Logo

Emo se ‘talent show’ kom kykNET toe

Nuus
23 November 2018
Lees meer.
Maak my famous

FOTO: Light Lounge Studio

Emo het onlangs ’n inisiatief op sosiale media geloods waar hy mense gevra het om hulle talent met hom te deel. Hy het mense aangemoedig om vir hom video’s te stuur via ’n WhatsApp-nommer. Die gelukkige wenner sal ’n jaarkontrak met All Stars Productions & Records teken en in 2019 saam met Emo toer.

kykNET is trots om aan te kondig dat dié konsep in ’n TV-reeks omskep gaan word wat in April 2019 op kykNET te sien sal wees. Emo Adams is net so opgewonde oor die volgende stap.

Emo vertel meer oor die dié inisiatief. 

“Sjoe, dis eintlik alles baie overwhelming. Ek wou eintlik net vir mense die geleentheid gee om hulle talente vir die wêreld te wys. Maak nie saak van waar hulle vandaan is nie – die stad of die platteland. Die feit dat kykNET my wil join op die journey, beteken dat hulle ook die nodigheid vir so ’n inisiatief sien. Vir iemand met ’n gladdebek is ek actually speechless.”

Kyk hier na van die video’s wat reeds ingestroom het.

Marguerite Albrechts, toesigvervaardiger van dié program, is net so entoesiasties. “Ons is geweldig opgewonde om Emo se talent-inisiatief te omskep in ’n televisiereeks vir kykNET, juis omdat daar reeds soveel hart en passie betrokke is. Emo is nie net passievol om nuwe talent te ontgin nie, hy het ook die vermoë om mense op hul gemak én welkom te laat voel. En dit is waarom so baie ongeslypte talent reeds ingeskryf het.

Hierdie reeks gaan ’n vars toevoeging tot die talentkompetisie-genre wees en gaan baie van die geykte elemente van hierdie genre laat vaar of vernuwe. Ek glo kykers kan hulself begin regmaak vir ’n geweldige bederf in 2019.”

Kliek hier vir meer inligting oor die projek, asook hoe om in te skryf.

Die sluitingsdatum skuif aan na 31 Desember 2018. Maak my famous met Emo en kykNET sal vanaf 2019 uitsaai op kykNET.