Logo

Eksklusief: Boer Johan en Helen haak af

Nuus
20 Januarie 2016
Boer Soek ’n Vrou se Johan en Helen het die knoop einde verlede jaar deurgehaak. Ons het met hulle gesels, en deel ook eksklusief hul troufoto’s!
BSV Johan en Helen Trou

Johan en Helen se troufoto’s is geneem deur Alfred Lor van Shooot.


Boer Soek ’n Vrou se Johan en Helen het die knoop einde verlede jaar deurgehaak. Ons het met hulle gesels, en deel ook eksklusief hul troufotos!

Hoe het jy gevoel toe jy in die kerk instap?

Helen: Toe ek in die kerk instap, was dit die eerste keer wat ek rêrig besef het ek trou nou met my droomman... my oë het net vir hóm gesoek. ’n Mens is baie oorweldig deur al jou emosies, waarvan blydskap en liefde die grootste is.

Johan: Die senuwees het hoog geloop – my hart was bly en gelukkig. Uiteindelik het ek vrede gehad.

Wat het die dag ekstra spesiaal gemaak?

Helen: Om aan my droomman se sy te wees en al die mense wat wyd en suid gekom het om hierdie spesiale dag saam met ons te deel. Dit was dié sprokiestroue wat ek nog altyd wou gehad het.

Vertel ons ’n bietjie meer van die groot dag. Watter oomblikke het uitgestaan?

Helen: Die dag is in ’n oogwink verby. Die hele dag was soos ’n sprokie wat ’n mens net als inneem om altyd te kan onthou. Elke oomblik is op sy eie manier spesiaal en staan uit.

Johan: My gunsteling-oomblikke was die rit op die perdekar saam met die manne op pad kerkie toe, toe sy in die kerk afgestap kom, die foto’s na die tyd, my toespraak, elke dans saam met my vrou, asook die “Sexy Hoender”-dans saam met my legendariese hoofhoender, Dirkie Botma. En natuurlik die kuier saam met al ons gaste!

Waar het julle getrou en waar het die onthaal plaasgevind? Wat was op die spyskaart?

Helen: Van my kleindogtertjie-dae af het ek nog altyd gesê dat ek op ’n plaas wil trou in ’n ou stoor! Ons het op hierdie perfekte venue afgekom tussen Swellendam en Heidelberg – tussen die lande en in die vlaktes! En natuurlik ’n ou stoor! Die kerkie is seker 100 m van die onthaalsaal af en die venue se naam is Kapkamma Plaasvenue.

Ons wou vir al ons gaste onvergeetlike herinneringe gee op ons spesiale dag om vir altyd te kan onthou! Ons het ’n groot plaasmakietie gegooi, met heerlike boerekosse en twee musikante van Slangrivier wat musiek gespeel het terwyl ons foto’s gaan neem het. Daar was ook speletjies soos kettie skiet, Pick-Up Sticks, Jenga, ensovoorts, wat die gaste kon speel, en heerlike tuisgemaakte lemonade met aarbeie, suurlemoene en kruisement, en ’n blou alkoholiese drankie met ’n skop.

Ons gaste het heerlike roosterkoeke geëet saam met kaas en konfyte. Vir hoofgereg was daar Dan se ontbeende lam en gevulde hoenderrolle, gebakte aartappels met sampioensous, pampoenpoffertjies, beet-, feta- en neutslaai, groenteslaai en Jana se tuisgemaakte kolwyntjies en aarbeie. Daar was ook ’n aparte koek, wat ons gesny het.

Enige ander nuus of gebeure op jul troudag wat julle met ons wil deel?

Helen: Ons knielkussings is nou nog êrens verlore! Toe ons moet kniel weet niemand waar dit is nie, en een van die stooijonkers (Boemie Saaiman) val toe plat as knielkussing, waarna die dominee die seëngebed kon doen en almal met ’n ekstra glimlag die kerk kon uitstuur.

Helen, hoe het jy op jou rok se ontwerp besluit?

Johan het nog altyd gesê daar is niemand anders as sy niggie wat sy vrou se rok gaan maak nie. Ek en Anél (van Anél Botha Couture) het op Whatsapp heen en weer gekommunikeer oor presies wat ek wil hê (styl, kleur, rugkant en bandjies). Ek wou nog altyd ’n A-lyn-rok hê en ietsie anders, asook ’n beltjie of lint rondom my middel. Ek het nie voorof rokke gaan pas nie – ek het een tipe styl in gedagte gehad met ’n vuilpienk kleur. Ek het twee keer Johannesburg toe gevlieg om te gaan pas en het verlief geraak op my rok toe ek dit die eerste keer sien. Anél Botha Couture het my rok presies gemaak soos ek dit wou hê.

En Johan?

Helen: Johan se uitrusting was ’n ander storie… skoene, pak, belt. Baie van die mooi pakke word nie gemaak om oor boerseuns se kuite te pas nie! Ek het op die ou einde in Pretoria ’n pak gekoop en gehoop dit pas. Ek het gedink ek sal dit terug moet spoedpos as dit nie gaan pas nie, maar gelukkig het Johan baie daarvan gehou en het dit gepas!

Vertel ons van die wit perd op jul troufoto’s.

Helen: Dit is dieselfde perd as op ons verlowingsfoto’s (die ring was in sy maanhare gevleg). Hy het saamgekom om ons spesiale dag nog meer spesiaal te maak. Sy naam is El Sawan en hy is geteel deur Liezl Els van Agmal Arabians. Sy het perde in Suid-Afrika, België en die VSA. Saffie kom van Amerika af, en ons het hom as ’n geskenk gekry van haar af.

Waar het julle/gaan julle wittebrood hou?

Helen: Ons was na die troue vir vier dae Knyna toe, waar ons lekker gerus en geëet het, Canopy-toere gaan doen het en bietjie winkel toe is met ons trougeld. Vir ons regte “wittebrood” wil ons graag Thailand toe gaan! Ons sal êrens in die jaar gaan!

Wat is jul toekomsplanne? Waarna sien julle die meeste uit?

Helen: Ons toekomsplanne is om elke dag aan ons verhouding te werk en elke dag net liewer vir mekaar te word, om die boerdery voortdurend te laat groei, om ons drome na te streef en die ander een te help om suksesvol te wees en om beste uit mekaar uit te bring. Ons droom is net om gelukkig te wees.

Kyk hier onder na Johan en Helen se troufoto’s:

Gallery


Kyk ook hier na Boer Gerrie en Carna se troufoto’s.