Logo
web uni tv guide

Prontuit

144NuusPG13

Kabous sê dit #Prontuit

Nuus
26 Januarie 2018
Het jy dít geweet van Kabous Meiring?
Prontuit_Kabous_Meiring

Prontuit-aanbieder Kabous Meiring hou haar vinger op die pols wanneer dit kom by sosiale- en kultuurkwessies. Maar hoe hou dié geliefde aanbieder haarself besig in haar vrye tyd? Wat lê voor vir haar in die nuwe jaar, en waarvan droom sy? Ons het gaan inloer.

LEES OOK: PRONTUIT SE KABOUS MEIRING

1. Wat lê op die oomblik op jou bedkassie?
Om eerlik te wees, my rekenaartjie waarop ek reekse kyk. Ek kyk tans Wormwood, The Roosevelts en het pas The Crown klaar gekyk. Maar ek lees The Nix van Nathan Hill. Ek lees egter te min.

2. Wat los jy agter in 2017? 
Die vermoë om vir alles ja te sê. My jaar vir meer nee sê het aangebreek, sodat ek meer ruimte het om te dink en nie net te voel ek hardloop rond nie. Soveel as wat ek lief is vir mense, partytjies, werk en uitdagings, sal dit my goed doen om weer aandag te gee aan eenvoudige dinge wat geluk bring, soos waterwise-plante, teater, musiek en swem. In kort moet ek dalk meer in situasies wees waar ek nie so baie kan praat nie, en eerder luister of dink.

3. Wat lees jy om op hoogte te bly? 
Ek is nog steeds een van daai wat graag ’n Vanity Fair koop in harde kopie. Verder lees ek ons plaaslike politieke joernaliste se menings op elke liewe platform. Die Daily Maverick, Netwerk24, News24 en die koerant Rapport. Ek lees ook deur die New York Times en The Guardian se apps op my foon. 

Ek hou van wat Jan Taljaard sê, ook sy humor. Verder lees ek Tim du Plessis en Sonja Loots, en luister na Eusebius McKaizer as ek kan – hoewel ek soms vies raak vir hom, dink ek hy is baie goed. Ook Justice Malala, Xhanti Payi en Pieter du Toit se liefde vir die perfect storm is aansteeklik. En ek is mal oor hoe Ferial Haffajee redeneer; koelkop menings sonder om doekies om te draai – dis net politiek.

Oor die kunste steek ek kers op by vriende; baie van hulle is diep in daai binnekring.

4. Agter die skerms is jy ook baie besig. Watter projekte gee jou tans slapelose nagte en watter projekte laat jou droom?
Ek het slapelose nagte van spanning en opwinding oor ’n oudiovisuele aanbieding van Hermann Giliomee se boek Die Afrikaners. Ek en ’n baie slim span (dankie tog) is deur Herman Binge opdrag gegee om dié projek klaar te maak. Dis uitdagend wat inhoud aanbetref, en hoewel dit Giliomee se vertelling is, poog ons om ekstra inligting by te voeg om die nodige konteks vir ’n 2018-uitsending te skep.

Verder lewer ek toesprake en lei gesprekke wat my vooraf altyd senuweeagtig maak, maar ek hou egter baie van dié deel van my werk; dit dwing [my] om te dink, en ek het meer tyd vir humor.

Ek lewer binnekort ’n toespraak met die tema ‘Hou jou rokkies bymekaar’, wat handel oor die sosiale wraakspraak, meestal ná groot nuusgebeure, deesdae te sien op sosiale media. Dan slaap ek natuurlik glad nie danksy alles wat ek op Parlement Parlement kwyt raak. 

Maar ek droom oor ’n chickfliek of reeks met ’n klein geselskap, goeie plot, karaktertrekke en selfs ’n bietjie skop, sonder die skiet-en-donner.

Op ’n groot skaal droom ek oor ’n mentorskapsprogram vir televisie. In ’n Afrikaanse werkswêreld moet ons waak teen isolasie, en dit sal wonderlik wees as ons met voornemende regisseurs en joernaliste kan werk wat Engels, Xhosa of Zoeloe praat, sonder om my Afrikaanse aspirasies op te gee. Ek wil baie graag hê Afrikaanse skole moet behoue bly, en minstens een [Afrikaanse] universiteit. Maar intussen moet ons seker maak die institusionele geheue van die universiteite, pers en media gaan nie verlore as daardie ouens op ’n jong ouderdom aftree nie – hulle het baie om te gee, hulle is Afrikaans en hulle kán mos Engels praat. Jy moet ’n manier kry om hulle met ’n leerder te haak, al is die leerder Afrikaans, Engels of Xhosa.

5. Wat is jou gunsteling poeding?
Tuisgemaakte roomys, maar ek is ongelukkig maar ’n ou vir koffie en nog ’n glas wyn. Dalk word dit hierdie jaar pepperment-tee en nog ’n glas water (die skaarsheidswaarde in die Kaap gaan ons almal omswaai). Ons sal sien.

Kabous Meiring is elke Maandag om 22:00 te sien in die regstreekse uitsending van Prontuit. Volg haar saam met ons op Twitter, en gebruik die hutsmerk #Prontuit om jou mening op sosiale media te lug.