Logo

Bly tuis met die kykNET-kanale se wintervermaak

Nuus
11 Junie 2018
Die winter is dalk behoorlik hier, maar kykNET se vermaak hierdie winter sal jou alles behalwe koud laat.
Kyk-Net_June_July_Shows_Billboard_1600 x 640

kykNET (DStv-kanaal 144) spog met van Suid-Afrika se top akteurs in die nuwe regsdrama, Fynskrif, wat vanaf 10 Julie om 20:00 te sien is. Kykers kan uitsien na persoonlike- en familiedramas tussendeur regsake. Vir die volledige rolverdeling, kliek hier.

Nataniël en sy broer, Erik le Roux, is vanaf 4 Julie om 20:00 terug vir die laaste in hul Nantes-trilogie, getiteld Edik van Nantes – Winter.  Vir die eerste keer bring ons die winter, sy geheime, sy kos, tradisies en rituele na die skerm – kyk dié opwindende video.

Dié winter is daar genoeg komedie om die lagspiere warm gelag te hou. Die dames van Elke Skewe Pot keer vanaf 9 Julie om 20:30 terug vir nog ’n seisoen. Nuwe gesigte sluit in Hélène Truter (wat die rol van ESP-eienaar Sandra vertolk), Kevin Smith (die aantreklike, chauvinistiese Renier) en Neels Claasen (Bennie se nuwe kelner/kroegman).

Op 11 Julie om 20:30 vervolg Eckard en sy familie se kaskenades in die klugkomedie, Die Kasteel. Elke week moet dié klomp kleurvolle gaste verwelkom. Daar is net een probleem: niemand weet wat hul doen nie!

Kry jou weeklikse koffie-fix saam met aanbieder Johrné van Huyssteen in die nuwe kykNET-reeks, Koffieboon, wat vanaf 4 Julie om 17:30 uitgesaai word. Unieke koffiewinkels, coffee in a cone en koffieburgers – dit en vele meer is op die koffiespyskaart. Lees meer hier, of kyk hierdie video

Jan Scannell braai oudergewoonte in prentjiemooi en ongewone plekke in Jan Braai vir Erfenis vanaf 6 Julie om 18:00. Dié keer trap hy ook fiets, onder meer van George tot in Swellendam.

Die wintervetjies hoef nie aan te pak nie – Slank-aanbieder Leandie du Randt Bosch gaan vanaf 2 Julie om 17:30 saam met vyf deelnemers uit die vermaaklikheidswêreld op ’n verslankingsreis – deelnemers sluit onder andere Kevin Leo en Mimi Mahlasela in. Vir meer inligting, kyk dié video.

As jy 60+ jaar oud is, kan jy gerus vanaf 5 Julie om 18:00 inskakel vir Met ’n huppel in die stap met aanbieder Riaan Cruywagen, vir kundige advies oor die lewe na aftrede.

Moenie bekommerd wees om uit te gaan in die koue as jy wil fliek kyk nie, want die kykNET Bioskoop sorg vir vier van die afgelope jaar se beste flieks in Julie. Maak seker om Saterdae om 20:00 in te skakel vir Vaselinetjie, Liewe Kersfeesvader, Uitvlucht en Dis koue kos, Skat.

kykNET&kie (DStv-kanaal 145) verwelkom vyf dinamiese dames vanaf 5 Julie om 20:00 op die kanaal. Zelda la Grange, Kay Karriem, Tracey Lange, Ingrid Jones en Success Lekabe gaan elke week in Tussen Ons gesels oor die dinge in die wêreld wat vir jou belangrik is. Ontmoet die dames hier

Top komedie wag op kykNET&kie-kykers met twee ou gunstelinge: Fishy Fêshuns, wat vanaf 3 Julie om 20:00 uitgesaai word, met die eienaar van Fisher Fashions, Harold Fisher, en Dino en die vyf vrouens (Patsy, Xoli, Rochelle, Katrien en Vera) wat vir Harold werk. Ons verwelkom ook die Van Tonder-gesin terug op die kanaal in Orkney Snork nie.

Ons is ook opgewonde om aan te kondig dat kykNET NOU! (DStv-kanaal 146) die openings- en afsluitingsgeleentheid van vanjaar se The 10th World Choir Games Tshwane uitsaai. Vanjaar se World Choir Games word deur Suid-Afrika aangebied en vind plaas in Tshwane vanaf 4 tot 14 Julie. Die Stellenbosch Universiteitskoor, wat beskou word as een van die beste kore in die wêreld, gaan ook deelneem.

Bly warm en op hoogte van sake deur ons op FacebookTwitter en Instagram te volg vir meer uitmundtende vermaak.