Logo

Digitale projekte – Silwerskermfees 2019

Nuus
15 Augustus 2019
Vind meer uit.
Silwerskermfees_Billboard 1600 x 640

Vanjaar is kykNET trots om die vier digitale projekte aan te kondig wat tydens vanjaar se 9de Silwerskermfees gaan meeding. Dié digitale webreekse maak hul debuut eksklusief by www.kyknet.tv op 21 Augustus 2019. Een wenner uit die vier word aangekondig by die toekenningsgeleentheid in Kampsbaai op 24 Augustus 2019. Die projekte wat meeding is as volg:

Afrikaans 101

Vervaardiger: Drikus Brand
Regisseur: Drikus Brand
Draaiboek: Janike Victor & Drikus Brand

Met:
Francois Coertze
Nicolene Valentine
Jaden du Plessis
Pieter du Toit
Haley Pieters
Claudia Valentine
Ozzy Mars

Opsomming:
Werner wil die kat in die donker knyp, maar Anton sal nie sy katjie sommer so maklik sonder 'n stryd afgee nie. Daar word klippe uit die pad gerol en strydbylle word begrawe terwyl daar vals beskuldigings en geld rondwaai. Ek gaan nou nie doekies omdraai of die perd voor die wa span nie, maar drink jou tiermelk of gooi 'n vloermoer, wie gee om, skuif net nader en lag 'n slag, vir Afrikaans, op vlak nog nooit gesien nie. Van die os op jas, gryp styf vas, Afrikaans 101.   #willerasiwiltyn
 

Deur die blare

Vervaardigers: Gideon le Roux, Louis Roux, Matthew Gardner, Zelna Prinsloo
Regisseur: Gerrit Schoonhoven
Draaiboek: Louis Roux

Met:
Philicity Reeken
Gideon le Roux

Opsomming:
Ná die onlangse dekriminalisering van dagga in Suid-Afrika het belangstelling in dié omstrede struik opnuut opgevlam. Dagga is lankal nie net studente, skollies en Koos Kombuis beskore nie – gebruikers sluit pensioenarisse, sakemense, boere en sporthelde in. Wie weet, miskien steek jou ouma elke nou en dan ‘n zol aan? Deur die blare breek die stigma en ontmasker stereotipes met 'n slim, toeganklike webreeks. Dit deel op ‘n speelse manier betroubare inligting oor dagga: van hoe om jou plantjie te kweek en versorg tot hoe om olie-ekstrakte vir mediese doeleindes voor te berei. Daar is ook ‘n prettige bak-en-brou-segment.

Groener

Vervaardiger: Gideon le Roux, Louis Roux, Matthew Gardner, Zelna Prinsloo
Regisseur: Matthew Gardner en Gideon le Roux
Draaiboek: Louis Roux

Met:
Dee Theart

Opsomming:
In elke 5 minuut lange episode van Groener word kreatiewe idees gedeel om ‘n kleiner impak op die omgewing te hê: van jou eie sjampoe maak en watter produkte om te vermy tot die aanbou van groente en vrugte met 'n hidroponiese stelsel. Elke week word ‘n ander aspek van 'n meer volhoubare lewe bekyk. Dié webreeks het 'n ligte, humoristiese aanslag en wys jou hoe min moeite dit verg om ‘n verskil te maak. Wie sê om groen te gaan kan nie pret wees nie?

Sans masker

Vervaardiger: Floris Groenewald
Regisseur: Floris Groenewald 
Draaiboek: Floris Groenewald

Met:
Mila Guy
Terence Bridgett

Opsomming:
“Wie is jy sonder ’n masker?” is die sentrale vraag waarom hierdie digitale dokumentêr draai. 

Sans masker bestaan uit onderhoude met akteurs in die teater se aantrekkamer voor 'n optrede. Daar word gekyk na die verskille in houding, lyftaal en reaksies wanneer mense nie 'n masker, grimering en kostuum het waaragter hulle kan wegkruip nie. Die resultaat is intieme portrette van akteurs tussen die waarhede van die werklikheid en die waarhede van teater.

Volg Silwerskermfees op FacebookTwitter en Instagram, en gesels met ons op sosiale media deur die hutsmerk #Silwerskermfees te gebruik.