Logo

Classics is Groot betower vir ’n tweede keer

Nuus
25 Junie 2017
Die tweede Classics is Groot, wat op 23 en 24 Junie in die Moreletapark Ouditorium in Pretoria plaasgevind het, het weereens die gehoor betower.
Classics Throwback Bill

Hoendervleis-oomblikke soos die Coleske’s se terugkeer na die verhoog, Amira se duet saam met Corlea en ’n uittreksel uit die ongelooflike The Phantom of the Opera met Joseph Clark het die Classics is Groot-gehoor in ’n staande ovasie gelaat.

“Dit was wonderlik om op so ’n groot verhoog te staan,” het die Nederlandse sangsensasie, Amira Willighagen, wat vir die tweede keer op die Classics is Groot-verhoog te sien was, gesê. Willighagen was verheug oor die gehoor se entoesiasme oor haar optrede.

“Die reaksie was enorm, en ek is baie trots op hierdie konsert,” het Barry Pretorius, regisseur van Classics is Groot, gesê.

Gallery

’n Optrede eksklusief tot vanjaar se konsert was die terugkeer van die Coleske’s na soveel jare. Die gehoor is betower met die ongelooflike “All I Have To Do Is Dream”, wat hulle a capella gesing het.

“Dis nie ons plek om kommentaar te lewer oor die sukses van die konsert nie, maar eerder die meer as 6500 toeskouers per konsert wat ons so ongelooflik ondersteun,” het Arnold Coleske en Brendon Hargroves, uitvoerende vervaardigers van dié konsert, gesê.

Van die ander uitstaan-oomblikke sluit in Touch of Class en Monique Steyn se duet, “The Prayer”, en “Let It Be” met Tarryn Lamb en Stefan Bezuidenhoudt. Die bekroonde pianis Charl du Plessis het ook die gehoor betower met sy vlytige vingers op die klavier.

Volg Classics is Groot op Facebook en Twitter vir die jongste nuus.

Classics is Groot word op 25 Desember om 21:30 op kykNET uitgesaai.