Logo

Silwerskermfees 2017: Vanjaar se kortfilms

Nuus
14 Junie 2017
Die kortfilms wat by vanjaar se Silwerskermfees gewys sal word is pas bekendgemaak!
Silwerskermfees

Die Silwerskermfees, ’n jaarlikse instelling wat vanjaar vanaf 23 tot 26 Augustus by The Bay Hotel in Kampsbaai deur kykNET aangebied word, beoog om die Suid-Afrikaanse filmbedryf die platform te gee wat dit toekom.

Vanjaar word daar vir die eerste keer nie net 10 kortfilms van 24 minute elk gewys nie, maar ook 11 kort-kortfilms van 12 minute elk. Hier is die films:

 

Kort-kortfilms:

 

36DDD
Almal soek skoor met Murcia. Murcia soek net haar snacks en soapies. Maar wanneer twee skollies met Murcia mors, verander die prooi in ’n toevaligge jagter, geklee in ’n gehekelde onesie. Alles wat Murcia nog altyd swak gemaak het, gee haar die edge om te oorleef. Met onder andere Chanelle Davids en Gershwin Mias.

Luister
Luister is die verhaal van ’n pianis. Dit beeld die daaglikse roetine van ’n meisie se lewe binne die mure van die konservatorium uit. Ons volg haar deur leë dae in vaal oefenkamers sonder iemand om die stilte mee te deel. Met Emma van Heyn as hoofkarakter.

Skerm
’n Man sluit homself toe in ’n ivoortoring van virtuele realiteit. Die aanlyn-illusie word sy daaglikse wêreld; hy verlustig homself in sy selfgemaakte status. Vriende word verdigsels en gesprekke is eenrigting. Sosiale media maak van ons almal anonieme voyeurs wat in glashuise woon. Is jou wêreld werklik of maak jy dit net op? Is die skrif aan die muur – of is dit alles in jou kop? Met onder andere Tim Theron en Amalia Uys.

Vlugtig
Simon en Chantel is in ’n kar saam met die bekende regisseur Andreas Vog. Hulle is op pad na sy huis vir die amptelike repetisie van sy nuutste toneelstuk – Vlugtig. Met hul aankoms by die houthuisie in die berg waar die mis hul ontvang, is albei hoofkarakters baie opgewonde en skaam. Tussen lang nagte en koue dae spandeer die drie baie tyd aan die toneelstuk. Dinge raak vreemd wanneer niemand meer weet wat Andreas se visie is nie, en konflik ontwikkel tussen die drie weens duidelike verskille, gevoelens en kompetisie. Met onder andere Mila Guy.

Die Kuur
Renier het ’n groot verlies gely en verloor sin in die lewe. Die pyn van hierdie terugslag tref hom soos ’n bloedgolf, en hy voer ’n stryd om kop bo water te hou. Hy probeer verbete vaskleef aan die verlede en aan sy herinneringe voor die tragedie. Hy soek na antwoorde en ’n manier om die angs in sy onstuimige gemoed te kalmeer. Die soektog neem hom op ’n pad waar hy weifel tussen die bewuste en onbewuste, werklikheid en die droombeelde van die psige. Sal Renier ’n kuur vind in hierdie reistog na sy Self? Die rolverdeling sluit in Zak Hendrikz en Megan Victor-Carelse.

Ek en Myselfie
Anja en Charmone is twee tipiese millennials, vasgevang in die druk en spoed van ons tegnologiese wêreld. Hulle het ’n skaamtelose selfbeheptheid met voorkoms en die vals beeld wat jy maklik met sosiale media kan opbou. So baie tyd word bestee aan posts, comments en likes, dat hulle eerder die kliek van ’n muis en dating apps gebruik as om die regte lewe te trotseer. Charmoné verstaan nie hoekom sy die verkeerde tipe mans uitlok nie. Anja se poging om die perfekte sexy selfie te neem, eindig rampspoedig. Met Zetske van Pletzen en Carien Botha.

Voor ek val
’n Vrou wag vir haar eks-minnaar en sy nuwe minnares in hulle hotelkamer. Sy wend ’n laaste, wanhopige poging aan om hom terug te wen, maar hy verwerp en verneder haar. Seergemaak en emosioneel onstabiel dreig sy om sy lewe te verwoes. Haar wraak word haar liefdesgebaar, en haar obsessie en liefde vir hom lei tot tragiese nagevolge vir hulle albei. Met onder andere Antoinette Louw.

