Logo

Gerrie en Carna verwag eersteling

Nuus
05 Maart 2017
Hulle het diep in ons harte ingekruip tydens die sewende seisoen van Boer Soek ’n Vrou, en nou verwag hulle hul eersteling!
Boer Soek n Vrou_Carna en Gerrie

Foto deur Cindy Louwrens


Hulle het diep in ons harte ingekruip tydens die sewende seisoen van Boer Soek ’n Vrou, en nou verwag hulle hul eersteling! Gerrie en Carna, wat op 22 Augustus 2015 afgehaak het, is baie opgewonde oor dié nuwe hoofstuk in hul lewens.


Terwyl Gerrie besig geraak het op die plaas, het ons met Carna gesels oor swangerskap en wat voorlê vir die gesin.



Hoe voel jy oor die nuus, en wat was Gerrie se eerste reaksie en kommentaar toe hy uitvind?


Ek en Gerrie is baie opgewonde oor die goeie nuus, en dankbaar dat Liewe Jesus dit aan ons gegee het! Gerrie was aan die begin so bang dat dit nie so is nie. Hy was bang hy raak opgewonde en dan is ek nie swanger nie. Toe hy die hartklop sien toe besef hy dit is werklik so.

Hoe het jy die nuus oorgedra?


Dit was moeilik om die nuus oor te dra, want ek moes vir ’n rukkie eers stil bly. Ek het baie planne gehad, maar toe dit gebeur kon ek nie stil bly nie – en ek het dadelik vir Gerrie ge-WhatsApp. Daarna het ek my sussie Roné laat weet, want ek vra haar alles. Ons moes vir drie weke stil bly, want die bloedtoetse was effens onduidelik. Op 20 Januarie het my ma verjaar, en toe het ons die nuus aan hulle en my skoonouers oorgedra. Dit was die langste gewag nog!

Hoe het jy en Gerrie gereageer toe julle die eerste keer kleinding se hartklop hoor?


Daai hartklop is ongelooflik – mens kan nie dink dat iets so ongeloofliks binne-in jou groei en lewe nie.

Waarna sien jy die meeste uit?


Ek kan nie wag om te sien na wie lyk Baba nie!

Waaroor is jy minder opgewonde?


Ek is baie lief vir my slaap in die aande, so ek is bietjie bekommerd oor daai min slaap. Maar ek dink as mens by daai punt kom, sal mens vining leer

Wat is die beste swangerskap-raad of -wenk wat jy al gekry het, en gaan julle dit gebruik?


Ek het nog nie baie raad gekry nie. Die meeste mense sê dat elke baba anders is, so mens vat dit soos dit kom. My sussie het onlangs ’n baba gehad. Ek het vir haar gevra om alles wat sy doen en gebruik in ’n boekie neer te skryf vir my. Ek hoop dit sal help!

Wat is die waardevolste ding wat jy by jou ouers geleer het?


My ouers het ons altyd geleer dat geld nie liefde en geluk kan koop nie, en hulle twee is ’n voorbeeld van dit. Ek dink dit is hoekom ons as gesin so na aan mekaar is en ek wil dit ook graag vir ons kinders leer.

Het jy enige wenke vir toekomstige ouers om hulle huis baba-bestand te maak?


’n Mens hoor deesdae so baie van kindertjies wat verdrink, en dit maak my nogals bang. Ek dink veral op ’n plaas moet mens maar versigtig wees vir water en al die voertuie wat beweeg. Ek dink as mens jou kind op ’n plaas kan groot maak, is jy baie bevoorreg, want hier is mos altyd ’n hand of twee ekstra wat kan help kyk. So as Baba na sy pa aard, sal ons heeldag agter hom of haar moet aanloop om uit die moeilikheid te bly.

Wie gaan die doeke omruil – jy of Gerrie?


Ek dink ek sal maar die doeke omruil – Gerrie raak bietjie vining naar.

Wat is jou grootste droom vir jou kind?


Dat Baba moet wees wat Liewe Jesus gedroom het oor hom of haar. Baba moet sy of haar eie identiteit hê.


 

Gerrie en Carna, die kykNET- en Boer Soek ’n Vrou-span is baie opgewonde oor die nuus en wens julle alle voorspoed en geluk toe!

Vroeër vanjaar het dié paartjie in ’n eksklusiewe onderhoud met ons gesels oor onder meer die sukses van ’n gelukkige huwelik – kyk die video hier.