Logo

Die 11de kykNET Fiëstas - hier is die benoemdes

Nuus
08 Februarie 2021
Die kykNET Fiëstas vereer sedert 2011 jaarliks uitsonderlike prestasies in die uitvoerende kunste wat in die voorafgaande jaar by kunstefeeste te sien was. In 2020 was die uitvoerende kunste onder geweldige druk weens die Covid-pandemie. Daarom wil ons steeds en veral vanjaar die kunste en ons kunstenaars vier en vereer.
Untitled design

“Die doel van die Fiëstas wat vanjaar toegeken word, is om aan die feeste, die kunstenaars en die feesgangers hoop te gee,” sê Karen Meiring, M-Net-direkteur: kykNET-kanale. “Dit is belangrik om die bedryf erkenning te gee, vir die manjifieke werk wat op innoverende maniere steeds op verhoë en aanlyn aangebied is. Daar is vanjaar geskaaf aan sommige kategorieë en nuwes is bygevoeg om met die veranderende landskap van die uitvoerende kunste tred te hou.”

In 2020 het die deelnemende feeste – Toyota US Woordfees, KKNK, Suidoosterfees, Innibos, Vrystaatfees en Aardklop – kreatiewe maniere asook formate gevind om steeds die kunste na gehore te bring. Die Toyota US Woordfees het plaasgevind voor die Nasionale Inperkingstydperk op 26 Maart aangekondig is, met meer as 300 (leefstyl en diskoers gesprekke uitgesluit)produksies wat opgevoer is. Hiervan was 87 debuut produksies.

Die ander feeste kon nie op die tradisionele manier plaasvind nie, maar het die geleentheid aangegryp om gehore op ‘n nuwe manier te bereik. Die KKNK het hul eerste kortfilmprojek, Kortom, geloods, sowel as die Teksmark en Virtuele Galery aangebied, en Aardklop het die eerste Aardklop Aubade-konsert, in samewerking met die Afrikaanse Hoër Seunskool, aangebied. Met die Suidoosterfees se inryreater het  gehore die geleentheid gekry om in die gemak en veiligheid van hul motors na feesaanbiedings op die silwerskerm te kyk. Die Vrystaatfees het ook innoverende aanlynprojekte en -gesprekke aangebied.

Ter viering van die verskeie aanlynprojekte, het die Fiëstas-paneel besluit om ‘n nuwe kategorie, naamlik Beste aanlyn feesprojek, te skep. Dié kategorie vereer alle projekte wat feeste aangepak het om die kunste te laat voortleef tydens grendeltyd.

“Vir die paneel gaan dit nie daaroor dat die Fiëstas noodwendig móét plaasvind nie, maar dat die kunstenaars wat erkenning verdien, bekroon móét word,” meen Herman van der Westhuizen, sameroeper van die Fiëstas-paneel. “In ’n jaar waar kunstenaars, en ook hulle agter die skerms, onder moeilike omstandighede moes skep, was die paneel veral beïndruk deur die kreatiwiteit en nuwe idees wat na vore gekom het. Ons salueer die feesbesture en almal betrokke.”

Die kykNET Fiëstas-toekenningsgeleentheid sal vanjaar weens die tans geldende Covid-19-regulasies slegs ’n televisie-uitsending wees. Dit vind nie, soos gewoonlik, voor ’n teatergehoor plaas nie.

Die 11de kykNET Fiëstas sal op 7 Maart om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai word. 

Talle van die Fiësta-benoemdes en kunstenaars soos Corlea Botha, Lynelle Kenned, Devonecia Swartz en Elandré sal deel vorm van die televisie-uitsending onder regie van Hennie van Greunen en Pedro Kruger. Kykers kan uitsien na ’n aand vol vermaak en styl ter viering van die kunste.

