Logo

Boer Soek ’n Vrou se Hennie vra die jawoord

Nuus
03 Junie 2017
Dit is ’n liefdesverhaal so reg uit die boeke: Boer Soek ’n Vrou se Hennie en Jacobu is verloof!
Boer Hennie Bill

Hennie het deelgeneem aan seisoen 9 van die gewilde kykNET-reeks Boer Soek ’n Vrou.

Hennie het Saterdagoggend vroeg op sy plaas op Willowmore, op die berg waarheen hy haar die eerste keer geneem het, die ja-woord gevra.

“Dit was vir haar ’n groot verrassing,” sê hy. “Ek het ’n piekniek gepak en koffie en vir haar haar ’n bos rooi rose gegee. Sy hou nie van rooi rose nie, en ek moet iewers darem ’n bietjie haar been trek!”

Toe Hennie haar vra watter tipe ring sy graag wou hê as hulle eendag verloof sou raak, het sy geantwoord: “Plain en klein”. Hennie het toe ’n juwelier, Garnet Visagie van GEV Jewelry, gaan sien, wat iets baie spesiaal vir haar ontwerp het.

Lees ook: ’n Kans om lief te hê

Met die inskryf vir Boer Soek ’n Vrou, het Hennie nooit gedink dat hy sy trouvrou sou ontmoet nie. “Ek is so dankbaar vir die hele kykNET en kan net vir die Boer Soek ’n Vrou-span baie dankie sê.

“Jacobu beteken die wêreld vir my. Ek het die jackpot geslaan. Ons storie is hopelik ’n storie van hoop vir mense. Daar is soveel lelik wat in die wêreld aangaan, maar ’n mens kan liefde vind.”

Die pragtige ring! Foto: Verskaf

En wil hy steeds orrelpypies hê soos hy reg aan die begin van die negende seisoen gesê het? “Nie nou dadelik nie, maar as dit eendag gebeur sal dit ’n voorreg wees. Ek wil net twee tweelinge hê,” spot hy.

Baie geluk, Hennie en Jacobu! Ons wens vir julle ‘n vreugdevolle lewenspad saam toe.

Boer Soek ’n Vrou se tiende seisoen skop af in Oktober! Gesels saam op sosiale media deur die hutsmerk #GroterBeterBoer te gebruik.