordelaars staan. “Julle is twee waardige wenners.” Daar wag ’n laaste verrassing vir die Koekedore: Hul families gaan hulle bystaan wanneer die groot oomblik aanbreek.

“Ek dink beide van ons verdien dit regtig om hier te staan,” sê Martjie. Sy en Mareli sluk hard aan die trane, en Martjie druk haar oë toe voor die beoordelaars se aankondiging. Die volgende oomblik reën konfetti op hulle neer en ’n bottel sjampanje word oopgemaak: Mareli is die uiteindelike wenner van Koekedoor!



Gaan na die Koekedoor-webblad vir meer.