Logo

Kaalgat Karel se amptelike lokprent is hier!

Nuus
12 November 2020
Die lang wag is uiteindelik verby! Boondogle Films (Tess en 1994: The Bloody Miracle) en die span agter die splinternuwe romantiese komedie, Kaalgat Karel, het pas die rolprent se amptelike lokprent vrygestel, wat beloof om meer insae te gee oor wat van dié skreeusnaakse rolprent verwag kan word.
KK   Online Keyart small

Kaalgat Karel vertel die verhaal van Karel Venter – ’n dertigjarige kaalnaeler wat die ongewensde aandag wat sy aksies by sportgeleenthede kry geniet! Hy raak halsoorkop verlief op die paramedikus wat hom red nadat ’n kaalnaelsessie skeefloop, maar daar is een probleem; sy is ’n ernstige en pligsgetroue enkelma wat geen belangstelling het in sy bedrywighede nie.

“Dis ’n eerlike fliek oor ’n man wat lief is vir die lewe en mense,” sê Francois Jacobs, wat puik is in die hoofrol van hierdie skreeusnaakse liefdesverhaal. “Dit wys ook dat alhoewel die lewe soms vir ’n mens donker skadu’s gooi, daar altyd iewers ’n ligpunt is.”

Paul Egan en Meg Rickards (wat ook die regisseur is) het die rolprent geskryf en vervaardig en dit beloof om kykers te laat skaterlag, maar ook diep te raak met die ernstige onderliggende boodskap en persoonlike oorwinnings, wat sal aanklank vind by oud en jonk.

Buiten vir uitstaande kinematografie deur Bert Haitsma en ’n indrukwekkende klankbaan deur Loki Rothman, spog die fliek ook met ’n sterbelaaide rolverdeling.

Schalk Bezuidenhout (Kanarie, Hotel, Sara se Geheim) is te sien as Karel se vriend en kamermaat Flip; Christia Visser as die streng enkelma en paramedikus, Rita; Siv Ngesi as Vuyo, Karel se kaalnael-teenstander; Tracey-Lee Oliver as Rita se kollega, Rosebelle Clasen as Rita se dogter, Bella en Eden Classens as die glansryke plastiese chirurg, Jean-Pierre du Toit.

Die temaliedjie, Altyd Op Vakansie, is deur Jack Parow en Loki Rothman geskryf. Dit dra nie net by tot die ontspanne atmosfeer van die storie nie, maar bevat ook al die regte bestanddele vir ’n vakansietreffer wat nog vir jare hierna gewild gaan wees.   

Kaalgat Karel is 100% eg Suid-Afrikaans. Dit sal jou laat giggel in jou mou, lag uit jou maag en selfs ’n traan laat wegvee hier en daar,” verduidelik Christia Visser wat bekend is vir haar rolle in plaaslike films soos Tess, Hollywood in my Huis en Ballade vir ’n Enkeling.

Die speelfilm is vervaardig in samewerking met kykNET, die Oos-Kaapse Ontwikkelingskorporasie (OKOK), die -Kaapse provinsiale kuns-en-kultuurraad (ECPACC), Departement van Handel en Nywerheid (DTI), en handelsmerkvennote Galito’s, Red Alert en die Hathaway-gastehuisgroep. Dit word versprei deur Filmfinity (Edms) Bpk. en sal by plaaslike bioskope begin draai op 12 February 2021.

“Ons kan nie wag om hierdie lokprent te deel en vir Suid-Afrikaners ’n eerste kykie te gee van ons nuwe fliek nie. Dit vang regtig die vreugde en pret vas wat eie is aan Kaalgat Karel, terwyl dit kykers oor laat met die vraag: ‘Wat gebeur wanneer Karel, wat verslaaf is aan kaalnael en die roem wat daarmee gepaard gaan, verlief raak op iemand wat nie sy mannewales goedkeur nie?,” voeg regisseur, Meg Rickards, by.

SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook
: https://www.facebook.com/KaalgatKarel
Instagram: @kaalgatkarel
Twitter: @kaalgatkarel
Hutsmerk: #KaalgatKarelFilm

PUBLISITEIT EN BEMARKING:
STARBURST PROMOSIES

Alishia van Deventer
Sel: 083 635 4717
E-pos: [email protected]
Webblad: www.starburstmusic.co.za