Logo

Dié keer staan Tiaan in beoordelaarskoene

Nuus
20 Maart 2015
Tiaan-Profiel

Tiaan Langenegger is Koekedoor se jongste beoordelaar, maar is reeds vir jare doenig agter die kospotte. Saam met Mynhardt Joubert was hy in 2013 die wenner van die eerste reeks van Kokkedoor. Ons het by hom gaan hoor hoe dit was om dié keer in die beoordelaars se skoene te staan.

“Dit was ’n fantastiese ondervinding, en ’n groot voorreg om in hierdie posisie te wees. Dit het ’n rukkie gevat om gewoond te raak aan die woorde wat ek moet leer maar ek het gou in die ding gekom en dit elke dag net meer geniet,” sê Tiaan.

“Dit was maar altyd moeilik as iemand huis toe moes gaan, want ek weet hoe dit gevoel het om elke keer met daardie stres te sit.”

Hy het beslis meer begrip vir hoe moeilik dinge soms vir die beoordelaars kan wees: “Ons as deelnemers daardie tyd het nie besef hoe baie dinge agter die skerms en na die tyd gebeur om die hele produksie mooi en professioneel te laat lyk nie. Nou was dit vir my baie lekker om deel te wees van daardie proses. Ek sal dit enige dag weer doen.”

Daar was natuurlik oomblikke wat die beoordelaars kon sien dat ’n deelnemer besig is om aan te jaag, en dan moet ’n mens hárd op jou tong byt om niks te sê nie. “In so ’n geval moet mens ook die persoon se vermoë om ’n fout reg te maak toets, en as jy hulle help neem jy dit weg van hulle,” sê Tiaan.

Dit het gereeld gebeur dat hy werklik trots was op wat ’n deelnemer vermag het.

“Omdat hierdie bakkers nie professioneel opgelei is nie, was ek baie keer uit die veld geslaan met hulle vermoë en het selfs lekker wenke opgetel. ’n Tuisbakker doen soms net iets ’n bietjie anders omdat hulle dalk nie die ‘regte’ manier weet nie. Ek sê altyd, daar is ’n regte en ’n verkeerde manier om iets te doen, maar baie keer meer as een regte manier.”

Vir Tiaan is die lekkerste deel van TV-werk om die eindresultaat te sien en te besef waarnatoe jy in staat is.

“Maar die hele proses, veral die kamerawerk, is vir my baie interessant. Ek sal graag meer oor dit wil leer in die toekoms. Ek geniet dit om na alles te kyk wat mens nie noodwendig mag sien op TV nie, byvoorbeeld kamerahoeke en klank.”

As hy nie sjef was nie, sou Tiaan graag iets met musiek of fotografie wou doen: “Solank dit net iets is waarin ek kreatief kan wees, sal ek gelukkig wees. Iets wat nie elke dag diselfde is nie.”



Koekedoor is op Facebook, Twitter en Pinterest.