Logo

Eloise Cupido oor haar baba: ‘Hy is opvreetbaar’

Nuus
17 Februarie 2017
Die aktrise en Ontbytsake-aanbieder Eloise Cupido en haar man, Chris, se eersteling, ’n seuntjie, is onlangs gebore.
Chris en Eloise Trou

Chris en Eloise op hul troudag in 2016. Foto: Gideon van Zyl


Die aktrise en Ontbytsake-aanbieder Eloise Cupido en haar man, Chris, se eersteling, ’n seuntjie, is onlangs gebore. Ons het met Eloise gesels:

Baie geluk met die geboorte van jul eersteling! Hoe het dit gevoel om hom vir die eerste keer vas te hou?

Dit was ’n onbeskryflike gevoel, ’n mengsel van oorweldigende dankbaarheid en verligting dat hy gesond en lewend is, verwondering oor sy perfekte liggaampie en hoe hy stip na ons staar (ja, ek weet hy kan ons nie regtig sien nie). Dit was verstommend hoe hy sy koppie na my gedraai het toe ek met hom begin praat het. Dit was ook skrikwekkend om te hom vas te hou, want ’n mens is so bang om hom seer te maak, al verseker hulle jou hoeveel keer dat babatjies nie so maklik breek nie!

En hoe gaan dit met Ma en Pa?

Dit gaan goed sover. Soos enige ander ouers van ’n pasgebore baba was die laaste paar dae vol aanpassing, min slaap, ’n woeste, skerp leerproses, maar bowenal is ons baie dankbaar en ek is smoorverlief!!! Ek verkyk my na sy toontjies en vingertjies en hoe gulsig hy borsmelk drink. Hy is opvreetbaar! Ek is gevul met daaglikse dankbaarheid dat ek wel kan borsvoed en dat hy so goed vorder. Pa is baie betrokke; ruil doeke, staan op in die nag om kleintjie vir my op te tel en winde te help uitvryf.

Waarna sien jy die meeste uit van ma-wees?

Ek sien uit daarna om te sien hoe hierdie klein mensie ontwikkel tot sy eie mens. Hoe hy en ons die uitdagings wat voorlê gaan aanpak en baasraak. Ek sien uit na sy eerste alles: glimlag, woord, kruip, tree, opstaan, ens.

Watter tipe ouers wil jy en Chris graag wees?

Liefdevol, betrokke, beskermend. Ouers wat nie skroom om ons kind perke te leer terwyl ons hom toelaat om vrylik hierdie nuwe wêreld te ontdek nie. Ouers wat ons kind WYS hoe dit lyk om lief te hê, respek te toon, dissipline en uithouvermoë aan die dag te lê; ouers wat nie bang is om emosie te wys nie. Ouers wat ’n goeie voorbeeld van menswees met al sy fasette aan ons kind demonstreer.

Wat het jou ouers vir jou geleer wat jou bygebly het?

By my ma het ek geleer van respek, maniere, die mag van asseblief en dankie, liefde vir God, geloof, vrygewigheid en dat daar altyd iemand is wat minder as jy het, dat om vir ander te gee en hulle te help jou nie armer maak nie. By haar het ek my liefde vir boeke, skoene en klere en “opdress” gekry; die lekker van mense oornooi na jou huis om lekker te kuier en te eet.

My ma het ons huis ’n veilige plek vir ons as kinders gemaak – soveel só dat selfs my broer en sy vriende in hul tienerjare liewer op ons werf gekuier het as straatop. Sjoe, daar is nog soveel dinge, wat so in stukkies en brokkies terugkom.

Watter ander herinneringe het jy van jou kindertyd?

My ma het ons nooit onnodig pak gegee nie. Ek kan trouens al die kere onthou wat ek wel pak gekry het, en ook wat ek gedoen het wat daartoe gelei het. Sy het die manier gehad om ons verskeie tekens te gee dat ons oppad is na ’n stewige loesing voordat dit daarby uitgekom het. So het ons dus genoegsaam kans gehad om van rigting te verander.

Ek onthou hoe sy ’n kyk kon gee wat jou in jou spore laat vries het. Daarby saam het ek haar stilswye gehaat. Ek het geweet dat as sy nog skel dit nie so erg is nie. Maar die oomblik dat alles so ontsettend stil geword het, het ek uit my pad uit gegaan om op te maak vir watookal ek verkeerd gedoen het. Dan het ek die teeskinkbord PRESIES gepak soos sy dit wil hê, tot op die melk wat vuurwarm in die bekertjie staan! My broer is tot vandag toe skrikkerig vir my ma se woede!