Logo
La't Wiel slim billboard
web uni tv guide

La't Wiel

144MotorprogramPG

Vars vermaak in April

Nuus
13 Maart 2018
Hier is waarna jy kan uitsien op kykNET se familie van kanale.
Kyk-Net_March Article 1600 x 640 (1)

Maak gereed vir ’n winter propvol opwinding, met vermaak van die boonste rakke wat jou vasgenael sal jou voor die kassie. Hier is waarna jy kan uitsien: 

In die Kollig:


Mense Mense
Begin Maandag 9 April om 20:30 – TYDGLEUFVERANDERING: Nou elke Maandag om 20:00

Met Bobby van Jaarsveld, Sandra Prinsloo, Solomon Cupido, Crystal-Donna Roberts, Lea Vivier en Reynardt Slabbert

kykNET se nuwe komedie, Mense Mense, handel oor ’n groep vriende wat saam werk, kuier en woon – alles sommer in een gebou. Rossouw klop by sy ou universiteitsvriende, Julian en Liesl, aan om ’n nuwe lewe in die groot stad te begin, nadat sy huwelik op die rotse loop.

Met haar speelse en ontydige gekonkel, verseker Mientjie, die gebou eienaar, dat Rossouw in haar mikrobrouery op die grondvloer van die woonstelblok begin werk. Sy neem ook haar susterskind, Salomé, onder haar vlerk wanneer sy haar werk as rep van ’n plaaslike distilleerdery verloor. Julian en Sebastian bestuur hul app, Mense, saam in die kelder van die gebou, en Liesl droom van ’n wit rok terwyl sy vraestelle merk en vir haar lesse voorberei. Lees meer hier

Kô, Lat Ons Praat
Begin Sondag 1 April om 19:30 op kykNET&kie

Met Heinrich Wyngaard as aanbieder

Die bekende joernalis, radio-aanbieder en ’n gereelde bydraer tot kykNET se aktualiteitsprogramme, Heindrich Wyngaard, sluit in April by die kykNET-familie aan met die geselsprogram Kô, Lat Ons Praat.

Kyk die video hier onder:

Kô, Lat Ons Praat, oftewel KLOP!, gaan fokus op nuusmakers, helde, geskiedenis en ook ’n goeie skeut humor, terwyl dit nie sal skroom om ernstige kwessies te takel nie. Heindrich sal elke week gesprekke rondom aktuele kwessies vanuit ’n ateljee in Johannesburg lei. Hy sal bygestaan word deur veldaanbieders wat weekliks insetsels en onderhoude uit die Wes- Kaap, Gauteng, Noord-Kaap, Oos-Kaap, Weskus en selfs Namibië sal doen. Lees meer hier

Sara se Geheim 2
Begin Dinsdag 10 April om 20:00

Met onder andere June van Merch, Dawid Minnaar, Marlo Minnaar, Brendon Daniels en Nicola Hanekom

Al die bekende gesigte van die vorige seisoen is weer, asook ’n paar ander bekendes, is eersdaags te sien in die tweede seisoen van Sara se Geheim. Nuwe gesigte sluit onder andere Albert Maritz, Hannes van Wyk, Stian Bam, Suzanne Beyers, Marion Holm, Roeline Daneel, Martelise Kolver, Maurice Carpede, Marvin-Lee Beukes, Phillip Henn, Elana Afrika-Bredenkamp en Schalk Bezuidenhout in.

Kyk die video hier onder:

Maggie probeer steeds om haar gesin bymekaar te hou terwyl sy haar politieke loopbaan voortsit, maar die spanning in haar familie, sowel as haar donker geheim, maak hierdie ’n bykans onmoontlike uitdaging. Het Ricky die voorval oorleef? Hoe lank kan ’n mens jou geheime wegsteek. Lees meer hier.

