Logo

Silwerskermfees 2017: Vertel jou storie só

Nuus
20 Februarie 2017
Inskrywings vir die Silwerskermfees 2017 is nóú oop. Is jy ’n aspirante filmmaker of draaiboekskrywer? Dan is dit nóú die kans om jou droom ’n werklikheid te maak.
Silwerskermfees

Is jy ’n aspirante filmmaker of draaiboekskrywer? Brand jy om jou storie te vertel, of het jy dalk reeds ’n bestaande kortfilm, dokumentêr of selfs ’n eksperimentele stuk, soos ’n musiekvideo, wat reeds voltooi is? Is jy dalk die toekomstige ikoon vir Suid-Afrikaanse fliekvlooie? Dan is dit nóú die kans om jou droom ’n werklikheid te maak met die Silwerskermfees 2017, in samewerking met kykNET.

Die Silwerskermfees, ’n jaarlikse instelling wat later vanjaar weer deur kykNET in Kampsbaai aangebied word, beoog om die Suid-Afrikaanse filmbedryf, wat dokumentêre rolprente en kortfilms insluit, die platform te gee wat dit toekom.

Kom spandeer vier dae in Kaapstad en skuur skouers met ander rolspelers in die bedryf, en wie weet – dalk draai jóú film later vanjaar op die silwerdoeke!

Skryf hier in.

Kortfilms:

Inskrywings vir kortfilms sluit op 15 Maart 2017, en die inskrywingsfooi beloop R250.00 per inskrywing. Onder hierdie kategorie is daar verder twee subkategorieë waaronder jy die konsep vir jou storie kan indien, naamlik kortfilm of kort-kortfilm. Laai die bepalings en voorwaardes hier af.

Hoe om in te skryf:

• Registreer op die Silwerskermfees-webblad
• Kies ’n kategorie waaronder jy wil inskryf
• Voltooi die aansoekvorm
• Laai jou konsep elektronies op die inskrywingsvorm
• Betaal die inskrywingsfooi en dien in

Keuring:

Kortfilms:
Konsepte vir kortfilms moet tussen 250 en 300 woorde lank wees. Die konsep wat ingedien word dien sleg as ’n sinopsis van die storie wat jy wil vertel. Sou jou konsep vir die kortfilm-kategorie goedgekeur word, sal jy R160 000 ontvang om jou konsep verder te omskep in ’n film van 20 tot 22 minute lank.

Kort-kortfilms:
Konsepte vir kort-kortfilms moet tussen 200 en 250 woorde wees. Die konsep wat ingedien word dien sleg as ’n sinopsis van die storie wat jy wil vertel. Sou jou konsep vir die kort-kortfilm-kategorie goedgekeur word, sal jy R80 000 ontvang om jou konsep verder te omskep in ’n film van 10 tot 12 minute lank.

Tydlyn:

Die top-40 sal teen 30 Maart 2017 in kennis gestel word. Indien jou konsep goedgekeur word, moet jy teen 4 April vir ons die eerste vyf bladsye van die teks inhandig, sowel as ’n volledige begroting wat aandui hoe jy die geld gaan spandeer.

Die top-30 sal teen 11 April 2017 in kennis gestel word. Sou jy onder die top-30 wees, sal jy teen 1 Mei 2017 ’n volledige teks moet inhandig, met behulp en leiding van ’n Silwerskermfees-mentor en ’n teks-werkswinkel.

Die top-20 wat gekies word om hul films verder te ontwikkel sal teen 12 Mei 2017 in kennis gestel word, en die produksie en vervaardiging van jou film sal plaasvind in die daaropvolgende agt weke.

Bestaande werke:

Inskrywings vir bestaande werke sluit op 28 April 2017, en die inskrywingsfooi beloop R250.00 per inskrywing. Laai die bepalings en voorwaardes hier af.

Onder hierdie kategorie is daar verder drie subkategorieë waaronder jy jou film kan indien, naamlik kortfilm, dokumentêr of selfs ’n eksperimentele stuk.

Hoe om in te skryf:

• Registreer op die Silwerskermfees-webblad
• Voltooi die aansoekvorm volledig
• Laai jou film elektronies op jou aansoekvorm – let wel dat video’s groter as 500 MB nie aanvaar word nie. Indien jou film te lank is, kan jy slegs ’n gedeelte daarvan oplaai of selfs net die lokprent
• Betaal die inskrywingsfooi en dien in

Keuring:

Eienaars van werke wat goedgekeur word, sal ’n standaard lisensiërings-ooreenkoms met M-Net sluit vir die vertoning daarvan tydens die Silwerskermfees. Alle intellektuele eiendomsregte, insluitend maar nie beperk tot die kopiereg van die prente en die verkose voorleggings, sal steeds aan die vervaardiger behoort, maar sal verniet vertoon kan word tydens die fees mits die vervaardiger die ooreenkoms onderteken.

Indien daar regte aan meer as een party behoort, is dit die persoon wat inskryf se verantwoordelikheid om bevestiging, nodige toestemming en vrywaring te ontvang van die ander partye alvorens die inskrywing plaasvind.

Alle films wat in ’n ander taal as Engels is, moet Engelse subtitels hê.

Tydlyn:

Die besluit oor die hoeveelheid werke wat onder dié kategorie goedgekeur word, berus uitsluitlik by M-Net. Die goedgekeurde werk sal op 15 Julie 2017 op die kykNET-webblad aangekondig word, en betrokke partye sal per e-pos in kennis gestel word. Sou jou werk gekeur word vir die Silwerskermfees 2017, sal jy die werk, sowel as die volgende, aan M-Net moet lewer:

• Die formaat waarin dit gelewer moet word: HD 16x9 (1920 x 1080. Apple ProRes: 422HQ)
• ’n Lokprent
• ’n Plakkaat
• Foto’s van die akteurs