Logo

Boer Soek ’n Vrou se Johan en Helen raak verloof

Nuus
14 Augustus 2015
Johan, wat aan die vorige seisoen van Boer Soek ’n Vrou deelgeneem het, het sy Helen vroeër die week die jawoord gevra.
Johan Helen Verloof

’n Verloofring in ’n perd se maanhare gevleg. Dís hoe Johan, wat aan die vorige seisoen van kykNET se werklikheidsreeks Boer Soek ’n Vrou deelgeneem het, die jawoord aan Helen gevra het.

Eers moes hy haar in die veld kry.

“Ek het vir haar gesê sy moet gemaklik aantrek en saam met my gaan stap; die Meatmaster Gennootskap soek foto’s vir ’n artikel oor paartjies wat saam boer,” vertel Johan.

Toe hulle tussen die riete deurstap, toe staan ’n pronkende wit perd – dieselfde perd waarop Helen die vorige Saterdag op vriende se plaas gery het, nou háár perd – en wag.

“’n Vriend se laaitie het die perd vasgehou,” sê Johan. Hy het die ring, fyntjies gevleg in die ligte maanhare, afgehaal voordat hy op sy een knie gesak het.

“Sy is erg oor hierdie perde-besigheid,” sê Johan. “Ek het toe besluit ek gee die ring en die perd sommer saam-saam.

“Dis nou of nooit. Hoekom moet ’n mens tyd mors?”

Johan en Helen het sowat drie weke gelede ouers gevra, en Helen moes vir Johan “wys van watter ringe sy hou”.

“Ons het oor die ring gepraat, so ek het geweet iets kom, maar ek het nie gedink dit sou Maandag wees nie,” sê Helen.

Johan het in Desember Ladismith toe getrek en Helen het in April by hom aangesluit. “Langafstand het nie vir ons gewerk nie,” sê Helen. “Ek is baie bly om hier te wees. Ek het nog altyd gesê ek wil op ’n plaas bly.”

Die geleenthede op dié plaas is “baie beter”, sê Johan. “Die leefstyl het ook baie met Helen te doen.”

Hoe hou Helen haarself besig? “Sy kyk na my!” sê Johan. “En sy boer bietjie saam met my.

“Ek is maar hardkoppig. Helen het ’n mooi, kalmerende effek op my,” sê hy.

Johan het verlede jaar op die kassie gesê hy het vrede met Helen as sy keuse, en Boer Soek ’n Vrou-kykers was verheug toe Helen saam met hom by die reünie opdaag.

Vir die boere wat aan vanjaar se seisoen van Boer Soek ’n Vrou deelneem, het hy die volgende raad: “Keep it real. Moenie vir jouself lieg nie. En luister. Om te kan luister is ’n volwasse ding.”

Johan en Helen beplan om later vanjaar, op 28 November, die knoop deur te haak.