Logo

Die geskiedenis van Barakat

Nuus
04 November 2021
Die Moslem-geloof en Kaap-Maleise tradisies word gevier in dié Afrikaapse film.
Barakat Landscape Poster

Om die tradisie van Barakat te verstaan, moet jy eers die geskiedenis van die mooi gebaar ken:

Barakat (of Barakah) is ‘n Arabiese woord, wat ‘seëning’ beteken. Barakat word tradisioneel gevier tydens Ramadaan (of Puasa). Tydens die maand van Ramadaan word daar gevas van sonop tot en met sonsondergang. Tradisioneel word daar aan die einde van die van die dag, net voor sonsondergang ‘n bord lekkernye gedeel met vriende, geliefdes en ook ander families in jou gemeenskap. Die simboliek agter die gebruik is om ander mense te seën met ‘n lekker bederfie om die breek van die dag se vas te vier.

Die doel van die bordjie lekkernye was om nie die meeste te gee nie, maar om te gee wat jy kan en om te deel wat jy het. ‘n Paar voorbeelde van lekkernye wat in so bordjie kan wees is: koekies, koesisters en samoesas. Tydens ander tye van die jaar kan Barakat ook beoefen word na Dhickr (tradisionele gebede), maar dan bestaan die pakkie meer uit vrugte en, as jy gelukkig is, ‘n bietjie geld.

Die film, Barakat, handel oor ‘n gesin, die David’ s, en hoe hulle moet vrede maak met hul Pa se afsterwe, asook hul Ma se nuwe liefde. Want hoe beweeg mens aan na die tragiese afsterwe van die patriarg in die gesin en hoe word daardie leemte weer gevul?

Om te verseker dat dié film so getrou as moontlik is aan die werklikheid, was daar gebruik gemaak van kulturele kenners, soos Jawaahier Pieterson en Abduragman Adams (van Suidooster-faam) asook Imam Yusuf Pandy om te verseker dat die Moslem-geloof en kultuur gerespekteer word.

Die filmmakers wat die taak aangepak het, is niemand anderste nie as Amy Jeptha en Ephraim Gordon nie.

Amy was betrokke by die film as regisseur en draaiboekskrywer, terwyl Ephraim betrokke was as vervaardiger en draaiboekskrywer.  Amy het al drie vollengte films vervaardig, onder andere, Ellen: The Ellen Pakkies Story wat ook Suid-Afrika se 2018 Golden Globes genomineerde film was.

Ephraim het ‘n graad in teaterwese verwerf by die gesogte Universiteit van Kaapstad. Daarna het hy gewerk as ‘n ‘storyliner’ vir plaaslike televisiereekse. Tans werk hy aan twee reekse wat in die ontwikkelings-fase is vir die Mnet-groep.

Die gerekende span was al voorheen ook deel van ander projekte soos: Trackers (Mnet), Noem my skollie, Nommer 37, Suidooster en Sara se geheim.  

Volg dié skakel om meer uit te vind van die karakters in die film, asook die akteurs wat hulle vertolk.

Barakat is die Suid-Afrikaanse genomineerde film vir die 2022 Oscar-toekennings. Hou kykNET dop vir meer inligting oor wanneer die bekroonde film gaan uitsaai op kykNET, kanaal 144 asook wanneer die film beskikbaar gaan wees op die aanlyn-platform, Showmax.

Vir nog meer Afrikaanse films, skakel in op fliekNET, kanaal 149 en moet nie vergeet om saam te gesels op Facebook, Twitter en Instagram nie.