Logo

Droomdag: Eksklusief op BoxOffice

Nuus
21 April 2017
Willie Esterhuizen se nuwe “chick-fliek” Droomdag is eksklusief op DStv se BoxOffice beskikbaar.
Droomdag Bill

Op Maandag 24 April maak DStv se BoxOffice geskiedenis deur vir die heel eerste keer ’n plaaslike film nét op dié platform vry te stel.

Droomdag, ’n kykNET Film, is glad nie in bioskope te sien nie. Dit gaan teen die norm van kaartjiekantore en gee jou die geleentheid om dit direk te huur in die gemak van jou huis.

Droomdag is uit die pen van legendariese akteur, draaiboekskrywer en film- en televisievervaardiger Willie Esterhuizen, alombekend vir gewilde komedies soos Vetkoekpaleis, Orkney Snork Nie en Molly en Wors sowel as die gewaagde komedies Lipstiek Dipstiek, Poena is Koning en Stoute Boudjies.

Hoewel daar beslis elemente van Willie se kenmerkende styl teenwoordig is in die film is Droomdag ’n romantiese film gemik op vroue. Die film volg die beeldskone Tanya Stark, ’n mooi en jong vrou met ’n lae selfbeeld en ’n neiging om vir die verkeerde mans te val. Op die onwaarskynlikste oomblik in haar lewe vind sy haar ridder op sy wit perd, maar gaan dit hou tot by die kansel?

Willie het besluit om ’n “chick-fliek” te maak as gevolg van die vroue in sy lewe: “My dogters het my gevra hoekom ek altyd net sulke ‘men behaving badly’-flieks maak waar al die hoofrolle deur mans gespeel word. Ek het toe vir hulle gesê ek beskou dit as ’n uitdaging en ek gaan nou ’n ‘chick-fliek’ skryf en al die hoofrolle gaan net vroue wees. Ek gaan dit ook só skryf dat die hoofrol die aktrise gaan rek om van komedie tot tragedie en alles tussenin te speel. My vrou en dogter stem nou saam dat ek dit met Droomdag reggekry het, en dat hulle verbaas is ek weet so baie van wat in hulle koppe aangaan, en dat hulle my nou moet ‘watch’.”

Juanita de Villiers strek elke toneelspelspier in die hoofrol as Tanya Stark. Die film spog ook met sterk ondersteunende rolverdeling soos Natania van Heerden en Shaleen Surtie-Richards. Dit bly getrou aan die formaat met heerlike vroulike karakters en verskillende weergawes van liefde en verhoudings. Hierdie sluit in Greta Keet, Maki Mokitli, Keyuri Naidoo, Adriana Faling en Leandry Smith.  

Sepie-akteur Marcus Miller (Egoli, Villa Rosa) is die ridder wat ons heldin se knieë lam maak en Kaz McFadden is haar beste vriend, Nolan. Kyk uit vir Thiart Li, bekende en gewilde Idols SA-deelnemer Shenay asook Neels Clasen en Dambuza Nqumashe.

“Plaaslike Afrikaanse films het oor die afgelope jaar uitsonderlik goed presteer op ons BoxOffice-diens met noemenswaardige belangstelling in veral films soos Vir Altyd, Vir die voëls en As jy sing. Hierdie dien beslis as ’n bewys dat ons kliënte mal is oor romantiese komedies en veral komedie met ’n plaaslike geur,” sê Aletta Alberts, MultiChoice se algemene bestuurder vir inhoud.

Droomdag is vervaardig deur Westel Films, die produksiemaatskappy van Willie en Pieter Esterhuizen met die hulp van M-Net en kykNET Films.

DStv-intekenare kan Droomdag vanaf Maandag 24 April op BoxOffice aflaai, aanlyn of deur hul PVR’s kyk. Die film is ook beskikbaar vir verbruikers wat nie DStv-intekenare is nie deur BoxOffice aanlyn.