Logo

Vaselinetjie binnekort op silwerdoek

Nuus
19 Mei 2017
Vaselinetjie, Anoeschka Von Meck se bekroonde jeugboek, word in September vanjaar as ’n film vrygestel.
Vaselinetjie Billboard

“Vaselinetjie” (Helena) Bosman, wat al sedert die boek se eerste vrystelling in 2004 in die harte van lesers kruip, woon by haar liefdevolle ouma en oupa in ’n piepklein dorpie in die Noord-Kaap. Op 10-jarige ouderdom word sy egter na ’n weeshuis in Gauteng gestuur omdat sy wit is en nie haar bruin oupa en ouma se regte kleinkind is nie. Dit is 1993, en Suid-Afrika staan op die kruin van onherroeplike verandering. Soos wat die land verander, só word Vaselinetjie in die vreemde, ongenaakbare en gevaarlike wêreld van die weeshuis ’n jong vrou.

Vaselinetjie is ’n film oor die soeke na identiteit en die lang pad na oorlewing om te ontdek wie jy werklik is; ’n huldeblyk aan die krag van die menslike gees, die mag van liefde en ons vermoë om ten spyte van alles wat teen ons saamsweer te triomfeer.

Lees meer oor die film hier onder.

Vaselinetjie is tot draaiboek verwerk deur Corné en René van Rooyen, met Corné ook as regisseur van die film. Saam was die paartjie ook medeskrywers en -vervaardigers van die film Hollywood In My Huis wat in 2014 vrygestel is. René was die draaiboekskrywer en regisseur vir Mooirivier (2015) en Corné was op sy beurt die regisseur van Sy Klink Soos Lente (2016).

Nicole Bond en Marguerite Van Eeden maak hul silwerskermdebuut onderskeidelik as jong en ouer Vaselinetjie Bosman. Rolverdeling sluit ook in Arno Greeff, Elzet Nel, Elani Dekker, Marise Loots, Anchen Du Plessis, Daniah De Villies en veteraanakteurs Royston Stoffels en Shaleen Surtie-Richards.

Kyk die lokprent hier onder:

Vaselinetjie, vervaardig deur Danie Bester en Saskia Schiel, is vanaf 22 September 2017 landswyd in teaters te sien.

Volg Vaselinetjie op sosiale media!

Facebook

Twitter

Instagram