Venster
Lia, ’n droomverlore sesjarige, se ma, Michelle, sukkel om perspektief te behou nadat sy die pa, Daniël, verbied het om vir Lia te sien weens sy dwelmprobleem. Omstandighede stuur klein Lia se verbeelding op ’n dwaalspoor wat lewensgevaarlike situasies uitlok. Michelle kom tot stilstand voor ’n kruispad waar sy ’n moeilike besluit moet neem; wie se welstand neem sy op die einde in ag? Met Milan Murray in die hoofrol.

Langsaan
Dis 1976. Die kind leef in ’n wêreld wat sy verbeeldingryk vir haarself skep buite die werklikheid van ouers wat verbete werk aan ’n toekoms of die terreur van die land waarvandaan die gesin pas teruggekeer het. ’n Deel van hierdie ryk wêreld lê langsaan, waar haar oupa en ouma woon en werk. Tussen haar speletjies en geliefde boeke leef ’n stil droom diep binne haar. ’n Kind kan ’n droom verloor op haar eie voorstoep.

Wisseltrofee
Potties, Elsa en Anton kan gesien word as ’n kits-gesin. Potties en Elsa verskil amper 20 jaar, en Potties se welaf-status en reputasie as formidabele jagter was ’n groot aantrekkingskrag vir Elsa. Potties se ma, ouma Stoof, is al jare in ’n rolstoel gekluister met erge emfiseem. Elsa se seun uit ’n vorige huwelik, Anton, sukkel op skool en is gevaarlik oorgewig. Die aand van die partytjie vertel Potties weer sy legendariese storie oor hoe hy sy groot koedoe-trofee bekruip en afgemaai het. Hierdie aand draai egter onverwags donker en bisar uit wanneer ’n verrassende vyand van die verlede terugkom om bloedige wraak te neem. Met onder andere Cindy Swanepoel.

Versnel
Twee paramedici, Nadia en Mouton, jaag na hul hoeveelste pasiënt tydens ’n twaalfuur nagskof. Hulle kry vir Ronaldo wie ernstige steekwonde opgedoen het en behandel hom. Voor Nadia hom egter kan stabiliseer, word hulle deur boewe oorrompel. Die binnekant van die ambulans word geplunder en Nadia en Mouton word buite aangerand. Met onder andere Trix Vivier en Clayton Evertson.

 

Kortfilms:

 

Die Maan val Bewusteloos
Mia wil weet waar sy vandaan kom. Al wat sy ken is haar oupa en haar ouma, en die feeverhale waarmee hulle haar grootmaak. Sy word groot, begin al hoe meer vrae vra en moet haarself troos met die liefde wat hulle vir haar gee, want antwoorde kry sy nie. Wanneer tragedie tref moet nuwe bande geskep word om die pad vorentoe te stap. Die rolverdeling sluit in Luca Meyer-Rodenbeck, Cobus Rossouw, Carla Smit en Sandra Kotze.

Ek het jou gemaak
Gebaseer op Jan Rabie se ikoniese kortverhaal. Ingenieur Jacobs het sy vrou so lief gehad dat hy na haar dood ’n lewensgrootte beeld van haar gemaak het. Sy belangstelling in sy werk het so onrusbarend gekwyn dat die direkteure hom moes versoek om af te tree. Onverskillig daaroor gaan hy huis toe na sy swyende vrou. Bedags dwaal hy broeiend rond in die huis sonder lus om uit te gaan of sy ou vriende te besoek. Maar eendag, miskien omdat die lente buite die huis gefluister het – of omdat waansin oplaas daarin geslaag het om sigself agter ’n herwonne bedrywigheid te versteek – begin hy ’n robot bou om die stilte te verdryf. Met onder andere Jaco Bouwer en Abduragman Adams.

