Logo

Eloise Cupido deel haar troufoto’s

Nuus
21 Julie 2016
Die aktrise en Ontbytsake-aanbieder Eloise Cupido en haar man, Chris, het onlangs in Magaliesburg afgehaak.

Die aktrise en Ontbytsake-aanbieder Eloise Cupido en haar man, Chris, het onlangs in Magaliesburg afgehaak. Sy vertel ons meer van die paartjie se spesiale dag, en deel hul troufoto’s met ons.

Vertel ons meer van jou en jou man, Chris. Hoe het julle ontmoet en hoe lank was julle saam voor julle getrou het?

Ons het ontmoet op ’n vlug van Kaapstad na Johannesburg in 2009.

Hoe het jy op ’n ontwerp vir jou trourok besluit?

Ek ken vir Marlize Boshoff van Immagika Creative Designs nou al amper 17 jaar en trek gereeld haar rokke aan na formele geleenthede. Sy is ’n ongelooflike ontwerper wat rokke maak wat vroue se geaardheid pas en na vore bring. Sy ken my nou al so goed dat ek alles in haar uiters kreatiewe, bekwame hande gelaat het. Al wat ek gesê het is geen balrok of meringue (soos ek dit noem). Ek het geen prinsessie-fantasieë gehad wat ek wou uitleef nie. Ek wou net pret hê, gemaklik wees en mooi lyk. EN ek wou ’n meer vleiende kleur as wit dra.

En Chris se pak?

Diaan Daniels het Chris se pak ontwerp van ’n vlootblou Herringbone-wintermateriaal. Dit is besluit na gelang van my rok en die algehele kleurskema van die troue. Die voering van die pak het ook by die kleurskema aangesluit, asook sy hemp, wat so ’n sagte salmkleur was. Alles is afgerond met donkerbruin bykomstighede. Ek moet sê, al is ek effe vooroordeeld, hy baie aantreklik gelyk!

Vertel ons meer van die groot dag. Waar het julle getrou en wat is ’n paar van die uitstaan-oomblikke?

Ons het by Askari Game Lodge en Spa in Magaliesburg getrou. My strooimeisies, Charlotte en Marique, was my absolute steunpilare in die aanloop tot en gedurende die troue. Charlotte se kommunikasiemaatskappy het die pragtigste ontwerpwerk gedoen – al die pad van die uitnodigings tot al die drukwerk en al die geskenke wat ons vir die gaste gereël het.

Ons dans, gekoreografeer deur Willie Venter, was ’n absolute wenner! Ek hoop iemand het dit afgeneem sodat ek nog vir jare kan kyk hoe kap my man dit uit op die dansvloer (dit het baie oorreed gevat om hom sover te kry om ’n roetine saam met my uit te voer!).

Heinrich Greyling Couture het my strooimeisies, blommemeisie en my ma so glansryk laat lyk! Yollande Nortje wat my met “Ave Maria” tot by die kansel begelei het. Pragtige ‘Blushing Bride’-proteas wat ek van Pietie le Roux van La Motte-wynlandgoed gekry het vir my ruiker – asemrowend, fyntjies en uniek. Oom Japie van Cullinan by wie ek al die verskillende en unieke proteas gekry het wat my twee wêrelde van Kaap en Gauteng in blomme kon verenig. On Que wat vir ons paar songs gesing het en César Alvarado van Adrelatin wat almal met heerlike Latynse sang en salsa op die dansvloer gekry het.

Daar was soveel liefde in die onthaalsaal dat dit my telkemale tot trane gebring het. Familie en vriende wat al die pad uit Australië, Nieu-Seeland en Kaapstad gekom het om ons dag te kom deel het my stomgeslaan. En my skoene was vanuit die hemel. Ek het dit 2nm aangetrek en eers weer 1vm die volgende oggend uitgetrek en my voete was glad nie seer nie. En, ja, dit was hoëhak Tango-skoene wat ek spesiaal laat maak en bestel het.

Sou julle enigiets anders wou hê/doen?

Ja. Wetende wat ek nou weet van al die onvoorsiene onkostes en drama en stres wat met ’n troue se reël gepaard gaan, sou ek Chris se voorstel volg en weggaan, op ’n eiland gaan trou en ’n LANG, uitgerekte wittebrood in verskeie eksotiese plekke gaan hou met al die geld wat die troue ons gekos het. En dalk later sou ons in een of ander restaurant ’n ete reël met geliefdes en vriende.

My mantra aan almal en myself die hele tyd was: “Dit is net ’n partytjie. Die lewe daarna is baie belangriker.” Ek het pynlik agtergekom nie almal deel hierdie pragmatiese uitkyk nie en ek probeer nou nog ’n paar traumatiese gebeurtenisse verwerk.

Het julle ’n wittebrood gehad?

Nee, nog nie. Ek verstaan wel nou volkome hoekom mense wittebrood hou. Dit het niks met hul eerste reis saam as getroudes te doen nie. Dit het te doen met wegkom van alles en almal en om vir ’n klein rukkie absoluut niks te hoef doen nie en vir niks verantwoordelik te hoef wees nie. Troues is BAIE werk, al het jy hulp. En al weet jy presies wat jy wil hê.

Wat het verander na die troue?

Dit is nog te gou om te kan sê!

Wat is die waardevolste verhoudingsraad wat jy kan deel?

1. Ek het doelbewus my man deel van al die reëlings rondom ons troudag gemaak en gereeld sy insette gevra. Hy het immers baie goeie smaak. Almal gaan die heeltyd aan daaroor dat dit die bruid se groot dag is, maar ek stem nie saam nie. Dit is jul beide s’n. Ek wou hê dat hy homself geniet en ook wonderlike herinneringe van sy eie kon hê.
2. Nie almal wat vir jou glimlag is jou vriend nie. Wees versigtig met wie jy in jou binnekring toelaat.

Kyk hier onder na Chris en Eloise se troufoto’s.

Fotograaf: Gideon van Zyl
Eloise se rok: Immagika Creative Designs (Marlize Boshoff)
Chris se pak: Diaan Daniels
Strooimeisies se rokke: Heinrich Greyling Couture