Logo

fliekNET word weer ’n opwipkanaal

Nuus
31 Mei 2022
Vind meer uit.
fliekNET

Die Afrikaanse rolprentkanaal, fliekNET (DStv-kanaal 149), sal weer terugkeer na sy oorspronklike formaat as ’n opwipkanaal. Die permanente kanaal sluit om middernag op 15 Julie 2022 en sal daarna nie meer op die DStv Premium-pakket beskikbaar wees nie. Nuwe Afrikaanse speelfilms sal voortaan op Saterdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) première en beskikbaar wees op DStv Catch-up. ’n Uitstekende verskeidenheid Afrikaanse flieks sal ook beskikbaar wees op MultiChoice se video-op-aanvraag-diens, Showmax.

fliekNET is oorsponklik in 2014 geloods as ’n opwipkanaal tydens Desembers wat speelfilms, dokumentêre en kortfilms uit die groot argief van Afrikaanse films uitgesaai het, maar in September 2020 het dit ’n permanente kanaal geword. Sowel die kanaal as die plaaslike rolprentbedryf het gebaat by MultiChoice se verdere belegging in die 50-minuut filmprojek, wat in Desember 2020 van stapel gestuur is. Hierdie kort TV-speelfilms het nie net vars inhoud aan fliekNET verskaf nie, maar het ook gedurende die Covid-19-pandemie werksgeleenthede vir plaaslike vervaardigers geskep. Deur die loop van die volgende 18 maande is meer as 80 Afrikaanse 50-minuutrolprente vervaardig en op fliekNET uitgesaai.

KYK HIER NA WATTER FLIEKS JY KAN UITSIEN

Hoewel die fliekNET-kanaal vanaf 16 Julie nie meer op die DStv Premium-pakket beskikbaar sal wees nie, sal nuwe Afrikaanse rolprente en 50-minuut TV-speelfilms op kykNET (DStv-kanaal 144) première. Dié kanaal het onlangs sy fliekaanbod uitgebrei met ’n nuwe gleuf vir TV-speelfilms op Saterdagaande om 20:00. kykNET is ook besig om nuwe 90-minuut films te ontwikkel en vervaardig, wat vanaf 2023 op kykNET uitgesaai sal word.

Vanaf 16 Julie sal dosyne kykNET-flieks op Showmax beskikbaar wees om te stroom. Hierdie aanbod sal nie net fliekNET-films insluit nie, maar ook opwindende, nuwe 50-minuut films.

MultiChoice evalueer voortdurend sy kanaalinhoud om te verseker dat kykers vermaak van die beste gehalte kan geniet en om heruitsendings gedurende spitskyktyd tot ’n minimum te beperk. Kanaalinhoud word ook gedurig heroorweeg namate verbruikersbehoeftes verander. Hierdie marknavorsing mag lei tot die byvoeging van nuwe inhoud of die beëindiging van reekse en soms die sluiting van kanale.



MultiChoice bly verbind tot die ondersteuning en uitbou van die plaaslike rolprentbedryf en is trots op die sukses van en internasionale erkenning vir speelfilms soos Barakat, Indemnity en Gaia die afgelope maande.

Ons jongste Afrikaanse speelfilm, Hans steek die Rubicon oor, is onlangs voltooi. Hierdie ten volle befondste projek van kykNET Films is gegrond op die gewilde gelyknamige boek deur Rudie van Rensburg en vorm deel van ’n rits nuwe speelfilms wat vir BoxOffice en ander platforms vervaardig en in 2023 vrygestel sal word.

Die kykNET-kanale skop in Julie af met ’n vol fliekprogram om aan kykers die beste nuwe Afrikaanse inhoud (met Engelse onderskrifte) te bied. kykNET sal in die Dinsdagdagaandgleuf vir draaiboekgedrewe inhoud kykers aan die raai hou met ’n whodunit vol intrige, terwyl die eerste seisoen van die plaaslik ontwikkelde werklikheids-TV-reeks Plaasjapie op 14 Julie 2022 sal begin.

kykNET&kie (DStv-kanaal 145) spog in Julie met twee splinternuwe in Afrikaans oorgeklankte Turkse telenovelas: In die ysterhand se greep en Kind van die noodlot.



Na watter fliek sien jy uit? Gesels saam op FacebookTwitter en Instagram deur die hutsmerk #fliekNET te gebruik.