Slaaf
Die liefde is die grootste verslawing. Vir Gregory was dit nie anders nie. Uit keuse, verslaaf aan die liefde van sy lewe, het hy ’n middelklasbestaan voor hom gehad. Hy was gelukkig daarmee. Drie jaar later is hy ver verwyder van die toekoms in Bloemfontein waarvan hy eens gedroom het. Om weg te kom van sy ontnugtering het hy ’n nuwe begin in Kaapstad gaan soek. Wat eers ’n ontvlugting was van dit wat sy drome aan skerwe gelaat het, het stelselmatig, maar spoedig, ’n nuwe verslawing geraak. Sy tweede liefde. Heroïne. Met onder andere Carel Nel.

Soldaat
Op ’n dag in die skoolvakansie sien twee jong seuns ’n gesprek tussen ’n polisie-offisier en ’n berugte dwelmhandelaar. Maar hulle word gevang en is dadelike vasgebind in die gangster se kloue. Van daardie oomblik is hulle sý soldaatjies. Hul eerste missie: om ’n dwelmpakkie te gaan haal. Met onder andere Elton Landrew.

Die Man met die Snor
Gewere, aksie, avontuur. Stahlwolf, die 80’s TV-reeks is alles wat middeljarige Francois droom om te beleef. Teen sy vrou se wense trek hy elke jaar aan as Kurt Stahl van Stahlwolf na die werk se jaareindfunksie, maar nooit herken iemand hom nie. Dis belaglik; natuurlik lyk hy soos Kurt Stahl, veral sy snor… Om sy vervelige lewe te ontsnap besluit hy om sy eie episode te maak van Stahlwolf, waarin hy self as Kurt Stahl gaan speel. Met onder andere Karin van der Laag.

Vossie vergas homself
Vossie is depressief. Die lewe het hom al ’n paar harde klappe gegee. Dus besluit hy om sy kar in ’n verlate veld te parkeer en ’n einde aan sy lewe te bring. Vossie sit bedroef in sy motor en berei homself voor vir die dood toe hy ’n klop aan sy ruit hoor. Hy sien die eksentrieke Antie daar staan, en hierdie vrou het planne van haar eie. Met Tobie Cronje en June Van Merch.

Vrekfontein
Vir die afgelope dertig jaar is Valk Volschenk die mans-enkelspel tenniskampioen op Vrekfontein. Wel, tegnies gesproke is hy ook die enigste tennisspeler op die dorp sedert daardie omstrede 1984-finaal teen sy aardsvyand, Kroepjan Brand. Wanneer ’n ambisieuse dokumentêre filmmaker sy verskyning op die dorp maak, word ou geraamtes en nuwe gevare oopgekrap. Met onder andere André Roothman en Deon Lotz.

Skoon
Obsessief-kompulsiewe versteuring (OKV) manifisteer soms in meer as net hande was of teëltjies tel. Die kompulsies van hierdie belemmerende angsversteuring kom in baie gedaantes, soms gevaarlik. Louis, ’n jong mondhigiënis en OKV lyer, het geen beheer oor sy obsessies nie. Hy wil skoonmaak waar hy nie mag nie. Met Jenna Dunster in die hoofrol.

Soos Gister
Susan word een oggend wakker en besef sy het die grootste fout van haar lewe gemaak. Haar lewe is besig om in duie te stort, en dit is alles haar skuld. Sy en haar vriendin, Christelle, beraam ’n plan om dinge terug te kry soos dit was. Hulle oorreed vir Ludowickus, ’n man met die vermoë om te kan tydsreis, om hulle terug te vat na daardie aand toe al die verkeerde besluite gemaak is. Om die verlede te verander is egter nie so eenvoudig nie en daar is soms onverwagse gevolge. Met onder andere Ilana Cilliers en Cintaine Schutte.

Die Onderspit
As Uncle Bob dood neerslaan van emfiseem op pad na sy padjieswinkel in Parow een môre, dink Basie, Bob se skoonseun, sy kans het gekom. Terwyl sy vrou Moira treur, beplan Basie solank om saam met sy lover, Girlie, met die erfporsie te ontvlug. Die twee en Girlie se broer, Apie, ontmoet by die Harlequin, hul drinkplek, en beplan daar om vir Moira van die gras af te maak in ’n manier wat nie verdag lyk nie. Maar Girlie en Apie is desperaat. Hulle het hul eie planne met die geld en is reg vir vuilspeel. Met onder andere Karli Heine.

Hou ons webblad dop vir meer oor vanjaar se Silwerskermfees.