Logo

Eloise Cupido verwag eersteling

Nuus
29 September 2016
Die aktrise en Ontbytsake-aanbieder Eloise Cupido en haar man, Chris, verwag hul eerste pienkvoet.
Eloise Cupido

Die aktrise en Ontbytsake-aanbieder Eloise Cupido en haar man, Chris, verwag hul eerste pienkvoet. Dié paartjie het vroeër vanjaar getrou en met ons hulle troufoto’s gedeel. Kyk hier.

Ons het by Eloise ingeloer om meer uit te vind oor dié groot nuus:

Eloise, hoe voel jy oor die nuus en wat was Chris se eerste reaksie toe hy uitvind?
Ek is baie opgewonde en vreesbevange, soms tegelykertyd. Die dankbaarheid vir hierdie klein wonderwerkie wat aan my en Chris se sorg toevertrou is oorweldig my soms ook. Ek het só lank gehunker daarna om hierdie wonderwerk te kan beleef en ek moet myself soms knyp want dit voel soms onwerklik dat dit uiteindelik gebeur het. Chris is omtrent breëbors!

Wat is tot dusver die slegste deel van jou swangerskap?
Ek sien nie veel as sleg nie. Swangerskap is mos maar ’n effens rowwe mallemeule maar ek was aanvanklik nogals hartseer dat ek moes ophou gym en Zumba. Ek het vreeslik hard geoefen oppad na ons troue toe en het dit baie gemis. Maar ek was ook maar alte bly dat my dokter my aangeraai het om dit rustig te vat. Want ek was ongelooflik moeg die eerste klomp weke.

Ek moet bieg dat ek nog nie so ver gekom het om weer gereeld te oefen nie. Want toe die dokter vir my weer toestemming gee om te oefen was dit natuurlik met die raad dat ek my heartrate moet dophou en dit nie hoër as 150bps mag gaan nie.

In Zumba boer ek so tussen 160 tot 172 soos ek my gate uit geniet. Dus was ek so bang ek maak kleinding seer dat ek nog nie weer gegaan het nie!

Ek vind dit nogals uitdagend hoeveel stadiger ek beweeg. Mensdom, en die emosionele rollercoaster kan mens nogals lam maak! Ek huil in aksie flieks en reekse. Kan jy nou meer!?

Ek mis ook prawns – ek voel ook soos ’n wetenskapsprojek, want dit voel asof my liggaam oorgeneem is en alles waaraan ek gewoond is anders werk, of glad nie werk nie.

En die lekkerste deel?
Ek het baie lank gewag voordat ek die nuus begin deel het, buiten met naby vriende en familie. Ek het ’n massiewe beskermingstreek ontwikkel, en ek het dit nou nog – én ek wou vir so lank as moontlik hierdie wonderwerk vir myself en my man hou.

Dit was nogals amusant om die vraagteken op soveel mense se gesigte te sien, maar dan is hulle te bang om te vra want ek kon dalk net te veel geëet het of myself laat gaan het ná die troue.

Ek begin nou onteenseglik wys en ek begin dit nou vreeslik geniet om swanger te wees. Ek verlustig my in die rondings van my lyf, die veranderinge wat ek kan sien en voel. Die eerste fladder wat ek kon voel en die daaropvolgende sterker bewegings. Ek kan weer kook en geniet kos weer, wat baie lekker is. Ek het nog nie nodig gehad om maternity klere te koop nie en ek het ’n spesmaas ek gaan ook nie.

Waarna sien jy uit?
Om ons babatjie te ontmoet en uit te vind of dit ’n seuntjie of ’n dogtertjie is. Om te sien hoe kleindingetjie lyk en die wonder van die lewe opnuut deur sy/haar ogies te kan ervaar.

Waaroor is jy minder opgewonde?
Man! Ek gaan nou nie jok nie, maar die vooruitsig aan die geboortepyne laat my nou al in ’n kouesweet uitslaan.

Wat is die beste swangerskap-raad of -wenk wat jy al gekry het en gaan julle dit gebruik?
’n Vriendin het aangebied om die eerste paar weke vir ons kos te bring, want uit haar onlangse ervaring het sy ondervind dat dit baie rof gaan die eerste paar weke en kosmaak dalk aan die agterspeen gaan suig, wat natuurlik nie ideaal is vir ’n mamma wat wil borsvoed en haar kragte behou nie!

Ek het ’n paar wonderlike vroue op wie se nommer ek kon druk die laaste paar maande wanneer die onsekerheid en vrees my probeer onderkry het.

Wat is die oulikste babaklere wat julle al gekoop/gekry het?
Ek wil nie weet wat die geslag van ons babatjie is tot en met geboorte nie, so dit het dit tot op hede effe moeilik gemaak vir shopping. Dit is grusaam om te sien hoe mín geslagsneutrale-kleertjies daar in die winkels is!

Maar my beste vriendin, Charlotte, het ’n klein babygrow gekoop met die woorde Baby Genius“ daarop gedruk. Cherylene het al ’n hele paar uitrustingtjies gekoop vir daai eerste paar weke.  En ’n ander baie goeie vriendin, Lauren,  het vir my ’n engelklokkie gekoop wat ek op ’n lang ketting naby my boepie dra. Kleinding kan die geklingel in my buik hoor en dit skep ’n band met die buitewêreld wat gerusstellend behoort te wees na geboorte.




Wat is die vreemdste craving wat jy kry?
Ek het tot op hede nog nie cravings gekry nie. Nie regtig nie. In daai opsig is ek seker gelukkig, of is my man gelukkig dat ek hom nog nie met ’n volksvreemde versoek na middernag garage toe gestuur het nie! Maar ek kan nie belowe dat dit so gaan bly tot die einde nie!

Het jy enige wenke vir toekomstige ouers om hulle huis babastand te maak?
Voor ek my kaatjie van die baan kom hou, laat ek éérs huis in orde kry voor ek begin wenke uitdeel! Hierdie is ons eerste en ek weet eerlikwaar nie regtig wat op ons wag nie.

Wie gaan die doeke omruil – jy of Chris?
Ek hoop beide van ons.

Wat is jou grootste droom vir jou kind?
Gesondheid, geluk, goedheid, guns, dankbaarheid, ’n avontuurlustige gees wat die lewe ten volle wil beleef. Ek wens ons kind ouers toe wat hierdie aspekte vir hom/haar gaan moontlik maak of ondersteun.