Logo

‘Die Pro’ bied inspirasie vir oud en jonk

Nuus
13 Augustus 2015
‘Die Pro’, die fliekweergawe van Leon de Villiers se boek, draai binnekort by kykNET se Silwerskermfees.
kn_diepro_trailer_940

Leon de Villiers het in sy wildste drome nie kon dink dat die boek waarmee hy in 1997 die Sanlam-prys vir jeugliteratuur gewen het eendag in ’n fliek omskep sou word nie. Dit was reeds ’n groot verrassing toe sy boek gekies word as voorgeskrewe leeswerk in skole regoor Suid-Afrika. Nou, 18 jaar later, is die woorde, karakters en hart van Die Pro gereed om lewe te kry op die silwerdoek.

Die Pro draai in Augustus by kykNET se Silwerskermfees.



Met die kreatiewe insette van die draaiboekskrywer Tiaan van Niekerk en kykNET het Die Pro nou ’n nuwe baadjie gekry. Daar is besluit om ’n paar doelgerigte veranderinge te maak aan die boek se storielyn, maar die hart van Die Pro is steeds daar.

Die vervaardigers, Hoofkantoor Produksies, steek vir die eerste keer hul tone in die water met ’n vollengte fliek. Andre Velts is die regisseur.

Die Pro speel af in ’n fiktiewe kusdorp genaamd Vlakberg, waar die 17-jarige Tiaan Nothnagel se kommervrye tienerlewe tot stilstand geruk word met die dood van sy beste vriend, Dirkie Lawrence. Na dié gebeurtenis besluit Tiaan, ’n kranige branderplankryer, om nooit weer op ’n branderplank te klim nie. Hierdie word uiteindelik een van die groot kwessies wat opgelos moet word wanneer Dirkie se beeldskone suster, Yvette, haar by die groep tieners in Vlakberg aansluit. Kykers kan uitsien na ’n storie van hoop, grootword, hartseer, eerste liefde en natuurlik hope aksie soos wat die akteurs wêreldklas-branderplanktoertjies op die oop water uitvoer.

Edwin van der Walt (Ballade vir ’n Enkeling en Hollywood in my huis) vertolk die rol van Tiaan en die beeldskone Reine Swart (Villa Rosa, Somer Son) is Yvette. Top-akteurs soos Vilje Maritz, Arno Greeff, Neels van Jaarsveld, Albert Maritz, Bennie Fourie, Zakeeya Patel, Hélène Truter en Marcel van Heerden is ook in die fliek te sien.

Die Pro sal aanklank vind by oud en jonk. As jy glo in tweede kanse en dat die lewe altyd oor die dood sal seëvier, is Die Pro ’n fliek wat jy nie mag misloop nie. Die Pro begin op 18 September 2015 in teaters draai.

Vervaardigers: Tiaan van Niekerk, Annelie Bouwer, Starlyn George
Regisseur: André Velts
Skrywer: Tiaan van Niekerk
Kinematograaf: Eduan Kitching
Waterkinematografie: Wayne de Lange
Redigering: Linsen Loots
Oorspronklike Musiek: Wynand Delport
Met: Edwin van der Walt, Viljé Maritz, Reine Swart, Arno Greeff, Bennie Fourie, Zakeeya Patel, Neels van Jaarsveld, Albert Maritz, Hélène Truter, Marcel van Heerden en Morné du Toit