Koekedoortjie
Begin Woensdag 4 April om 20:00

Met Nic van Wyk en Mari-Louis Guy as aanbieders

Eers was dit die kinders wat kosmaak in die kombuis met Kokkedoortjie. Binnekort is dit jong bakkers se beurt om mee te ding in die kombuis! Die tien Koekedoortjies is tussen nege en 13 jaar oud en van regoor Suid-Afrika. Aan die stuur van Koekedoortjie is die geliefde duo, Mari-Louis Guy en Nic van Wyk, en dis vir húlle wat daar weekliks beïndruk moet word. Ontmoet die deelnemers hier

Die Waarheid Naarheid
Begin Maandag 9 April om 20:00 – TYDGLEUFVERANDERING: Nou elke Maandag om 20:00

Met Schalk Bezuidenhout

Die Ware Naarheid is ’n satiriese nuusprogram, aangebied deur die komediant Schalk Bezuidenhout. Schalk bring met behulp van sy korrespondente (Erns Gründling en Bibi Slippers) vir kykers tong-in-die-kies berigte oor aktuele sake.

Hy gesels ook met bekendes om ’n alternatiewe blik op die jongste nuus te kry. Hoewel die program propvol grappe is, is dit beslis nie ’n grap nie: dit sal jou help om sin te maak van alles wat aangaan sonder om jou te bedruk of te verveel. Met Die Ware Naarheid kry jy jou weeklikse dosis nuus met ’n goeie skeut humor in – want dis soms die enigste manier om die nare waarheid te verteer.

Boer soek ’n Vrou 11 (loodsepisode)
Sondag 1 April om 21:00

Met Leah as aanbieder

Aangename kennis: die tien boere word deur Leah aan die kykers bekendgestel. Die hele proses van die reeks word verduidelik, en kykers word uitgenooi om te skryf vir die boere.

 

kykNET, DStv-kanaal 144:


Die kykNET Ghoemas
Sondag 29 April om 20:00

Hierdie jaar het die kykNET Ghoemas een doel voor oë: om vir vermaak te sorg wat innoverend en op die standaard van die grootste internasionale toekenningsgeleenthede is.

Maak gereed vir ’n visuele fees waar die kykers meegevoer sal word deur ’n kombinasie van uitsonderlike musiek, grafiese kuns, dans en natuurlik optredes deur van die mees geliefde kunstenaars wat ingeskryf het vir hierdie jaar se toekennings.

Elkeen van die sewe optredes het ’n totale unieke aanslag – van stop motion-fotografie en interaktiewe choreografie, tot hip-hop en kontemporêre danskoreografie wat monde sal laat oophang. Hierdie jaar se Ghoema-vermaakspyskaart waarborg om só uiteenlopend te wees soos die Afrikaanse musiek landskap self. Moet dit nie misloop nie.

Die Afrikaners
Begin Sondag 8 April om 20:00

Die Afrikaners is ’n dokumentêre reeks wat gebaseer is op Herman Giliomee se boek met die gelyknamige titel. Met Die Afrikaners: ’n Biografie vervleg Hermann Giliomee die jongste internasionale insigte met ’n leeftyd van sy eie navorsing in ’n vars relaas oor ’n omstrede onderwerp.

Leef jou Reis
Begin Woensdag 11 April 20:30

Met Gerrie Pretorius as aanbieder

Leef jou Reis is kykNET se eerste volwaardige internasionale leefstylprogram met die fokus op ander lande se kultuur. Gerrie verken en wys ons die unieke reisbestemmings wat hom na aan die hart lê en hoe gemaak as jy dit ook wil besoek. Die program is al bekend daarvoor dat hulle soms die ongewone doen, behoorlik onder ’n land en sy mense se kultuur inklim en gereeld die afdraai paaie vat – veral as dit met die 4 x 4 iewers in Afrika is. Vanjaar wag daar weereens ’n klomp opwinding: van ongelooflike natuurtonele in Ysland, tot die beeldskone woestyne van Jordanië – en natuurlik ook ’n hele rits 4 x 4 bestemmings.

