Logo
Binnelanders Slim Homepage 1600x160
web uni tv guide

Binnelanders

144Drama13

Binnelanders gaan na die buiteland

Nuus
17 Julie 2018
Is jou paspoort gereed om al die aksie, drama, intriges, en die onbekende aan te durf?
Binnelanders

Op Woensdag, 18 Julie, gaan Elana Bester (Ilne Nienaber) en Steve Abrahams (Clint Brink) van Binneland Kliniek die onstabiele terrein van die Kongo aandurf om hulp te verleen aan ’n veldhospitaal in die middel van nêrens – en hulle kry met baie meer te doen as waarop hulle hulself voorberei het.

Vegtende faksies, ’n geslote kabinet, twee onbekende dokters, en ’n rowwe landskap is maar net van die bestanddele waarmee die twee dokters gaan kennis maak sodra hulle in die Kongo land. Elana en Steve gaan blitsvinnig gewoond moet raak aan hulle nuwe omstandighede indien hulle van enige nut gaan wees vir dié veldhospitaal en sy pasiënte – en indien hulle dit wil oorleef gaan hulle hare op hulle tande moet hê.

LEES OOK: Welkom by die Binnelanders-familie

Niks is soos wat dit lyk in die Kongo nie, en op die ou einde van die dag is daar nie veel ontvlugting vir die twee dokters nie. Pretoria het sy probleme, hetsy professioneel of persoonlik, maar in die Kongo gaan dit oor oorlewing – en dit is dalk net hier waar Steve en Elana gaan besef dat hulle dit nie te sleg gehad het in die stad nie. Avontuur het natuurlik sy prys, maar is hierdie die prys wat hulle in gedagte gehad het toe hulle hierdie taak aangepak het? Net die tyd sal ons leer…




Steve en Elana hoef darem nie die Kongo alleen aan te durf nie: daar is reeds twee dokters by die veldhospitaal wat hulle kan bystaan. Charles Feeny (Conrad Kemp) is ’n geharde dokter wat weet wat hy doen in die verre vreemde, maar hy gaan beslis nie Elana of Steve se hande vashou in die onstuimige politieke landskap nie. Behalwe dat Charles alreeds gewoond is aan die gevare wat hulle elke dag in hierdie omstandighede moet trotseer, is hy ook ’n ou hand wanneer dit kom by die hantering van trauma.

KYK OOK: Die drama vervolg (deel een)

Jax Davids (Kim Syster), aan die anderkant, is ’n rabadoe wat nie doekies omdraai nie, en wat haar man kan staan in die ongenaakbare klimaat waarin hulle hulself bevind. Sy staan nie ’n tree agteruit vir die rebelle of die moeilike omstandighede waarin hulle probeer om mense se lewens te red nie. Die vraag is natuurlik net of sy weet wat sy doen, en of sy besig is om dinge aan te pak wat haar nie eintlik beskore is nie? Elana vir een vertrou nie vir Jax nie, en ’n mens moet maar net hoop dat hierdie twee vroue mekaar sal vind in die vreemde voor dit te laat is.

Jax en Charles het ook geheime van hul eie wat hulle probeer hanteer (en beskerm) te midde van die hitte en die lewensgevaar waarin hulle verkeer – wat natuurlik nie die omstandighede verbeter nie! ’n Mens word geken aan jou vriende, maar indien jou vriende vreemdelinge is, is dit ’n moeilike situasie om te bowe te kom.  

KYK OOK: Die drama vervolg (deel twee)

Om Elana en Steve se vuurdoop te kroon, kry hulle met die intrapslag te doen met van die rebelle, en dit sal enige mens die skrik op die lyf jaag. Odyn (Nyaniso Dzedze) is die tipe leier wat wreedheid ken, en dit gebruik, om vrees in te boesem, terwyl Mbo (Perebo George) en Richard (Lowembo Takoy) nie ver agter hul gevreesde leier staan wanneer dit kom by intimidasie en rampokkery nie. Hulle het hulle eie missie wat hulle op fokus, en die dokters in die middel van hul speelgrond maak dinge meer ingewikkeld vir hulle as wat hulle graag sou wou hê.


Daar wag ’n tawwe tyd op Elana en Steve in die Kongo, maar selfs nog ’n tawwer tyd op hul geliefdes in Pretoria, want ver in die vreemde is kommunikasie nie altyd so kristalhelder – of beskikbaar – nie. Wanneer dinge rof raak, en die raaisels net meer verdiep, en daar gaan antwoorde bekombaar is nie, is daar nie veel wat ’n mens kan doen as om te glo dat alles sal uitwerk soos wat dit moet nie. Indien die dokters net kan kophou met die taak op hande, en dit kon reg kry om te vergeet van hul omstandighede, gaan dinge dalk makliker raak vir hulle. Dit is ongelukkig nie hoe die Kongo werk nie, want in die Kongo is daar geen reëls nie.

Hou die kleinskerm dop vir ’n ontploffing van drama en aksiebelaaide storielyne in Binnelanders, elke weeksaand om 19:30, slegs op kykNET. Gesels saam op FacebookTwitter en Instagram met die hutsmerk #Binnelanders.