Logo
Oppiestoep
web uni tv guide

Oppiestoep

145GeselsprogramPG

Heindrich Wyngaard kry sy eie geselsprogram

Nuus
22 Februarie 2018
Heindrich gesels binnekort op kykNET&kie!
Klop! Heindrich

Die bekende joernalis, radio-aanbieder en 'n gereelde bydraer tot kykNET se aktualiteitsprogramme, Heindrich Wyngaard, sluit in April by die kykNET-familie aan. Hy is die ankeraanbieder van die geselsprogram Kô, Lat Ons Praat. 

Kô, Lat Ons Praat, oftewel KLOP! gaan fokus op nuusmakers, helde, geskiedenis en ook 'n goeie skeut humor terwyl dit nie sal skroom om ernstige kwessies te takel nie. Heindrich sal elke week gesprekke rondom aktuele kwessies vanuit ’n ateljee in Johannesburg lei. Hy sal bygestaan word deur veldaanbieders wat weekliks insetsels en onderhoude uit die Wes-Kaap, Gauteng, Noord-Kaap, Oos-Kaap, Weskus en selfs Namibië sal doen. 

Heindrich is deur en deur ’n nuushond. Hy het reeds op skool as korrespondent vir die plaaslike koerant gewerk en het as joernalis van die beginjare in sy loopbaan sy stem laat hoor. Hy was onder meer politieke verslaggewer by beide Die Burger en Rapport en tot onlangs 'n gewilde omroeper op RSG.

KLOP! word vir kykNET deur IdeaCandy vervaardig wat ook vir die programme Prontuit, KN Verslag en KN Verslag In Gesprek verantwoordelik is. Daar is ’n gedugte span agter die skerms betrokke met gesoute joernalis Stephanie Pekeur wat as inhoudsvervaardiger by die span aangesluit het.

Kô, Lat Ons Praat word vanaf 1 April elke Sondagaand om 19:30 op kykNET&kie, DStv-kanaal 145, uitgesaai.

Maar dit is nie al nie …

kykNET&kie, wat die eerste keer op 9 April 2013 begin uitsaai het, is 'n verskeidenheidskanaal wat op die DStv Familie-, Compact-, Extra- en Premium-pakkette beskikbaar is. Die kanaal bied meer kykers die geleentheid om oorspronklike kykNET-inhoud te beleef aangesien trefferreekse en –programme wat voorheen op kykNET te sien was, 'n tweede beurt kry om vir 'n groter mark teen 'n meer bekostigbare prys gewys te word. Terselfdertyd gee dit kykNET-kykers die kans om weer programme te kyk wat hulle dalk vroeër misgeloop het of nog ’n keer wil kyk.

Kô, Lat Ons Praat is die eerste van baie nuwe oorsponklike inhoud wat vir kykNET&kie (DStv-kanaal 145) hierdie jaar vervaardig sal word. Benewens die ekstra episode van die gewilde sepie Suidooster wat vanaf 6 April op beide kykNET (DStv-kanaal 144) en kykNET&kie (DStv-kanaal 145) te sien sal wees, is ’n talentkompetisie, ’n telenovela en ’n geselsprogram op die oomblik in beplanning. Meer besonderhede oor hierdie programme sal op ’n latere stadium bekend gemaak word.

Heindrich gesels met kykNET Digitaal. Kyk die onderhoud hier: