Logo
Fynskrif
web uni tv guide

Fynskrif

144Drama16 L

Tien vrae vir Louis Pretorius

Nuus
10 Julie 2018
Leer ken die man agter Die Boekklub en Fynskrif.
Fynskrif_Louis Pretorius

Louis Pretorius is ’n krag om mee rekening te hou. Nie net het hy lewe gegee aan trefferreekse soos Die Boekklub en Die Boland Moorde nie, dié man kan jou laat huil, lag en bevraagteken terselfdetyd. Die nuutste reeks uit sy pen, Fynskrif, is geen uitsondering nie. Die verfilming van die splinternuwe regsdrama het onlangs tot ’n einde gekom en nie eers die konstante roep van die hadidas kon dié produksie van stryk bring nie. Ons het by hom ingeloer. 

1. Hoekom het julle besluit om vir ’n verandering weer ’n regsdrama in Afrikaans te doen en watter internasionale regsdramas het Fynskrif geïnspireer?
Ons was lus om ’n tipiese Amerikaanse netwerkreeks te maak, waar daar “een saak”, hetsy medies / regte / misdaad, per week is en dan het jy persoonlike stories tussendeur. Ons het al misdaad gedoen en medies is moeilik, toe besluit ons op ’n regsdrama – wat nie makliker is nie. Maar daar is min Afrikaanse regsdramas en ons het gedink dit sal interessant wees om te ondersoek. Ons was ook lus vir ’n stadsomgewing. Fynskrif is ’n mengesel van Boston Legal, The Good Wife, Suits, Parenthood en Brothers & Sisters

2. Elke episode in Fynskrif fokus op ’n ander regsaak. Waar het julle al die sake gekry – was dit regsake wat regtig voorgekom het,  of is alles gefabriseer?
Albert, my skryf- en besigheidsvennoot, het ’n wonderlike, wonderlike ryk verbeelding. Meeste van die sake kom uit sy kop uit. Ek is te bang om te vra waar kry hy al die idees, so ek los dit maar in sy bekwame hande. As hy eers die storie uitgedink het, het ons saam verder daaraan getimmer en dan het ek dit in die draaiboeke verweef. 

3. In hoe mate fokus die reeks ook op die lief en leed van die regsgeleerdes se eie private lewens agter die skerms?
Fynskrif is soveel ’n familie - en persoonlike drama as wat dit ’n regsdrama is. Daar word gekyk na die komplekse verhouding tussen ouers en kinders, liefdesverhoudings en vriendskappe. Daar word ’n paar warm draaie onder die lakens gemaak en ons kyk ook na twee jong klerke se poging om aan te pas in die regswêreld. Dit is ’n mengelmoes van emosies in beide die regs en persoonlike wêrelde. 

KOM KUIER SAAM AGTER DIE SKERMS

4. Is Fynskrif ’n ware spieëlbeeld van hoe dit regtig in regsfirmas gaan of word dit so bietjie geromantiseer?
Dis TV. Ek dink alles word maar so bietjie geromantiseer. Ons het probeer om ’n balans te vind tussen realisme en fiksie. Hopelik sal die prokureurs ons vergewe vir die kreatiewe vryheid wat ons geneem het en aan die anderkant glo ons dit sal vir die kyker die regstegniese wêreld van terminologieë en wette so klein bietjie makliker verstaanbaar maak.  

5. Is jy self ‘n aanhanger van reekse soos LA Law, Boston Legal ens. En indien wel watter is jou gunsteling-reekse in hierdie genre?
Albert onthou LA Law. Ek’s bietjie jonk daarvoor (hy gaan my doodmaak oor daai stukkie inligting…). Die eerste regsdrama wat ek werklik gekyk het was Ally Mcbeal. Daarna, The practice. Boston Legal het my verby gegaan, maar ek is mal oor The Good Wife en Suits.  Ek hou van ’n vermenging van die reg en die persoonlike.  

6. Hoe lank het jy aan die reeks geskryf en het jy adviseurs in die regswese gehad wat jou geadviseer het en insette gelewer het?
Ek en Albert het so ses maande geskryf. Hy sou die regsstories uitdink en met verskeie prokureurs en regters konsulteer, dan sou ek dit vervorm in ’n draaiboek en die persoonlike stories byvoeg. Dan is dit terug na die prokureurs vir finale verstellings en dan eers is die tekste gefinaliseer. 

7. Fynskrif skitter met die room van ons akteurs – was dit moeilik om hulle almal vir 'n spesifieke tydperk vas te maak?
Hoewel daar 86 akteurs in totaal is, is omtrent net 14 van hulle hoofrolspelers. Die res is kameerolle wat vir ’n dag of twee inkom, so ons het darem redelik speling gehad. Maar dit het nog steeds ’n maand gevat om die skedule te finaliseer. Ons akteurs is baie besig. Dis al wat ek kan sê.

ONTMOET DIE KARAKTERS VAN FYNSKRIF

8. Het jy die hoofkarakters se dialoog spesifiek met die akteurs wat dit gaan vertolk in gedagte geskryf?
Nee. Ek skryf nooit vir ’n akteur nie. Ek skryf die karakter en dan kies ek die akteur wat die woorde en dialoog en karakter die beste vertolk. 

9. Vroue is deesdae baie meer op die voorgrond in die regspraktyk – het jy Fynskrif spesifiek so geskryf dat die vier vroulike karakters ook hul staal in ’n gewoonlik manlike gedomineerde beroep wys? 
​Ons het nie spesifiek daarop uitgegaan om vroue op die voorgrond te plaas nie, maar dit het so uitgewerk dat ons vier baie sterk vroue het wat meeste van die sake in die reeks hanteer. Dis eintlik ’n heerlike dinamika wat ontwikkel het en die aktrises, Tinarie van Wyk Loots, Cintaine Schutte, Kim Cloete en Crystal-Donna Roberts het ’n wonderlike innerlike krag tot die karakters gebring. 

10. Hoekom, volgens jou, moet kykers Fynskrif nie misloop nie?
Ek dink eerstens gaan die mense ’n paar goed van die Suid-Afrikaanse reg leer wat hulle nie voorheen geweet het nie. Dan is daar lekker persoonlike verhoudings wat mense sal interesseer. Ek dink ook die pas van die storie, die skietstyl en die moderne stadslewe maak Fynskrif ’n unieke reeks. 

Fynskrif saai Dinsdae om 20:00 op kanaal 144 uit. Moenie die opwindende nuwe regsdrama misloop nie. Gesels saam op FacebookTwitter en Instagram deur die hutsmerk #Fynskrif te gebruik.