Logo

Karen Zoid keer terug vir meer!

Nuus
17 April 2018
Karen Zoid is binnekort terug op die kassie vir nog ’n seisoen van Republiek van Zoid Afrika.
Republiek van Zoid Afrika

Foto: Anelia Loubser

Suid-Afrikaners kan hul paspoorte afstof vir ’n onvergeetlike besoek aan die Republiek van Zoid Afrika.

Die splinteruwe seisoen van kykNET se bekroonde geselsprogram, met Karen Zoid as aanbieder, begin op Donderdag, 10 Mei 2018.

In die nuwe seisoen vergroot president Karen haar reeds indrukwekkende kabinet met nóg glansmense, sporthelde, legendariese sangers en ander beroemdes en berugtes.

Republiek van Zoid Afrika is onlangs vir die derde keer as Suid-Afrika se beste geselsprogram aangewys toe dit ’n SAFTA-toekenning hiervoor ontvang het, terwyl die reeks ook al talle Huisgenoot Tempo-toekennings opgeraap het.

LEES OOK: Huisgenoot Tempo’s 2017: kykNET wen groot

Van die gaste in hierdie seisoen is Eben Etzebeth, Refentse, Johnny Clegg, Jo Black, Minki van der Westhuizen, Franz Marx, Patricia Lewis, Yvonne Chaka Chaka en Johan Stemmet.

Carien Loubser, die reeks-vervaardiger en regisseur sê: “Daar is hoendervleis-oomblikke, daar is snaakse oomblikke en daar is diep oomblikke – alles saam verpak in ’n uurlange episode.”

Ouder gewoonte sal episodes afgesluit word met verwerkings van trefferliedjies en in Apple se iTunes-aanlynmusiekwinkel beskikbaar gestel word. Vorige seisoene se verwerkings het keer op keer iTunes se trefferlys gedomineer.

Laai seisoen 2 se liedjies hier af.

Laai seisoen 3 se liedjies hier af.

Laai seisoen 4 se liedjies hier af.

Karen is veral baie opgewonde oor die vyfde seisoen se album. “Ek en die musiekvervaardiger van die RZA-album. Theo Crous, is oortuig daarvan dat hierdie album die beste nog is,” sê sy.

“Mense wag met elke episode vir die liedjie aan die einde en dit is vir ons ’n hoogtepunt om die program só af te sluit.”

Kykers kan ook weer uitsien na skreeusnaakse insetsels met die Republiek van Zoid Afrika se geliefde panfluitsensasie, Marinda Senekal, en haar maltrap familie.

Republiek van Zoid Afrika word vanaf 10 Mei op Donderdae om 20:00 op kykNET uitgesaai. Bly op hoogte op sosiale media met die hutsmerk #kykNETRZA.