Dorpsdraai
Begin Maandag 2 April om 18:00

Met Rian van Heerden as aanbieder

In hierdie program besoek Rian van Heerden en dr. Emil Nothnagel, ’n klein dorpie rehabilitasiedeskundige van Aflead, 13 klein dorpies in Suid-Afrika waar sommige dinge goed gaan en ander minder goed. Die doel van hierdie program is om te fokus op samewerking en dialoog, spesifiek tussen verskeie belangegroepe in gekose dorpe. Tydens die eerste seisoen word kreatiewe inisiatiewe geïdentifisser, en die bestaan en ontwikkeling van ’n gedeelde visie vir sosio-ekonomiese ontwikkeling in ‘’n plaaslike gebied word geondersoek. Rian en Emiel sal probeer bepaal watter impak hierdie gebiede en inisiatiewe op armoede-verligting en gesonde plaaslike bestuur het, om uiteindelik kennis tussen dorpe deel.

Glam Guru
Begin Sondag 1 April om 17:30

Met Hannon Bothma as aanbieder

In die splinternuwe seisoen van Glam Guru ontmoet ons elke kandidaat by haar huis of werk, en probeer vasstel hoekom sy op ’n voorkomskruispad staan. In die moderne Glam Guru-ateljee beplan Hannon in elke episode ’n voorkoms wat nie net ons kandidate se asems gaan wegslaan nie, maar wat prakties uitvoerbaar is met elkeen se unieke voorkomsuitdagings in gedagte, en wat dalk net moontlik hul lewens kan verander in die proses. Die Glam Guru-span is, soos altyd, daar met raad en daad én die nuutste produkte om die opwinding in die kandidate se lewens in te blaas. 

Safari 4x4 Roetes
Begin Maandag 2 April om 17:30

Met André de Villiers as aanbieder

In hierdie reeks pak 4 x 4-spesialis André de Villiers, sowel as hengel-spesialis Petri de Wet, hulle 4 x 4-bakkies, en reis deur Suid-Afrika opsoek na pragtige 4 x 4-roetes en kampplekke, waartydens die manne dan kamp, kuier en heerlike kos maak in die bos. André deel 4 x 4-wenke, en Perti hengel-wenke.

Die kontras tussen André wat altyd nog ’n ekstra hindernis wil ry, en Petri wat altyd kortpad wil ry om te gaan hengel, sorg vir heerlike vermaak. Tussen deur deel die manne wenke oor voertuig-voorbereiding en wat jy alles nodig het om ’n suksesvolle safari te geniet.

La’t Wiel
Begin Dinsdag 3 April om 17:30

Met Waldo de Waal en Hannes Visser as aanbieders

Hannes en Waldo keer terug vir nog ’n opwindende seisoen van La’t Wiel. Ons kuier agter die skerms by die Dakar Rally, pak die langpad aan in ’n Land Cruiser 200, en gaan loer in by die SA Motor van die Jaar-beoordeling.

Oudergewoonte ry ons die nuutste en luukste in motorvoertuie, wat onder meer die BMW 220i en Audi TT-RS insluit, en ons besoek die bekendstelling van die nuwe Toyota Yaris.

Hierdie seisoen is propvol adrenalien en stories, en gee jou ’n weeklikse dosis van alles wat jy oor voertuie moet weet!

Kampkos
Begin Donderdag 5 April om 17:30

Met John-Henry en Beaté Opperman as aanbieders

Kampkos is terug vir nóg ’n smullekker kuier! In die nuwe seisoen kook en kuier die span weer by van die mees gewildste ATKV-oorde regoor Suid- Afrika en sy pragskoon landskappe.

Soos oudergewoonte kuier hulle in dié seisoen saam met bekende persoonlikhede soos Refentse, Eden Claasen, Leah, Leanie May en Joshua na die Reën, en stel ook ’n hele rits nuwelinge aan die land bekend. Heerlike resepte en goeie geselskap is waaroor dit gaan – bak en braai op sy beste!

VeranderDinge
Begin Donderdag 5 April om 18:00

Met Amore Bekker en Eloïse Cupido as aanbieders

Amore Bekker en Eloïse Cupido gesels met bekende en interessante mense oor die grootskuiwe in hul lewens.

Kunsvlyt 2
Begin Vrydag 6 April om 18:00

Met Michelle Holtzhausen as aanbieder

Dis tyd om te eksperimenteer, uit die boks te dink en wild oor die lyne in te kleur! Kunsvlyt 2 het tien nuwe kunsvlyters wat hul kreatiwiteit moet inspan om met elke probeerslag met ’n nuwe unieke skepping vorendag te kom! Daar is ook heelwat nuwe kinkels in die uitdagings wat gaan sorg vir groot pret, so tussendeur die kompetisie.

