Logo

Shoki delf in emosionele terrein vir Sink

Nuus
24 Februarie 2016
Shoki Mokgapa, wat die rol van Rachel in Sink vertolk, se menslikheid eggo in dié fliek. Sy gesels oor die uitdaging.
Sink Shoki

Shoki Mokgapa, wat die rol van Rachel in Sink vertolk, se menslikheid eggo in dié fliek. Sy gesels oor die uitdaging, haar karakter en mede-akteurs.

Lees meer oor Sink en kyk die lokprent hier.

Klik hier vir ’n  agter-die-skerms-video.

Waarom het jy die projek onweerstaanbaar gevind?

Die wonderlike draaiboek het dadelik my aandag getrek. Ek dink die meeste akteurs is uitgehonger vir werklike goeie draaiboeke en wanneer een oor jou pad kom wat intelligent, weldeurdag en dapper is, gryp jy dit met albei hande aan.

Hoe het jy vir jou rol voorberei?

Ek delf gewoonlik eers in myself en kyk dan waar die karakter wat ek moet speel haarself emosioneel bevind, om te sien hoe dit by my aanklank vind. Nog ’n element van voorbereiding wat ek met hierdie projek besonder nuttig gevind het, was om tyd saam met vroue deur te bring wat soortgelyke ervarings as my karakter, Rachel, gehad het.

Ek dink die kern van enige storie wat oor migrasie en armoede handel, is die werklike mense wat graag vir hulself en hul gesinne ’n beter lewe wil hê, maar ook met waardigheid wil lewe. Ek dink graag aan myself as ’n waarnemer van menslike ervarings en ek glo ook dat as jy iemand se lewe regtig verstaan, jy vir die persoon kan lief word.

Hierdie siening het nog altyd gesorg dat ek nie enigiets wat my karakter doen, veroordeel nie – wat beteken dat ek waarde aan die rol kan toevoeg en dat dit ’n sekere vlak van menslikheid aan my toneelspel verleen.

Hoe was dit om saam met Brett te werk?

Ek was vreeslik bang om saam met Brett te werk, hoofsaaklik omdat ek hom al ’n geruime tyd ken. Met Sink het hy iets geskryf wat net as manjifiek beskryf kan word en ek was beangs dat ek dit kan opmors. Hy was ’n wonderlike regisseur, omdat hy die akteurs die ruimte gegun het om dinge uit te probeer. Hy het ons ten volle vertrou – en ek moet byvoeg, dit is besonder dapper van hom. Wanneer ons egter oor iets getwyfel het, het hy ons met ’n ferm hand in die regte rigting gestuur, wat natuurlik ’n kenmerk van ’n goeie leier is.



Hoe was dit om saam met Anel te werk?

Dit was ’n ongelooflike ervaring. Ek kon net met verwondering kyk en leer. Sy is vreeslik gefokus as ’n akteur sowel as vervaardiger en die gemak waarmee sy tussen die twee rolle beweeg het, het my asem weggeslaan. Ek bewonder haar nie net omdat sy ’n sterk vrou is nie, maar omdat sy werklik ’n baanbreker in eie reg is wat veranderinge teweegbring in die landskap van hoe rolprente gemaak word.



Hoe was dit om saam met Jacques te werk?

Jacques is een van die vrygewigste akteurs waarmee ek nog ooit die eer gehad het om mee saam te werk. Hy was altyd beskikbaar en “dáár” vir ons, wat my veilig laat voel het. Ek dink hierdie vertroue het ons toegelaat om wat ookal vir ’n toneel nodig was, op te diep.

Hoe was dit om saam met Asante te werk?

Wanneer ons met ’n toneel moes begin, kon ’n mens duidelik sien hoe Asante “aanskakel”. Soms het ek heeltemal vergeet dat sy net vyf jaar oud is – só volwasse het sy opgetree. Om die waarheid te sê, omdat sy so volwasse is, het ek soms met haar gestry soos wat ek met ’n grootmens sal stry en dan moes ek myself daaraan herinner dat sy net ’n kind is. Wat meer kan ek sê? Ek haal my hoed vir haar af! Sy was net ongelooflik.

’n Onvergeetlike oomblik op stel…

Die reëntoneel wat ons aan die begin van die winter verfilm het. Ek en Anel het op die baksteentjies van die oprit gestaan. Die nagemaakte reën het op ons neergestort en om te sê dat dit yskoud was, verduidelik hoegenaamd nie die hel waardeur ons moes gaan nie. Ek onthou dat ek na Anel gekyk het en gesê het: “Wat op aarde doen ons?” Dit was 2 uur op ’n Woensdag en die koue reën het op ons bly neerstort.

Ek was baie seker dat ons besig was om hipotermie op te doen en ek het desperaat probeer om nie te hiperventileer nie, omdat ek my dialoog so natuurlik moontlik moes hou. En om alles te kroon, het Brett aanhoudend gevra dat ons sagter moet praat omdat ek en Anel vir mekaar geskree het om ons hoorbaar bo die geluid van die reën te maak.



Waarom moet gehore na Sink gaan kyk?


In die lig van die onlangse xenofobiese aanvalle in baie stede en lande is dit altyd belangrik om te onthou dat daar mense agter die media-opskrifte is – mense wie se lewens in ’n oogwink onherroeplik verander het en wat probeer sin maak van onsinnige optrede. Die rolprent verken xenofobie op verskillende maniere en omdat dit ons almal as Suid-Afrikaners raak, is dit die moeite werd om ’n voorbeeld te volg van hoe ons die situasie kan hanteer.

Sink begin op 18 Maart in teaters draai.

Vir die jongste nuus oor kykNET-flieks, klik hier.