Logo

Boer soek ’n vrou Seisoen 8: Só lyk die Boere

Nuus
11 Mei 2015
Die tien hubare Boere – agt mans en twee vroue – wat aan die agtste seisoen van Boer soek ’n vrou gaan deelneem, is pas bekendgemaak.
BSV Screen

Die tien hubare Boere – agt mans en twee vroue – wat aan die agtste seisoen van Boer soek ’n vrou gaan deelneem, is pas bekendgemaak.

Aanbieder Nadia Beukes gaan vanjaar weer saam met die Boer soek ’n vrou-span reis, en die Boere bystaan in hul soeke na ’n ander helfte. Vanjaar se hubares boer van Worcester tot by Hopetown, en hul ouderdomme wissel van 24 tot 57.

Watter van dié maatsoekers pas by jou?

PJ (24) is ’n student in B.Com. (logistiek) boer deeltyds met Boran-beeste en wild op hul familieplaas in die Ficksburg-omgewing. Sy ideale maat is spontaan en lewenslustig.

Louwrens (33) is ook ’n Vrystater, en bedryf ’n gemengde boerdery saam met sy pa in die Clocolan-omgewing. Hy beskryf homself as “groot, maar met ’n sagte hart.”

Manne, skuif nader. Diana (42) boer naby Pongola, in Kwazulu-Natal, met tamaties en suikerriet. Sy is lief vir sport en motorfiets ry, en dis vir haar belangrik dat die man in haar lewe by haar familie kan inskakel.

Ignus (27) van Delaryville beskryf homself as ’n platjie wat dit geniet om poetse te bak. Hy kan nie wag vir “Mrs. Right” om haar opwagting te maak nie.

Niel (29) is ook van die Noord-Wes, en is ’n saggeaarde man wat nie maklik kwaad word nie.

Derius (31) is van Hopetown se wêreld en geniet enige aktiwiteit wat die adrenalien sterk deur sy are laat pomp. Hy meen hy kan stabiliteit en ’n kwaliteit-lewe vir die vrou in sy lewe bied.

Ook van die Noord-Kaap, in die Marydale-omgewing, is Gawie (25). Spontane vroue trek sy aandag, en hy is verder op soek na iemand wat sy beginsels deel.

Helen (29) kom uit ’n familie van vroueboere. Dié skaapboer van Bloemfontein hoop om haar huweliksmaat op die program te ontmoet. Haar ideale man is iemand wat haar sal uitdaag en ondersteun.

Michael (57) boer onder meer met boerbokke en volstruis tussen Uniondale en Oudshoorn. Hy was getroud en het twee kinders, en meen hy is reg om die liefde weer ’n kans te gee.

Nóg ’n boer wat dié kans wil waag, is Christiaan (48). Dié wynboer van Worcester het twee seuns uit ’n vorige huwelik en is op soek na iemand om die lekker dinge in die lewe saam met hom te deel.

Trek een van dié Boere jou aandag? Wil jy graag op ’n plaas woon? Is jy ongetroud en op soek na jou ideale pasmaat? Is jy ouer as 21? Skryf dan gerus in om deel te wees van hierdie avontuur.

Inskrywings sluit op 27 Mei 2015. Kontak Nini by Lion’s Head Productions indien jy enige verdere inligting benodig: 072 531 0797, of stuur ’n e-pos na [email protected].