Logo
Suidooster TX change Slim BB
web uni tv guide

Suidooster

144Drama13

Suidooster: Desiré keer terug

Nuus
19 Desember 2016
Desiré Gardner is weer hard aan die werk en het pas weer by Suidooster ingeval nadat sy op 18 Julie geboorte aan ’n dogtertjie, Robin, geskenk het.

Desiré Gardner is weer hard aan die werk en het pas weer by Suidooster ingeval nadat sy op 18 Julie geboorte aan ’n dogtertjie, Robin, geskenk het. Robin is Desiré en haar man, Chris, se tweede kind. Hulle het ook ’n seuntjie, James (5).

Hoe was dit om vir maande nie toneel te speel nie?

Ek mis dit baie as ek nie toneelspel doen nie, maar ek het darem ’n goeie rede gehad met die koms van die wonderlike Robin in my en Chris se lewens! Maar om ’n aktrise te wees is meer as net ’n werk vir my, want dit is ook deel van wie ek is. Ek was darem gelukkig genoeg om te kan skryf en subtitels te doen en dít voer my liefde vir stories vertel.

Wat het jy die meeste van Suidooster gemis?

Ai, ’n mens mis die kameraadskap en die mense, want almal is net wonderlik en vriendelik. Dis darem mens se ander familie! En natuurlik die feit dat iemand elke oggend my grimering en hare doen.

Wanneer gaan ons vir Carmen dan weer vir die eerste keer op skerm sien en wat kan ons verwag?

Wel, kykers gaan ongelukkig nog ’n ruk moet wag, want Carmen daag eers op in Ruiterbosch op Donderdag 2 Maart. Ek het op 8 Desember by Suidooster ingeval om dié tonele te skiet en die goeie nuus is dat Carmen nou gaan nesskop in Ruiterbosch. Bianca, wat haar aagenome suster is, is immers swanger en sy sal natuurlik haar ondersteun. Dan is daar ook ’n paar onafgehandelde sake tussen haar en Jerome…

Behalwe vir Suidooster, waarmee is jy nóg besig?

Ek is baie opgewonde om my eenvrouvertoning, Magda Louw, by die Woordfees in Stellenbosch in Maart te doen. Magda Louw is ’n middeljarige dame wat die ginekoloog besoek en die ongemaklike oomblikke ervaar wat vroue baiekeer met so ’n ondersoek deurmaak. Sy gaan deur die ongemak van nie weet watter kant toe om die japon aan te trek nie tot om geselsies in die wagkamer aan te knoop met vreemdelinge. Dis ’n komedie, maar kyk ook na die eensaamheid van oudword en die harde realiteit dat die jare ons almal uiteindelik inhaal.

Hoe gaan dit met James en sy kleinsus, Robin?

Dit gaan regtig goed met dié twee en hulle is hul ma en pa se alles! Deur al die malligheid van doeke, kosblikke en ’n deurmekaar huis, kan ek nie vir meer in my lewe vra nie.