Logo

Boer Soek ’n Vrou: ‘L’ staan vir liefde én...

Nuus
01 Februarie 2018
Boer Soek ’n Vrou het ’n nuwe aanbieder!
Leah 1600 x 640

Die sanger Leah word die gesig van kykNET se gewilde werklikheidsreeks en sy sal die vyfde aanbieder van Boer Soek ’n Vrou, wat sedert 2007 uitgesaai word, wees.

Leah is ’n bekroonde kunstenaar en het al talle musiekpryse soos die Ghoema Nuweling van die Jaar-toekenning in 2016 en talle Huisgenoot Tempo-toekennings ingepalm. Deesdae is sy ook ’n aktrise en is in Maart in die nuwe kykNET-fliek, Susters, te sien.

Leer ken haar van nader:

 

Sy volg Minki Joubert as aanbieder op, wat die laaste twee jaar boere regoor Suid-Afrika besoek het.

Volgens Leah is sy reg vir die plaas en is dit vir haar ’n droom wat waar word om Boer Soek ’n Vrou aan te bied.

“Ek weet ek het groot skoene om vol te staan, maar ek is nie bang vir ’n uitdaging (of vir ’n bees, ’n skaap of ’n boer) nie,” sê sy.

“Ek sien baie uit om mense se lewens moontlik met die liefde te kan verander.”

Minki glo Leah is die perfekte keuse om haar opvolger te wees.

“Deelnemers en kykers gaan definitief aanklank by Leah vind, want sy is opreg en gaan sonder twyfel diep in almal se harte kruip,” sê Minki, wat die plaaspaaie groet omdat sy vanjaar haar derde kind in die wêreld verwelkom.

Goeie nuus vir TV-kykers is dat Minki steeds as veldaanbieder in Kwêla te sien sal wees.

kykNET soek ook tans boere om vir die elfde seisoen, wat van Oktober uitgesaai gaan word, in te skryf. 

AANDAG ALLE ENKELLOPENDE BOERE: Skryf hier in vir Boer Soek n Vrou 11.
 

Boere wat wil deelneem kan hier inskryf, die vervaardigers, March Media, by 079 335 5137 kontak, of ’n e-pos na [email protected] stuur. Inskrywings sluit 9 Februarie om middernag.