Kry jou Suidooster-fix vyf dae ‘n week!
Vanaf Maandag 2 April weeksdae om 18:00

Suidooster kry ’n vyfde episode per week in Apri! Dit beteken dat die Samsodiens, Octobers, Du Plooys, Gerbers, Daniels-broers en die res van Ruiterbosch se inwoners uiteindelik elke weeksdag in Suid-Afrikaanse sitkamers gaan kuier. Die bykomende episode sal vir die eerste keer op Vrydag 6 April 2018 uitgesaai word en soos die huidige episodes van Suidooster sal die vyfde episode se premiumtydsgleuf ook 18:30 op kykNET en kykNET&kie wees.
 

Flieks vir oud en jonk:


Nul is nie Niks nie
Saterdag 7 April om 20:30

Hoender word onverwags vriende met die nuwe buurseun, Drikus Ferreira. Hy ly aan Hodgkins se siekte, en sy laaste droom is om ’n zombiefliek te maak.

Hoender, die rissiepit Chris (Hoender se droommeisie) en Drikus vorm vinnig ’n hegte band. Die fliekspannetjie ontsnap saam van hulle daaglikse eentonige lewens en bekommer hulle nie meer oor skoolboelies, Drikus, se oorbeskermende ouers en Hoender se kluisenaar-ma nie.

Hoender moet diep delf – om seker te maak Drikus se fliek word wel voltooi moet hy opstaan vir dit wat reg is, gaan vir dit wat hy wil hê en nooit opgee in dit wat hy glo nie.

Drikus se fliek red die dooie gemeenskap en blaas weer nuwe lewe in die eens stil en verlate strate. Hoender se familie besef ook dat hulle nie meer in die verlede kan lewe nie. Die tyd om te lewe is nou!

“Nul is nie niks nie. Dis die middel. Dis halfpad tussen die positiewe en negatiewe getalle. Nul, is nie niks nie.” 

Jou Romeo
Saterdag 14 April om 21:00

In ’n sportmalskool is Yvette, Tyler en die dramabrigade ’n piepklein minderheid. Hulle het slegs een doel voor oë: om Romeo en Juliet in hul matriekjaar op die planke te bring. Die skoolhoof, meneer Kirby Potgieter, het egter ander planne en sny die kuns- en kultuurbegroting vir opgraderings aan die krieket-klubhuis.

Desperaat om kaartjies te verkoop om sodoende die vertoning te red, besluit Yvette en Tyler om die skool se sportheld en hartebreker, Marko Marais, te oortuig om die rol van Romeo te vertolk. Onverwagse romanse onstaan, maar leuens en ambisie laat Yvette wonder of Marko werklik haar Romeo kan wees.

Jagveld
Saterdag 21 April om 21:00

Emma le Roux is op pad huis toe — na die familieplaas in die Groot Karoo. Sy sien hoe die ses ’n polisieman skiet. En hulle sien vir haar. Nou jag hulle haar soos ’n dier in die Groot Karoo. Sy's mos maklike prooi. Dis gou-gou klaar.

Die probleem is, Emma is Jacques le Roux se kind. En Jacques le Roux was ’n recce. Dié jagtog wil nie volgens plan verloop nie. Dit ontrafel. Vinnig. Wat hulle dryf is nie meer haat of wraak nie: nou is dit oorlewing.

Paw Paw vir my Darling
Saterdag 28 April om 21:00

’n Pawpaw Vir My Darling is gebaseer op Jeanne Goosen se roman. Dié fliek is ’n greep uit die lewe van die Beeslaer-famile van Frik Du Preez, Straat 24, Damnville, wat afspeel in 2003, en hul lief en leed word gesien deur die oë van hul straatbrak, Tsjaka.

