Logo

Afrikaanse Kultuurfees Amsterdam: ’n Fees van Afrikaans

Nuus
05 April 2016
Vanaf 8 April tot en met 10 April vind die 2016 Afrikaanse Kultuurfees Amsterdam (A.K.A) plaas op vier plekke in Amsterdam ter viering van Afrikaans.
Afrikaanse Kultuurfees Amsterdam 2016

Vanaf 8 April tot en met 10 April 2016 vind vanjaar se Afrikaanse Kultuurfees Amsterdam (A.K.A) plaas op vier verskillende plekke in Amsterdam: Compagnietheater, Melkweg, Zuid-Afrikahuis en Rialto Cinema.

Afrikaanse taal en kultuur is nie net sentraal tot dié fees nie, maar vorm ook ’n hegte band tussen Suid-Afrika en Nederland. Drie dae sal belaai word met musiek, literatuur, kinematografie, debat en kuns op vier pragtige plekke in die historiese middestad van Amsterdam.

Die A.K.A word gekenmerk deur sy diverse verskeidenheid musiek, met beide Nederlandse- en Afrikaanse kunstenaars wat gehoor kan word. Genres sluit onder meer hip-hop, rock, blues, jazz en wêreldmusiek in.

Jack Parow, Die Likt, Francois van Coke, Majozi, Leslie Javan en Tribal Echo is maar net sommige van die kunstenaars wat by dié fees verwag sal word.

Die band tussen Nederland en Suid-Afrika sal ook ten toon gestel word deur skryfkuns, met samewerkings van verskeie bekende skrywers, soos Antjie Krog, Tom Lanoye, Ingrid Winterbach, Ronelda Kamfer, Nathan Trantraal, André Trantraal en Bettina Wyngaard.

Daar is ook ’n verskeidenheid van eg Suid-Afrikaanse flieks op die program. Dit sluit onder meer in SinkAbraham, Ballade vir ’n EnkelingDis ek, AnnaFaan se trein, ’n Man soos my Pa.

Feesgangers kan gedurende dié drie dae ’n verskeidenheid werkswinkels bywoon wat gelei sal word deur verskeie Suid-Afrikaanse kunstenaars. Daarbenewens sal daar ook verskeie lesings bygewoon kan word waar voorsiening gemaak is vir debat.

Die A.K.A verwag vele internasionale gaste, en verwelkom verskeie sprekers en belangrike kulturele figure vanuit Suid-Afrika en Namibië.

Kom vier saam met ons fees in Afrikaans. Kry nóú jou kaartjies hier.