Logo

Derde reeks van Mooimaak begin op kykNET

Nuus
01 September 2020
Mooimaak, Clare Wiese-Wentzel se baanbrekerreeks wat 14 mense op ’n inspirerende mooimaakreis neem, keer terug na kykNET op Donderdag 1 Oktober 2020.
Mooimaak 1600x640 Billboard

Dit is nou in ’n nuwe tydsgleuf om 21:00 en soos met die vorige twee reekse word deelnemers se lewens getransformeer met die beste en nuutste nie-chirurgiese kosmetiese behandelings, estetiese tandheelkunde, grimeerwenke, vars haarstyle en nuwe uitrustings.

Die reeks fokus weer onder meer op die nuutste tendense in gesondheid, gewigsverlies, sielkunde en alledaagse leefstyl in. Soos tevore span Clare die kundigheid en hulp van estetiese kenners en medici in vir die transformasies van deelnemers.

Clare ontmoet ook die deelnemers in hul eie huise, waar sy met familielede of geliefdes gesels.

Volgens haar gaan Mooimaak se transformasies, ver verby die uiterlike.

“Die deelnemers praat met baie moed, openlik met ons oor persoonlike hartseer en trauma,” sê sy.

CLARE OOR MOOIMAAK SE DERDE REEKS:

Wat is nuut in die derde reeks van Mooimaak?
Amper alles! Hoewel daar nog ’n groot fokus op voorkoms is, gaan dit baie verder as net gesig en vel. Ons leer elke deelnemer hoe om in hul alledaagse lewe beter na hul voorkoms te kyk soos met wenke om reg aan te trek (deur middel van ’n klerekas-omwenteling) en beter grimering te doen. Terselfdertyd is die nuwe reeks ook propvol leefstyl-verbeterings vir deelnemers. Só verras die Mooimaak-span elke deelnemer met ’n reuse verandering, buiten voorkoms, vir hul lewe. Meeste daarvan is verrassings, wat beteken daar is geen tekort aan opwinding nie! Ons het ook hierdie jaar ’n egpaar wat saam ingeskryf het, asook ’n  asook ’n man wat sy eie episode kry.

Hoe dink jy verander Mooimaak deelnemers se lewens?
Ons gee die deelnemers ’n nuwe uitkyk - nie net op die lewe nie - maar ook op hul identiteit en hul plek in die samelewing. Die span wys vir hulle dat dit nooit te laat is om die beste weergawe van jouself te ontdek, jou wildste drome na te jaag of jou grootse struikelblokke te oorkom nie. Met die span kenners en ’n bietjie tyd en moeite, word ’n splinternuwe wêreld vir deelnemers gewys. Dit is vir my altyd spesiaal tydens ’n deelnemer se se Mooimaak-reis, wannneer sy of haar se stoutste verwagtinge oortref word. Dit wys jou net dat enige iets moontlik is en dat ’n mens nooit moet opgee nie. ’n Mooier, beter en gelukkiger “self”, is altyd binne bereik.

Hoe het die vorige reekse ’n impak op jou of jou siening van die lewe gehad?
’n Mens besef net elke keer hoe onregverdig die lewe kan wees. Maar dit gesê, is ek voortdurend herinner aan die volgende: hoe jy hanteer dit wat met jou gebeur, is die grootste bepaler van geluk en tevredenheid. Wayne Dyer het immers gesê: “As jy verander hoe jy na dinge kyk, verander die dinge na wat jy kyk.” Om dankbaar te wees vir dit wat jy het, al gaan dit hoe sleg met jou, is jou grootste superpower - ongeag wat jou omstandighede is.  Sommige mense het alles, maar is altyd op soek na nóg meer en bly ongelukkig; terwyl ander, wat minder het, weer ware geluk ken en is dankbaar vir wat die lewe hulle bied.  Ek leer so baie by ons deelnemers en hulle inspireer my keer op keer.

Hoe het Covid-19 die vervaardiging beïnvloed?
Dit was uitdagend, maar ons span was baie professioneel en versigtig terwyl daar streng protokol in plek was om almal te beskerm.  Ek voel dit is juis tydens so ’n groot wereld-krisis wat mense die hoop en inspirasie, wat ’n reeks soos Mooimaak kan bring, dringend nodig het en met ope arms verwelkom.