Logo

Boer Soek ’n Vrou: Geluk op ’n galop

Nuus
07 Desember 2017
Die dames is vandeesweek met ’n verrassingsuitstappie bederf.
BSV-Galop-Geluk

Baie glo perde se skoene, oftewel hoefysters, kan jou geluk bewaar, maar is iemand se geluk besig om uit te loop? FOTO: Getty

Die eerste keuse wink vir die boere, maar voor hulle die bul by die horings pak is pret en saamkuier aan die orde van die dag.

Het jy verlede week se episode misgeloop? Lees dan hier!

Om drie vroue onder een dak te hê is vir Boer Jacques “wraggies” lekker, en die spanningslyn is geensins styf getrek nie. Die dames “blink” vanoggend om die kombuistafel, lag hy.

Dié boer se plaas is ingewig tussen niks en nêrens, wat Jacques laat besluit om die skote te laat klap met ’n skiet-aktiwiteit. Melandri meen sy is die “pro” wanneer dit by skaapvang kom, maar Corné is die een om mee rekening te hou wanneer daar na ’n teiken geskiet moet word.

KYK: “Hulle wou net aanmekaar skiet!” Wat dink die dames van Jacques se keuse van aktiwiteit?

Corné sê Jacques sal nie toelaat dat ’n vrou op sy kop sit nie en het glo ewe gegrap: “As ’n vrou op jou kop sit, dan is daar plek vir ’n ander een op jou skoot.”

Na wat sy tot dusver gesien het, dink sy Corné gaan eerste wees om die plaas te verlaat, meen Danél, omdat sy haarself onttrek wanneer hulle saam met die boer skape vang. Melandri sê sy en die boer kom baie goed klaar en deel boonop ’n paar eienskappe.

Al maal die emosies in die dames se koppe, hou hulle die gesprekke lig en plesierig om elke oomblik saam te laat tel.

EKSKLUSIEF: Hoe vaar ons boere wanneer hulle ’n baba se doek binne een minuut moet omruil? Kyk hier:

Braam is beslis nie ’n oggendmens nie, merk Anene op. “Hy het nog nie vriendelik geraak nie, so ek wag nog vir dit!”

Die boer stem: “Moet my nie voor 7 uur in die oggend wakker maak nie. Ek sal eerder ’n bietjie laatlê.”

Wanneer die klomp uiteindelik ontwaak, neem Braam hulle om putt-putt te gaan speel. Sy keuse van aktiwiteit laat haar dink Braam “kom nie baie uit nie,” sê Anene. Braam wou egter ’n aktiwiteit kies wat sal help om uit te wys hoe die dames optree wanneer die kompetisie-vlammetjie begin brand.

Braam het wenke uitgedeel, maar seker gemaak die hooffokus bly op sy eie spel.

KYK: Is die putt-putt-baan vir almal so opwindend soos wat dit vir Braam is?

Janine meen Braam en Yola is goeie pasmaats en sy is ongetwyfeld die tipe vrou waarna die boer op soek is, terwyl sy en Anene dalk “te hardegat” is vir hom. Anene is nie seker of sy sal wil bly nie, terwyl Yola sê: “Ek hou al bietjie van Braam, ja. Hy is ’n oulike ou.”

Adriaan-hulle kies koers Witsand toe om by ’n broodbak-kenner te leer hoe om ’n ciabatta van deeg tot oond perfek te kry.

Maar daar word eers potspel gespeel en Anzelle word as stoksport-koningin gekroon. “Ek dink Anzelle het WP-kleure in pool, want sy het tot beter as ek gevaar!” spot Adriaan.

Danelle dink Adriaan het ’n baie unieke uitstappie gekies, en is aangenaam verras. Vir Anzelle is die broodbak-aktiwiteit ’n leersame ervaring, omdat sy nie baie koskennis het nie. “Hy weet baie meer as ek!” sê sy.

KYK: Kosmaak is een van Adriaan se passies, en hy en die dames kry wenke by ’n broodbak-kenner.

Helene sê sy sien uit om te sien of sy en Adriaan moontlik ’n pad saam sal kan loop.

Die boer dink op dié stadium hy sal by elk van die drie dames kan pas, so hy hoop hy maak die regte keuse wanneer hy die eerste dame huis toe stuur.

Op Johan se plaas word daar vandag salig perdgery en die atmosfeer is meer gemoedelik as die vorige aand, toe Marilyn effe uitgesluit gevoel het. Die boer vertel hy het haar ’n drukkie gegee om haar tuis en welkom tussen hulle te laat voel, waarna hy en sy drie gaste ’n aangename aand saam gehad het.

Tog hang daar vandag ’n donker wolk van onsekerheid oor die dames. Marinda vertel hul senuwees lol nadat Johan met hulle gedeel het dat hy weet wie hy gaan kies, en dat hy haar foto en brief weggesteek het agter ’n plakkaat met die woorde “My Ideal Wife” daarop.

Vir Johan is daar egter ’n silwer randjie: Hy kan elk van die dames nou dieselfde hanteer omdat daar nie meer druk is nie. “Ek ken myself en ek weet ek het reg gekies,” sê Johan.

KYK: Johan kies perdry as aktiwiteit, en verklap boonop dat hy reeds weet watter dame moet bly.

Dié boer is die een vir haar, sê Marinda. “Ek weet nie, miskien is dit Marilyn se ouderdom wat haar dalk kan uitgooi omdat sy dalk te jonk is, óf hy hou dalk van ’n jong poppie,” sê sy verder. “Ek dink dis ek en Marita wat gaan bly.”

Marita meen sy, Marinda en Marilyn sal elk op hul eie manier by Boer Johan kan pas. “Hy behandel ons al drie dieselfde,” sê sy.

Oor die keuse wat voorlê, sê die boer: “Ek weet wie huis toe gaan... Sy sal ’n wonderlike vriendin vir my kan wees vir die res van my lewe, maar daar is nie ’n romantiese konneksie nie.”

Ruan kies ’n spa-bederf as aktiwiteit, maar neem nie self deel nie. “Ek dink dit sou baie gemakliker gewees het as Ruan ook in sy japon gestaan het en gevoel het hoe dit vir ons voel!” spot Bianca oor die feit dat hulle ’n wit japon (wat enige oomblik kon oopwaai) moes dra.

KYK: Koue tone en ’n wit japon – die dames is gereed vir ’n spa-bederf, terwyl Ruan ’n ogie hou.

Ruan sê dis nou nie iets wat hy saam met drie verskillende meisies wil doen nie, maar “eendag saam met my vrou” sal doen.

“Ek is maar bietjie skaam oor my voete,” sê Marica. “My ma het gesê ek moet nooit ’n man in die somer kry nie, want ek het nie mooi voete nie – en nou moet my voete nog hier voor almal gewys ook word!

“Maar ek moet sê vir die bederf wat ek gekry het, was dit maar die moeite werd.”

Lucinda meen die vrou wat eendag vir Ruan kry, gaan weet sy het ’n “goeie man”.

Die boer sê self hy dink hy weet “waarna ’n vrou se hart smag”.

Donderdag om 20:00 moet die boere elk een dame huis toe stuur. Gaan hulle die regte keuse maak? Volg ons op FacebookTwitter en Instagram, en gesels saam by #GroterBeterBoer en #BoerSoeknVrou