En die benoemings is:

Beste akteur

Ben Pienaar – Match (Vrystaatfees)

Dean Balie – Die poet, wie’s hy? (Toyota US Woordfees)

Robert Hindley – Valsrivier (Toyota US Woordfees)

Stian Bam – Valsrivier (Toyota US Woordfees)

Beste aktrise

Anna-Mart van der Merwe – Valsrivier (Toyota US Woordfees)

Melanie Scholtz – Extra large, asseblief? (Toyota US Woordfees)

Nicole Holm – Tweespoor (Toyota US Woordfees)

Sandra Prinsloo – Spertyd (Aardklop)

Beste regie

Frieda van den Heever – Die poet, wie’s hy? (Toyota US Woordfees)

Janice Honeyman – Valsrivier (Toyota US Woordfees)

Marthinus Basson – Huppelkind (Toyota US Woordfees)

Nico Scheepers – Die engel by die dam (Toyota US Woordfees)

Beste teaterontwerp

Charl-Johan Lingenfelder – Musiekregie vir Die poet, wie’s hy? (Toyota US Woordfees)

Chen Nakar – Stelontwerp vir Die vermoeienis van vlerke (Toyota US Woordfees)

Elana-Mari Snyman – Stelontwerp vir Die sonkamer (Toyota US Woordfees)

Nico Scheepers – Stel- en beligtingsontwerp, choreografie en manipulasie van die marionet vir Die engel by die dam (Toyota US Woordfees)

Beste nuutgeskepte Afrikaans teks, verwerking of vertaling

André Gerber – Die sonkamer (Toyota US Woordfees)

Frieda van den Heever en Dean Balie – Die poet, wie’s hy? (Toyota US Woordfees)

Saartjie Botha – Valsrivier (Toyota US Woordfees)

Veronique Jephtas – Hoe change hulle (Toyota US Woordfees)

Beste prestasie in klassieke musiek

Bryan Wallick (klavier), Frank Stadler (viool) en Peter Martens (tjello) – Beethoven Triple Concerto (KKNK)

Hidden Colours of the Free State  (Vrystaatfees)

KSO – Mozart Wind Octets (KKNK)

Universiteitskoor Stellenbosch onder leiding van André van der Merwe – Etensuurkonserte en Gala-konsert (Toyota US Woordfees)

Beste prestasie in visuele kuns 

Barbara Wildenboer – KKNK-feeskunstenaar (KKNK)

Carol Brown, Zinhle Khumalo, Angela de Jesus (kurators) – Folds & Faults: An Exhibition of Women Artists (Vrystaatfees)

Dineke van der Walt (kurator) – KKNK se Virtuele-galery (KKNK)

John Anthony Boerma (kurator) – Innibos Nasionale Handwerkkunskompetisie (Innibos)

Beste musiekgedrewe produksie: buitelug en podium

Early B – Toyota US Woordfees

Karen Zoid: 20 Jaar Pops – Toyota US Woordfees

Klopse jol – Suidoosterfees

The Variety Show that Skriks vir Niks – Suidoosterfees

Beste musiekgedrewe produksie: teater

’n Lieflike lawaai – Toyota US Woordfees

Die poet, wie’s hy? – Toyota US Woordfees

Karoo Suite 2: Karoonagte – Toyota US Woordfees

Van Broadway na Birdstraat – Toyota US Woordfees

Beste aanlyn feesprojek

Die dans van my heenkoms – Vrystaatfees

Beethoven Triple Concerto – KKNK

#TsekCorona, Hot Gates, A Child in a Faraway Land, Die weduwee se kruik, The World in Union – Suidoosterfees

Virtuele kunsgalery – KKNK

Beste feesproduksie

Beethoven Triple Concerto – KKNK

Die dans van my heenkoms – Vrystaatfees

Die poet, wie’s hy? – Toyota US Woordfees

Valsrivier – Toyota US Woordfees

Beste opkomende kunstenaar

Lynette du Plessis – Krummelpap, afval en Sunlightseepbaddens (Toyota US Woordfees)

René Cloete – Huppelkind (Toyota US Woordfees)

Robert Hindley – Valsrivier (Toyota US Woordfees)

Wian Taljaard – Wag, wat?, Kraai, Lycra en petticoats (Toyota US Woordfees)

 

Soos gewoonlik gaan daar drie legendes met lewensbydraetoekennings vereer word.

Daar word vanjaar ook vir die eerste keer drie toekennings gegee aan jong kunstenaars wat vir ’n jaar gementor sal word om só hulle loopbane te bevorder.

Die Blou Fiësta, ’n prys vir ’n uitsonderlike en verdienstelike werk wat nie in een van die ander kategorieë val nie, word ook weer toegeken. Hierdie toekennings word die aand van die toekenning bekend gemaak.

Skakel dus die 7de Maart 2021 om 20:00 in op kykNET en wees deel van die teatervieringe!