’n Pawpaw Vir My Darling is ’n verhaal van oorlewing in ’n uitsiglose bestaan, van humor en patos, van lief en leed, van vreugde en verlies, van hunkering, hoop en uiteindelike aanvaarding van ’n lewe sonder trimmings.
 

kykNET&kie, DStv-kanaal 145: 


Die Boland Moorde 2
Begin Sondag 14 April om 20:00 op kykNET&kie

Met Stian Bam, Brendon Daniels, Marlo Minnaar, Tinarie van Wyk-Loots, Ebby Weyime en Nicole Holm

In die tweede seisoen vat die twee baasspeurders van die Boland Ondersoekeenheid, luitenante André Fourie en Shane Williams, weer soos wafferse bloedhonde die spoor van verskeie raaiselagtige moorde.

Daar is ’n gedugte span wat André en Shane bystaan: Kolonel Khumalo is nou die hoof van dié eenheid, en Elise is die nuwe kantoorbestuurder wat vir André teen die mure uitdryf. Japie is steeds die slimkop IT-spesialis en Busi het oorgeneem as forensiese deskundige.

Ná Dok Le Roux se aftrede, het ’n nuwe patoloog by die span aangesluit – dr. Rachelle de Jager. Volgens Shane is sy “heeltemal te vrolik vir iemand wat met lyke werk”, maar sy laat André se hart warm klop.

Kry daai Lyf 2
Begin Maandag 9 April om 12:30 op kykNET&kie

Met Linda Kriel as aanbieder

Linda Kriel is terug om ons te help om die vetrolletjies af te skud. Daar is dieet-en gesondheidswenke, sowel as oefeninge vir mense van alle fiksheidsvlakke. Bekendes soos Cindy Swanepoel, Marco Spaumer en Heinz Winckler sluit tydens dié seisoen aan by Linda.

Kook en Geniet
Begin Donderdag 5 April om 20:00 op kykNET&kie

Met Lize Swart as aanbieder

Kook en Geniet beklee al vir dekades lank ’n spesiale plek in baie Suid-Afrikaanse huishoudings en kombuise. Dié reeks word ingelei deur die verhaal van mevrou SJA de Villiers om die geskiedenis van die boek te vertel. Aanbieder Lise Swart voer onderhoude met haar dogters, Eunice en Heleen.

Mooimaak 
Begin Donderdag 5 April om 21:00 op kykNET&kie
Met Clare Wiese-Wentzel as aanbieder

Mooimaak met Clare Wiese-Wentzel is ’n werklikheidsreeks met die fokus op radikale transformasies wat enigeen mooier sal laat lyk en voel – van binne en buite. Elke week sal kykers die mooimaak-pad saam met Clare en een van die deelnemers stap. Só kan almal deel in die bederf. Dit sluit in die nuutste en beste nie-chirurgiese skoonheidsbehandelings, estetiese tandheelkunde, ontwerpersuitrustings, splinternuwe haarstyle en toonaangewende grimeerwenke.

Phil 101
Begin Saterdag 7 April om 19:30 op kykNET&kie

Phil 101 is ’n komedie wat die doen en late van ’n eens glorieryke Filosofie-departement, by die Sentrale Universiteit van Suid-Afrika (SUSA), van nader af bekyk. Ons volg die storie van Phillip Coetzee, ’n idealistiese maar sosiaal onaangepaste jong professor, wat aan die diepkant ingegooi word wanneer hy as die hoof van die departement Filosofie aangestel word.
 

kykNET NOU!, DStv-kanaal 146: 



Gospel Skouspel 2016
Sondag 1 April om 14:00 op kykNET NOU!

Die room van ons land se gospelkunstenaars deel die verhoog onder leiding van Matthys Maree en sy uiters bekwame musikante. Kunstenaars wat optree sluit onder andere Rouchelle Liedemann, Retief Burger, Loyiso, Neville D, Juanita du Plessis en Joe Niemand in.

Gospel Skouspel 2017
Maandag 2 April om 19:30 op kykNET NOU!

Gospel Skouspel is wêreldklas vermaak én musiek met ’n boodskap vir oud en jonk. Elvis Blue, Heinz Winckler en Joshua na die Reën is net van die kunstenaars wat aan dié skouspel deelneem.